KARIN PRETORIUS skryf verder: SO land ons die volgende dag in Florence en neem afskeid van Francesco. Ons was skielik op ons eie.
Die Boek se staproete vir vier dae in die stad is oopgevou en die heel eerste besoek is by die Akademie-gallery, neffens die Arnorivier – en ons bevind ons aan die voete van die majestueuse Dawidbeeld van Michelangelo.
En so het ons ryloopdae vir ses maande deur Europa aangebreek – stap vir stap, dag vir dag, plek na plek, opwinding na opwinding, ondervinding op ondervinding. Belangrikste van alles: duim vir duim!
In die omswerwinge het ons tien veerbote na interessant plekke meegemaak: Van die “white cliffs of Dover” in Brittanje na Calais in Frankryk; van Napels aan die weskus van Italië na Capri aan die pragtige Amalfi-kus; Brindisi aan Italië se ooskus tot by die eiland Korfu, aan die Griekse weskus; ná Korfu volg Patras in Suid-Griekeland wat ʼn heerlike en ontspanne daglank rit was om sodoende plekke soos onder meer Olympia, Tripoli, Korinthe, Athene en Delphi te bereik; by Kavala, sowat 100 myl noord van Thessaloniki, op die veerboot oor na die noordelike eiland Thásos aan die Griekse kus; van Istanbul in Turkye oor die Bosporus-seestraat na Klein-Asië; ook van Istanbul na die Prinseseilande daarnaas in die See van Marmara; by Valencia op die Spaanse ooskus na die eiland Majorka; van Algeciras in die suide van Spanje by die rots van Gibraltar met die veerboot oor na Ceuta in Spaans-Marokko in Noord-Afrika; en laastens huiswaarts vanaf Oostende in België oor die Engelse kanaal terug na Dover.
Uitstaande herinneringe op ons roetes: op pad na Den Haag het ʼn luukse-swart Mercedes ons ʼn rit aangebied en ʼn lekker gesprek met die bestuurder, wat geblyk het ʼn inspekteur van paaie te wees, het in Hollands en Afrikaanse gevolg.
As 'n verrassing stop hy by die lughawe en die volgende minuut skuif hy agter die stuur van sy eie ligte vliegtuig in en bied ons ʼn asemrowende vlug oor Holland! Die slegste twee ritte was een daarvan op Capri met ʼn viswa en moes ons die aand skrop om van die reuk aan ons klere ontslae te raak,
Die ander een was agterop ʼn groot groentetrok op pad na Athene waar ons by die mark saam met blomkoolkoppe in houtkratte beland het.
Ons rugsakke moes so lig as moontlik wees, maar in Venesië, by Murano se glasfabriek, kon ek nie diepragtige klein borsbeeld van ʼn madonna in ligpers deursigtige glas weerstaan nie, ʼn besonderse geskenk vir my ma – vyf lb. in gewig. Madonna het duisende myle saam in my rugsak deurgebring terug na Londen, ek het haar veilig in Pretoria besorg en toe my mammie in 2009 oorlede is, het sy saam met my Kaap toe gereis. ʼn Kosbare stukkie herinnering.
Regs: Madonna van Murano se glasfabriek in Venesië wat 10 000 myl in myrugsak gereis het as geskenk vir Ma in Pretoria.
Op die Spaanse eiland Majorka het ons die klooster by Valldemossa besoek waar Frédéric Chopin saam met sy geliefde George Sand ʼn wyle vertoef het. Die klavier waarop hy heelwat Preludes asook sy bekendste Polonaise gekomponeer het, word steeds hier vertoon.
Terwyl die Dawidbeeld in Florence verrassend hoog bokant ons uitgetoring het, was ʼn groter verrassing die kleine Mona Lisa van Leonardo da Vinci in die Louvremuseum in Parys – ʼn skilderytjie van slegs sowat 30” x 20” in ʼn ruim vertrek daar vér teen die muur.
ʼn Opwindende aand in Joego-Slawië was by Llubljana waar die weer so wonderlik was langs die meer van Bled dat daar en dan besuit is om onder ʼn groot bos uit te kamp en onder die sterrehemel in slaapsakke deur te bring. ʼn Heerlike ondervinding met vroegoggend koffie op die stofie.Links: Student Dimitra nooi ons na haar ouerhuis in Athene vir heerlike Griekse tuisgebak.
By die dorpie Olympia is die ou Olimpiese stadion wat uit 776 v. C. dateer nog te sien. So ewe waaghalsig is “Olimpiese fakkels” uit programme gemaak en met ʼn lourierkransie van blare op die kop is daar soos wafferse atlete rondgedraf, totdat die gidse ons gewaarsku het om die lawwigheid te staak want ons ontstel die gode!
Mede-rylopers by al die jeughostelle het vertel dat 'n mens by die hospitaal in die hoofstad Sofia in Bulgarye, bloed kon skenk met ʼn vergoeding van £5 daarvoor.Regs: Ryloop in Duitsland en Brenda hang sommer aan “Lyon”.
Ek en Brenda het ons reggemaak vir hierdie meevallertjie, onsself ʼn skaars uiteet gegun met ʼn heerlike biefstuk en allerlei bykosse wat ʼn goeie bloedtelling die volgende dag sou verseker, het ons geglo.
By die hospitaal aangekom word verneem dat dit ʼn openbare vakansiedag is en die bloedskenkafdeling vir die dag gesluit is! Ons kon nie wag nie, ons moes aanbeweeg.
ʼn Groot verleentheid vir ons, asook vir vriende by die SA konsulaat in Milaan was die aand toe hulle ons nooi na ʼn opera in die La Scala-teater met sy wynrooi fluweel gordyne, balkonne met goue versiersels en skitterende glas kroonkandelare.
Die beste wat ons kon aantrek was verkreukelde rokkies uit ons rugsakke, met plakkiessandale! Ons het ons maar skaars en eenkant gehou totdat die ligte uitgedoof het en ons sitplek kon inneem.
Links:Waarheen nou? Dis alles Grieks.
Vreugde was toe ek met die skryf van hierdie storie my opgevoude landkaart van Europa ontdek waarop ek sorgvuldig saans ons roete met ʼn pen ingekleur en die afstand aangeteken het. Dit het my geheue verfris – die reis was darem 54 jaar gelede!
Karin op die Groot Afsluitdijk, Noord-Holland, die verste Noord wat ons gereis het. |
(Wie het nog sulke gawe avonture om met K’rant se lesers te deel? Ons kan nie wag nie. – Red.)