HANLIE VORNBERG skryf: TOE ek destyds, twee-weekliks vir Rooi Rose my rubriek, Doodluiters, geskryf het, het Martie Snyman my ʼn vrye hand gegee en kon ek meestal self kies waaroor ek wou berig. Net soms het sy van haar kant af ʼn voorstel vir ʼn moontlike tema gemaak.
Op ʼn dag het sy my na haar kantoor toe geroep en gesê: “Jy kom mos van die Kaap af, so skryf vir ons volgende keer iets oor die see.” Ons het groot respek vir Martie Snyman gehad. Was selfs ʼn fraksie bang vir haar. As sy met daardie blink olyfswart oë van haar vir jou gekyk het, het jy mooi geluister en reg getrap.
Ek sou vir Martie ʼn seestorie moes gaan uitdink. Elkeen in die Kaap wat langs die see groot geword het, het 'n strandstorie om te vertel. My storie was dié een oor Makassie.
Makassie het in ʼn grot by die see gewoon. Met hoogwater het die see die grot, soos ʼn ou kasteel, reg rondom toegestoot, maar diep binne-in die grothart, waar Makassie elke aand sy lê gekry het, het die water nie gekom nie. Hy het geglo aan die gewaande veiligheid van die grot.Met laagwater het die see heeltemal teruggetrek en was die sand voor die grotmond oop en blink. Dan het Makassie op die klam grond uitgestap, soms tot waar die baaiers hulle genotvol deur die see en die son laat liefkoos het of tot waar die vissers lawaaierig met hulle bote vol vangs teruggekeer het.Makassie het reeds jare lank die grot bewoon. Oor dít wat hy voorheen was of wat hy gedoen het, was niemand doodseker nie. Sommige het bespiegel dat sy vrou hom op ʼn dag vir 'n lieplapper verlaat het en dat dié treurige gebeurtenis tot sy afsondering aanleiding gegee het.
ʼn Ander gerug het gelui dat sy ma hom eendag eenvoudig in die grot agtergelaat het omdat hy nie soos die ander kinders was nie. Makassie was stadig van begrip, arm van gees en net soos die skulpe, stom in homself gekeer.
Almal het hom “Makassie” genoem omdat hy die naam “Maccasar-strand” in Valsbaai, nie reg kon uitspreek nie.
As kinders was ons bang vir hom. Hy was vervod en sy hare was lank en kroes, taai van die seelug en soutwater. Die baard wat tot op sy bors gehang het, was woes en gekoek. Die hare en die baard was gebleik van die seeson, geel soos verlepte blare en soms vosserig teen die laaste lig van die dag.
Die kinders het hom gespot en name agter hom aan geskree. Norrings opgeskote seuns het al jillende weggehol wanneer hy hulle woedend met klippe bestook het. Die mense het gesê hy het nie al sy varkies op hok nie en dat hy kan toor en stout kinders op hulle kop kon laat loop.Veral die eenvoudige vissersvolk het allerlei onheilige stories aan die arme ou man toegedig. Makassie het die see so goed soos sy eie broeksak geken. Elke wind en wolk, die getye by die ronde maan en die skyfmaantjie, hy het die see geken met sy buie en sy rustigheid, sy deinings en sy spieëlvlak, sy spoel en sy wegtrek.
Daar was 'n innigheid tussen Makassie en die see wat selfs die mees ervare visser hom beny, maar nie begryp het nie. Met laagwater het Makassie sy grothuis verlaat en na die strandkant koers gekies. Hy het langs die sagte sand geloop en skulpe soek, al skroppende soos 'n hoender op die plaaswerf.
Soms het hy hulle met sy knoetsige krom vingers uitgegrawe, hulle in die waterpoeletjies skoongespoel en teen die lig gehou om vas te stel of hulle ongeskonde was. Sommige het hy tevrede in sy broeksak laat gly en andere weer driftig in die see teruggeskiet.
Later het hy die skulpe ingeryg en in die seisoentyd of naweke om sy skilpadnek drapeer en aan die baaiers op die strand verkoop.
Ons het gesien hoe die menssku ou man met sy tandelose mond kon lag wanneer ʼn besoeker die stringe skulpe om sy nek betas en versigtig oor sy kroeskop trek en dan ʼn glinsterende muntstuk in die verweerde hand laat val.
Dan was daar ʼn egte binneblydskap in hom. Van die geld kon hy dan ʼn broodjie koop, miskien ook ʼn bottel wonderwater om hom tydens winternagte warmte te skenk en verder het hy van vis geleef wat hy soms self gevang of later, wanneer al die skuite weg was, op die strand gaan aas het.
Op ʼn keer, tydens die seisoentyd, het Makassie nie uit sy seegrot gekom nie. Drie dae lank het niemand hom gesien nie. Dis was baie snaaks.
ʼn Opgeskote seun wat by sy ouma op besoek was, het met laagwater gaan stap en toe die mond van die grot ontdek. Die sterk reuk van bokkoms het sy aandag getrek. Binnekant, in die mufwarm grot het hy 'n ingeduikte pot en skewe pan teen die grotwand sien hang, mieliestronke en bokkoms en die hopie mens op 'n goiingsak in die hoek.
Dit het geklink asof hy om water vra.
Martie Snyman |
Toe hy buite kom, het hy gemerk dat die see aan die styg was en dat die branders reeds tot teen die rotse digby die grot klots. Die kind kon sy ouma nie dadelik opspoor nie, was bang en verward en het lank op die strand geloop om hulp te soek.
Toe die hulp uiteindelik opdaag, was Makassie se grothuis nie meer bereikbaar nie. Hulle moes wag totdat dit weer laagwater was. Heelwat later, toe die silwer sand weer toegang tot die grot verskaf het, het die groepie wat hulp wou verleen, grot toe gegaan om na die siek ou man om te sien.
Bennie Fritz |
Daar was slegs die skuimreste van die branders teen die ruwe wande van die grot. Verder was daar geen teken dat iemand ooit daar gewoon het nie.
Op die dorp het die mense gesê dat die see die lewensmoeë Makassie kom
haal het.
Martie Snyman het van die storie gehou. Sy was vatbaar vir ʼn tranetrekker. “Die arme ou man,” was haar kommentaar. “Hy het dit ook nie maklik gehad nie.”
Ek en Bennie Fritz het vir mekaar ooggeknip. Hy het ook fiksie geskryf en geweet wanneer ek knolle vir sitroene verkoop het!