Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.4.23

Elisabeth van Oostenryk in Korfu

HANLIE VORNBERG skryf: Nadat ek Piet Ebersöhn se twee interessante berigte oor sy nuwe blyplek, Korfu, gelees het, het ek skeilik onthou dat daar 'n interessante verbinding bestaan tussen Korfu en Oostenryk.

Dit is die paleis Achilleion, sewe kilometer suid van die stad Korfu. Elisabeth,die Keiserin van Oostenryk en Hongarye, het dit in die jare 1890 tot 1892, vir haar laat bou.

Keiserin Elisabeth, genoem Sisi, was die vrou van Keiser Frans Josef I wat van 1848 tot sy dood in 1916 oor die Oostenrykse Ryk regeer het. Elisabeth was uit die Duitse adelsgeslag Wittelsbach en was aan die Habsburgse keiser verwant.


Hulle is in 1854 getroud. Sy was net sewentien jaar oud.

Sy het by haar geboorte reeds een melktand gehad en dit was glo 'n voorteken van voorspoed en geluk.

Elisabeth het vier kinders gehad, waarvan die eerste een op twee jaar tydens ’n reis na Hongarye, siek geword en gesterf het. Haar enigste seun, kroonprins Rudolf, het in 1889, saam met sy geliefde, selfmoord gepleeg. Die bekende film Mayerling uit die jaar 1968, met Omar Sharif in die hoofrol, gaan oor dié tragiese gebeurtenis. 

Regs: Sisi is baie bekend vir die diamantsterre wat sy in haar hare gedra het.

Sisi, soos almal haar genoem het, was nooit gelukkig in die Hofburg en in die somerpaleis, Schönbrunn, hier in Wenen nie. Sy was modern en haar tyd vooruit en het nie in die streng  hofprotokol ingepas nie.

Nadat sy haar kinders gekry het, was sy die meeste van die tyd nie meer in Wenen nie.  Sy het  maande lank sonder haar man en kinders rondgereis.  Sy was dikwels op Madeira, vanwaar sy op 'n keer tagtig bottels Constantia wyn vir die keiserlike wynkelder in Schönbrunn, saamgeneem het.

Op 'n dag het Sisi toe tydens haar omswerwinge, die eiland Korfu vir die eerste keer gesien. Die lig was glo betowerend mooi en die malsgroen van die plante, asook die kultuurmengsel van Italiaans en Grieks het haar van die begin af bekoor. Sy het net daar en dan besluit om vir haar 'n paleis op die eiland te laat bou.

Elisabeth was die Prinses Diana van daardie tyd. Sy was beroemd vir haar skoonheid en haar haarprag. Haar lengte was 1,73m en sy het tot haar dood net 50 kilogram geweeg.

Haar middeltjie het 'n omvang van 50 sentimeter gehad.  Sy het haar korset so eng laat insnoer dat sy soms nie behoorlik kon asem kry nie. 

Links: Die keiserin se hare het tot op haar hakskene gehang.

Haar pragtige dik hare het tot op haar hakskene gehang. Die gewig van haar hare het dikwels hoofpyn veroorsaak.  Dit het elke dag drie ure geneem om dit te vleg en die kapsel te voltooi. Sy het dit net elke drie weke gewas, 'n proses wat 'n hele dag lank geduur het.

Sisi het kosbare middels laat meng om haar hare mee op te knap, onder andere 'n  konkoksie van konjak en eiers.

Haar hare was vir haar die kroon van haar skoonheid. Haar haarkapster wat vir die smaakvolle en kunstige vlegselkapsels verantwoordelik was, het 'n jaarlikse salaris van 2,000 Gulde ontvang. Dit was die salaris van 'n universiteitsprofessor van daardie tyd.

Elisabeth het aan 'n skoonheidskultus gely. Vandag sou dit waarskynlik as 'n eet-versteuring gediagnoseer word.

Sy het dikwels vrywillig honger gely en het die sap van uitgedrukte rou beesvleis gedrink. Sy het daagliks die omvang van haar middellyf, bobene en kuite gemeet.

In die nag het sy met 'n skoonheidsmasker van rou kalfsvleis op haar gesig geslaap.

 Regs: Die paleis Achilleion in Korfu.

In die somer was dit 'n masker van aarbeie.

Verder het sy daagliks buitensporig sport bedryf. In die paleis van Schönbrunn het sy 'n oefenkamer gehad met balke, ringe, gewigte en klouterstellasies.

Sy het ure lank perd gery, geswem en ver afstande gewandel, in ’n tempo waarmee haar hofdames nie kon byhou nie. 

Die mooi keiserin het egter een skoonheidsmakel gehad -- haar tande. Sy het nooit gelag nie. Sy het heelwat van haar tande verloor en dié wat oor was, was onooglik. Wanneer sy gepraat het, het haar lippe skaars beweeg en baie mense kon nie verstaan wat sy sê nie.  Daar was ook sprake van 'n onaangename asem. 

Hoe ouer Sisi geword het, hoe meer het sy haar gesig versluier. 

Links:  Die keiserin se oefenkamer in die paleis, Schönbrunn in Wenen.

In September 1898, was sy met haar hofdame op besoek in Genéve in Switserland en op pad na 'n bootvaart op die meer toe sy skielik deur 'n Italiaanse anargis omgestamp is. Hy het haar met 'n spitsvyl in die hart gesteek.  Die vyl was so dun dat sy dit nie eers opgemerk het nie. Sy het opgestaan en die mense wat haar gehelp het, nog bedank. Die keiserin het tien minute lank verder geloop en toe op die boot inmekaargesak en gesterf. Sy was sestig jaar oud.

Elisabeth was baie lief vir die see. Sy het 'n anker op haar skouer laat tatoeëer.

Sy was baie gelukkig in Korfu. Wanneer daar ´n krisis in haar lewe was, het sy soontoe gevlug om daar weer nuwe moed te skep en krag op te bou.

Sy het selfs 'n gedig oor die eiland geskryf met die naam: Sehnsucht nach Korfu -- Verlange na Korfu.