Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.5.23

15 000 myl deur 15 lande – duim vir duim

KARIN PRETORIUS skryf: HIERDIE ryloopstorie van jare gelede, het my nie net laat sif deur die blaaie van my geheue nie, maar ook deur die blaaie van my stowwerige albums op my boekrak – en daar was baie stof tot nadenke! 

Ryloop in Europa in 1969, was nie ʼn gevaarlike onderneming nie. Versigtigheid was steeds die wagwoord, veral vir twee meisies, maar misdaad was nie in die algemeen ter sprake nie. In so ʼn mate dat iets ter beskerming soos pepersproei nooit ʼn gedagte was nie. 

Daarom het ek en rylopervriendin, Brenda Southon van Durban, besluit dis net wat ons wou waag: om duim te lig en met rugsakke en al ons spaargeld soveel lande as moontlik in die somer van Europa te besoek. 

Dit het later geblyk dat 1969 een van die beste somers in Europa in 50 jaar was! Ideaal vir ʼn ryloper. Ses maande lank van April tot Oktober 1969 het ons 15 000 myl baie suksesvol afgelê, Europa heen en weer deurkruis om by alles uit te kom en in die tyd 15 lande nie net besoek nie, maar deeglik verken. 

En dit op slegs £1 per dag. 

Brenda en Karin by ʼn stiergeveg in Madrid.
Vanaf Londen was die verste oos wat ons gereis het, Istanbul in Turkye en met die veerboot oor die
Bosporus na Klein-Asië vir die dag, asook die Prinseseilande daarnaas in die See van Marmara. Van daar was die verste suid wat ons beweeg het, die rots van Gibraltar in die suide van Spanje en met die veerboot vanaf Algeciras oor na die stad Ceuta in Spaans-Morokko aan die noordpunt van Afrika vir die dag.

Was dit lekker om hier ʼn waatlemoen uit Afrika vir die eerste keer na ʼn jaar in die buiteland te geniet! Vanaf Gibraltar was die verste wes wat 'n mens op die Europese kaart kon reis tot by Lissabon in Portugal en verder wes na die pragtige ou hawestad van Sintra met sy asemrowende kastele. 

Die mees noordelike punt daarna was tot by die groot Aflsuitdijk in noord-Holland voordat die hoofweg koers kies na die Skandinawiese lande. Om hierdie eindbestemmings na die verste uithoeke van Europa te bereik, is die 15 lande wat op ons roete deurkruis is: Frankryk, Switserland, Italië, Griekeland, Turkeye, Klein-Asië, Bulgarye, Joego-Slawië, Oostenryk, Spanje, Spaans-Morokko, Portugal, Duitsland, België en Holland. 

Afrika-waatlemoen op Ceuta, Spaans-Marokko.
Verblyf was uitsluitlik jeughostels wat hoog mode was – dalk steeds is – in Europa, netjies en skoon en 5 sjielings per nag. Onmoontlik om te glo. Aandete was ʼn “duur” drie sjielings en gewoonlik is bespaar deur self goedkoper etes in die kombuis te maak. 

Soggens moes die hostel teen sesuur ontruim word en wat ʼn heerlikheid om die geur van vars gebakte brood daarbuite te volg en met kaas “ontbyt” in ʼn parkie te geniet. Die orige geld is bestee op busse, trems, veerbote, perdekarre op Majorka, bromponies op Korfu, fietse in Holland, asook ʼn sweefspoortrein in Duitsland soos in Heidelberg na die bergkruin, en dies meer. 

Ook toegang tot museums wat oral gratis was vanweë “studentekaarte” wat ons oral geflits het. Hierdie “studentekaarte” het ons in Londen voor ons vertrek self ontwerp – ʼn kaartjie met ʼn foto en die woord “student” daarop is in al die lande verstaan en aanvaar! Geen haan het hieroor gekraai nie. Soms was daar genoeg geld oor vir ʼn smaaklike bederfie met ʼn gereg eie aan die land wat besoek is, soos apfelstrudel, moussaka, baklava, Hollandse rijstafel, paella, bradwurst, pasta, vars lemoensap by elke stalletjie in Spanje vanaf die Costa Brava tot by die Costa del Sol, kaasfondue in Switserland, groot keramiekbekers vol bier by die Hoffbrau House in München, ouzo en olywe op Korfu en baie meer.  

(Lees volgende keer verder.)