Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.5.23

Ma ryloop toe ‘wonderlik’ saam

KARIN PRETORIUS vertel verder: RYLOOPSUKSES kan grootliks aan ʼn paar dinge toegeskryf word: ʼn goeie verstandhouding tussen twee vriendinne, dieselfde belange, asook goeie organisasie. 

Daar was ook ʼn paar ononderhandelbare reëls, soos om nooit van mekaar te skei nie al was daar moontlike wrywing; om net met ʼn enkel mansbestuurder in ʼn motor te klim en daarom was die Fiat 600 – toe baie gewild in Europa – ideaal, want die een wat agter sit, het ʼn rugsak op die skoot gehad en een op die sitplek langsaan; en daar is ook nooit na sesuur saans geryloop nie. 

ʼn Mens moes in ieder geval teen sesuur by ʼn jeughostel inklok om akkommodasie te verseker. Brenda en ek het mekaar in Earls Court, Londen, by die Overseas Visitors’ Club (OVC) ontmoet wat die gonswoord was vir elke jong oorsese besoeker wat iets wou weet van alles wat aangaan en wat en waar van belang was vir ʼn toeris. 

Na ʼn kuiertjie een aand oor ʼn glas Woodpecker Cider en ʼn ete van vis en skyfies toegevou in koerantpapier by my eenvertrekwoonstel te 47 Longridge Rd, Earls Court, SW5 het ons besluit om die reis saam aan te pak. 

Brenda se ontbyt, vroegoggend buite Plowdiw, Bulgarye.

Toegerus met ʼn notaboek, pen, landkaart en die belangrikste en mees onontbeerlike van alles, die goue
handboek: “A youth hostellor’s guide through Europe” is ons reis haarfyn beplan. Hierdie boek was die antwoord op alles vir ʼn toeris in die algemeen en vir ʼn ryloper in die besonder. Dit het al die jeughostelle in Europa aangegee met adresse en tariewe, veerbote se kom en gaan met kostes, museums met toegangstye, besienswaardighede in elke stad en gehuggie en die belangrikste wat ons hele toer se gang en roete bepaal het: elke dag se staproetes in al die stede van die hele Europa. 

Hiervolgens kon mens in detail bepaal hoe lank jy waar wou vertoef, in so ‘n mate en met soveel noukeurigheid dat daar na vier maande se ryloop, soos vooraf beplan, ons op 7 Julie in Pamplona in Spanje aangekom het, spesifiek vir die “running of the bulls”. 

Dieselfde het gegeld vir die Oktoberfest in München, wat ons geensins wou mis nie, elke jongmens se droom. 

Buiteslaap onder ʼn bos langs die by Bled, Joego-Slawië.
'n Mens kon ook beplan waar poste restante sou wees en was nuus vanaf die huis so in die vreemde en ver van die huis baie welkom. 

Aanvanklik wou ek nie vir Pa en Ma sê ek ryloop nie – dit klink so gevaarlik vanuit Pretoria – en het ek altyd maar verwys na busritte, totdat Ma se brief eendag gelui het: “wat ʼn wonderlike ondervinding my kind, ons ryloop saam met jou deur Europa”. Toe is die ys gelukkig gebreek. 

Die Boek het sterk rugsakke voorgeskryf met ʼn ysterstut oor die rug en breë bande oor die skouers, ʼn sekere soort waterproefslaapsak en -reënbaadjies, loopskoene, en waar om alles te bekom. 

Baie spesiaal en ideaal was ʼn plat opvoustofie van metaal met ʼn klein kookpotjie en blitz waarmee oral koffie gemaak kon word. 

Net twee stelle klere is ingepak om lig te reis en om plek in te ruim vir moontlike aankope. In die
kantsakkies van die rugsakke het waspoeier, koffie- en melkpoeier, suiker en waterbottels gepas. Die opgerolde slaapsakke het heel bo in die rugsakke lêplek gekry. 

Karin, duim in die lug, van Nafplion af na Korinthe in Griekeland.

Merkwaardig hoe alles gepas het, en die gewig was hanteerbaar! Ons was jonk, sterk, fiks, in die fleur van ons lewe en reg om die hele wêreld aan te durf met groot opwinding, opgewondenheid en afwagting. 

Hoe en waar begin ʼn onervare ryloper se reis, het ons gewonder? 

Maar die aanvangstog uit Londen was skielik ʼn wonderlike en gerieflike meevallertjie. 

ʼn Italiaanse vriend van die OVC, ene Francesco, was op pad huis toe na sy tuisstad in Florence na ʼn vakansie in Brittanje. Hy sou oorbly in Lausanne en hy kon ons by die jeughostel aflaai en weer die volgende dag oplaai. 

Dit was ideaal want onmiddellik kon die warmer somerweer van Europa ervaar word met die koue van Londen en ook selfs Frankryk agter die rug. 

Die prag van die Switserse mere was dus kortstondig, maar wel wetend dat die landskap ons paaie met die terugkom en uitgewerkte roete sou kruis. 

(Lees volgende keer die derde en laaste aflewering.)