Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.5.24

Leefbaarder wêreld: net met ʼn glimlag, Pappie!

PEET VAN STADEN skryf: Vir my was hy die een wat altyd geglimlag het. Nooit nukkerig nie, nooit dikmond nie. Gegewe my herinneringe aan die klimaat in Perskor se koerantkantore diep in die jare sewentig was Dirk Benadé se temperament merkwaardig, eintlik uniek. 

Perdewedrenskrywers, soos rugbyskrywers, was altyd maar ʼn eie klomp. Hulle was deel van sportredaksies, selfs oudsportredakteurs soos Wolfie Wolfaardt en Roelf Theunissen. Ons ander het dikwels bespiegel oor hoeveel van die sport daar sou oorbly as weddenskappe by perdebyeenkomste weggevat word. Maar soos met verdedigingsobligasies destyds het fiskale oorwegings die moreles getroef. 

Die renskrywers self het oor die debat getree. By die jaarvergadering van die Randse Sportskrywersvereniging het een van hulle kort-kort ʼn perd as een van die Sportsterre van die Jaar benoem. Francois Wolfaardt het selfs een keer sy voorstel – dalk nog vir Principal Boy – met ʼn troefkaart afgesluit: “Boonop, Meneer die Voorsitter, is hierdie perd ʼn dêm goeie Nasionalis!” 

6.5.24

Groot Dirk was enig in sy soort

JAN VAN VUUREN skryf: Dirk Benadé, perderedakteur van Die Transvaler in die 1970's en 1980's, is Vrydagaand, 3 Mei 2024, oorlede. Hy was 77 jaar oud. Dirk was in die Garden City-kliniek, Johannesburg om vergroeisels te laat verwyder. Komplikasies het ingetree en het tot sy dood gelei.

Dirk was 'n uiters begaafde sportman wat van jongs af groot potensiaal in rugby en atletiek getoon het. Hy was in standerd 9 toe hy in 1964 vir Die Fakkel Hoërskool, Johannesburg in die Administrateursbeker-eindstryd op Potchefstroom teen Lichtenburg gespeel het. Ongelukkig vir hom, het Die Fakkel met 11-16 verloor.

22.4.24

REÜNIE, 2024: GEBORG DEUR DAGBREEKTRUST

Dis weer tyd vir lekker kuier by ons volgende reünie van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers  (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Die reëlingskomitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om vanjaar weer ‘n funksie by dieselfde restourant – die Irish Rock -  te hou. 

Die saamtrek vind op Sondag 19 Mei 2024 plaas. Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11:30 af en kuier eers lekker saam. Daar is ‘n kontantkroeg.

21.4.24

Koerantman Frikke leer TV ‘n ding of twee

PEET VAN STADEN skryf: FRIKKIE VAN DER WALT, eens onder meer nagredakteur van Die Transvaler, is Maandag, 8 April ná ʼn tweede ernstige siekbed op 80 oorlede. Hy het sy lang en kleurryke loopbaan by Perskor opgevolg met ʼn nog langer en ewe merkwaardige skof by die TV-nuusredaksie van die SAUK.  Hy laat sy vrou, Susan, en twee kinders agter.

Hy het laat in die jare 1960 by Die Vaderland begin waar hy hom as misdaadverslaggewer onderskei het en lewenslank geesdriftig vertel het van die karakters en ervarings wat hy in daardie wêreld beleef het.  Daarna het hy na Die Transvaler se redaksie verskuif waar hy later nagredakteur was tydens die groot tweestryd met Beeld.

18.4.24

Elise herstel na ernstige terugslag

PEET VAN STADEN skryf: ELISE VAN STADEN herstel tuis in Randburg ná ‘n ernstige terugslag. Die voormalige vroueredaktrise van Die Vaderland en later akademikus het in Desember uit die bloute ernstige longontsteking gekry waarna sy drie weke in ʼn koma en altesaam vyf weke in die waakeenheid was. 

Dr Elise van Staden

Sy was teen die derde week van Januarie 2024 terug by die huis. Al was sy baie verswak, het sy geen blywende skade opgedoen nie. Haar herstel vorder so goed dat sy sonder hulp stap en baie van haar vorige pligte uitvoer. 

Elise het in Desember 1969 by die vroueredaksie van Die Vaderland begin, gesub en algemene verslaggewing gedoen. Sy het ook by Hoofstad gewerk en vroueredaktrise by Die Vaderland geword voordat sy Sarie toe is. Sy het tussenin kinders grootgemaak, skoolgehou en uiteindelik by die Randse Afrikaanse Universiteit gedoseer.

11.4.24

Koos Doep se kronkelpad* koerante toe

PEET VAN STADEN SKRYF:  DIE joernalistiek skep maar met ’n growwe sif uit die ervarings wat hy aanbied: altyd laat hy gedenkwaardige geleenthede deur weens werk, oordeel, selfs luiheid. By my hope kostelikes is ek armer omdat ek nooit in die Concorde gevlieg of Frank Sinatra by Sun City gesien of die toetsuur beleef het met Graeme Pollock en Barry Richards se vennootskap teen Australië nie.

Of een van Koos du Plessis se sangaande nie. Die ergste is ek het nooit rerig daarvan geweet nie totdat Leendert Pieterse jare later vertel en ek nou die dag terloops toe ek Wim van der Berg se K’rantvertelling daaroor raakgelees het.

En tog ken ons mekaar -- meer bepaald ken ek hóm -- lank voordat enige van ons twee joernaliste geword het. Wat my laat dink dat ek miskien my bietjie moet vertel van hoe hy in die koerantwese beland het.

22.2.24

Waar is Tom se rubriek?

Tom Buys
Arica van der Westhuizen skryf: Ek is besig met navorsing oor my oorlede pa, Tom Buys.

Hy en Len Lindeque het destyds ‘n "rubriek" saam hanteer, genaamd “Só is Hulle".  Ek is nie seker of dit in Die Vaderland of Perskorhaan gepubliseer was nie.  Ek is opsoek na daardie material --  my pa se artikels en Len se sketse.

 Weet iemand dalk waar ek dit kan kry, veral die artikels wat my pa geskryf het.

(Tom was hoofsub en nuusredakteur van Die Vaderland in die vroeë  sewentigs. Is daar iemand wat weet of daar 'n argief is waar ou eksemplare van Die Vaderland, Die Transvaler en ander Perskorpublikasies geberg word?  K'rant het al heelwat navrae hieroor gehad.--Red.)

10.2.24

Lucia (Van den Bergh) Prinsloo oorlede

LUCIA (VAN DEN BERGH) PRINSLOO, voormalige verslaggewer by Hoofstad is Dinsdag, 6 Februarie 2024,  in die St George's-hospitaal, Port Elizabeth oorlede.

Sy was 67. Sy ek haar tandartsman, Dappie, het in Jeffreysbaai gewoon.

Lucia het meer as jaar terug 'n nieroorplanting gehad.  Haar broer, Van Rooy van den Bergh, was die skenker. 

'n Vorige berig oor Lucia is HIER

11.1.24

‘Afrikaanse Alistair MacLean’ oorlede

PAUL C. VENTER skryf: DIE skrywer Calvyn van Niekerk is op 8 Januarie 2024 aan nierversaking oorlede. Ons innige simpatie met sy weduwee en familie. 

In sy laaste jare het Calvyn stil in Durban gewoon, die stad waar hy in die sewentigs as tydskrifjoernalis sowel as skrywer van stringe avontuurboeke en ʼn horde fotoboekies vir Republikeinse Pers gewerk het. Toe was hy die man na wie jonges soos ek geluister het.  

19.12.23

Die Joodse Kersboom

HANLIE VORNBERG skryf:  Nou, terwyl ek die storie skryf, besef ek eers hoe besonder aktueel die tema op die oomblik is met al die probleme daar is Israel. 

Soos bekend, was daar 'n tyd hier in Europa waar mense van Joodse afkoms harde bene gekou het. Trouens, deur 'n Semitiese familielid êrens in die geslagregister te hê, kon die doodvonnis beteken.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die Jode wat hier oorgebly het, óf Israel toe geëmigreer, of hulle bes gedoen om so gou soos moontlik by die res van die bevolking in te skakel. Talle was selfs bereid om hulle geloof prys te gee en hulle as Katolieke of Protestante te laat doop

12.12.23

Toetsrugby op sy beste en regte sneeu in Parys

KARIN PRETORIUS skryf: EEN Sondagmiddag in November 1968 verskyn daar ʼn kennisgewing op die bord in Londen se Oversears Visitors’ Club (OVC) in Earls Court vir kaartjies na Parys vir die Springbokke se tweede rugbytoets teen die Franse. My oë rek wyd en vir ʼn oomblik vergeet ek skoon van Ma se skaapboud en gebakte aartappels tuis in Pretoria. Want ná sewe maande in Londen vir werk by die SA Sitrusraad as ʼn “Outspan Girl’, was dit al waaraan mens kon dink op ʼn nostalgiese Sondagmiddag. Veral as die koue waarvan jy nog net gehoor het, begin hap-hap het aan jou langbroek en stewels.

7.11.23

Bernie, die kraai

HANLIE VORNBERG skryf: HULLE het oornag hier by ons in Wenen aangekom. Die groot swart kraaie. Met die koms van die herfs, is hulle elke jaar dié tyd, terug. Hulle kom al die pad uit Rusland om hier te oorwinter. Vanmôre het ek hulle hoor krys en gesien hoe die tamaai voëls heen en weer oor die huis vlieg.

Daar is 'n Oostenrykse boerewysheid wat sê dat wanneer die kraaie kom, dit tyd is om jou vuurmaakhout bymekaar te maak.

27.9.23

Treinry en ʼn nuwe rubriek

HANLIE VORNBERG skryf: TOE ek ʼn kind was, was treinry vir my een van die lekkerste dinge wat daar was. Dit was ʼn kosbare ondervinding. Hoe anders was die treine van daardie tyd nie!

Ons het jaarliks tydens die wintervakansie in Junie, met die trein vir my oupa in George gaan kuier.

Dit was ʼn belewenis. Die lawaai van die stoomtrein, die roet in jou oog, die stank van die steenkool en die voortskommel en kantel van die waens. Dan was daar die reuk van die groen leerbekleedsel, die glinsterende houtwerk en die kondukteur-sleutel wat ratel in die slot.

31.8.23

Bier en mossels is 'n gevaarlike resep

HANLIE VORNBERG skryf:  IN 1858 was daar reeds agt verskillende koerant publikasies in die Kaap. Koerante is graag in klubs en in openbare plekke gelees en een koerant het dikwels deur baie hande gegaan. Ook die dames het reeds hulle eie blad gehad, die sogenaamde,
„Lady ́s Companion.“

Aangesien advertensies altyd die lewensbloed van die pers was, was daar ook in die ou Kaap geen tekort daaraan nie. Die adverteerders het van al hulle skeppende talente gebruik gemaak om die lesers se aandag te trek.

Sommige het met dekoratiewe illustrasies gewerk en andere het selfs sover gegaan om hulle advertensies as nuwe "stories" te kamoefleer.

22.8.23

‘Skieriteit’ – van die ‘High Noons’ tot by Zebulon

PIET EBERSÖHN skryf: WIE onthou nog die duur stelsel vir toegangsbeheer wat Perskor in die laat jare sewentig by Aucklandpark laat aanbring het? 

Ons het almal kaarte met ons foto’s op gekry wat ons by die deur moes toon. 

Ek dink die stelsel het iets soos twee weke gehou, toe breek die masjien om nooit herstel te word nie. 

17.8.23

Wie is Ben Blindekoei?

Len Lindeque
JOHAN GREYBE skryf: Ek's gebore in ‘53. Was op skool in Sentraal, Bloemfontein van '67 tot '71. Self bietjie 'n komiek-tekentalent gehad en bewonderaar van Len Lindeque se weeklikse Rapport-bydraes. 

Toe Sentraal sy eie skoolkoerant begin het, is daar vir bydraes gevra. Ek teken toe iets in Len se grappige styl en plaas dit naamloos op die redakteur se lessenaar. 

Gedurende weeklikse saalperiode, kondig die skoolhoof aan: Die Tralie-redakteur versoek asseblief dat die leerling wat sketse op sy lessenaar gelos het onder die skuilnaam, Ben Blindekoei, hom asseblief sal kontak. 

Groot gelag in saal ...

8.8.23

Piet Ebersöhn se Mariëtte oorlede

MARIËTTE EBERSÖHN, vrou van K'rant se nuusredakteur, Piet Ebersöhn, is Maandag, 7 Augustus 2023, oorlede.  Sy het in Junie 68 geword.  

Vrydag voordag is Mariëtte met 'n asemnood in die hospitaal opgeneem, maar het dermate herstel dat sy laatmiddag ontslaan is. Maandag was daar 'n terugslag.  Voordat sy in die hospitaal opgeneem kon word, is sy oorlede.

Piet en Mariëtte het teen die einde van 2016 na Corfu, 'n eiland aan die Griekse kus, verhuis. Lees meer daarvan HIER.

Piet het onlangs twee berigte geskryf oor sy en Mariëtte se Eiland van ons Drome.  Klik  HIER en HIER.

K'rant en sy lesers treur saam met Piet en wens hom sterkte toe.

Bo:  Piet en Mariëtte Ebersohn het by die Perskorreünie in 2016 afskeid geneem vóór hul vetrek  na die eiland Corfu om daar af te tree.

 

2.8.23

Perskor bring July-geluk!

KARIN PRETORIUS skryf: MET geen kennis van perdewedrenne of weddenskappe nie, het ek jou so wrintiewaar twee keer in die jare sewentig vanweë my werksituasie by Perskor op wenperde by die July verwed – en gewen. Nou nie so dat ek my trommeltjie eers kon opvul nie, maar dit het tog vir baie opwinding gesorg. 

Eerstens was dit in 1970 by die vroueblad van Die Transvaler en daarna in 1979 as Perskor se verteenwoordiger tydens die bosoorlog in die ou Rhodesië. Met my aanstelling in 1970 by Die Transvaler se vroueblad, was dit heerlik om oor ʼn eg-vrouesaak te berig – die vooruitskouing van die vrouemodes by die naderende July-perdewedren begin Julie op die Greyville- renbaan in Durban. 

6.7.23

Paul, die rugbyheld – ʼn onthou van Paul C. Venter

PAUL C. VENTER skryf: LANK, lank gelede, toe Afrikaanse Pers nog in Johannesburg gestaan het, naby waar Milpark Holiday Inn later sy staan kom maak het, het drie snotkoppies by Die Vaderland begin werk: Ek en Ferdinand Hand as verslaggewertjies en Ferdie se broer Reinhardt onder by die drukkery.

Die Hande – Hands? Ek weet nou nog nie waai een nie – was twee goedgemanierde plattelanders van die Platorand, ek ʼn gesoute en dus onbetroubare Johannesburger pas uit die army. 

Later het ons drie saam ʼn huis in Linden betrek, ʼn karaktervolle opstal wat aan Harald en Aletta Pakendorf behoort het, waar die kaggel een bitterkoue winternag nie mooi wou vat nie toe help ons hom met petrol aan ... stop dit, ek glo nie Harald en Aletta wil die storie hier lees nie.

3.7.23

Die slang in die brandewyn

HANLIE VORNBERG skryf: WAT vir my hierdie storie besonders interessant maak, is die feit dat ʼn voorvader van my hier ʼn rol gespeel het. 

My ouma was ʼn Kirsten uit Darling en oor dié betrokke familie bestaan heelwat geskrifte uit die ou Kaap. 

Johann Friedrich Kirsten, was in diens van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie en het voor 1740 uit Duitsland in die Kaap aangekom.

Hy was een van ʼn groep hardwerkende Lutheraanse ondernemers wat in die Kaap groot sukses behaal het.