Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.10.12

‘Toe sing ek Hansie Slim op Chinese TV!’

SUZELLE FOURIE vertel verder oor haar ervarings as “foreign expert” in landelike China. Sy gebruik uittreksels uit briewe aan familie en vriende in Suid-Afrika om haar verhaal te vertel. 

13 Mei 2004: Uiteindelik begin klasgee! Ek spog nou met 'n imponerende rooi boekie, die "Foreign Experts
Certificate", maardie werkvisum moet nog opdaag. Die skoolhoof het besluit dat ek maar solank kan begin werk toe ek hulle laat verstaan het dat as ek in China wou kom vakansie hou, Qitai ongeveer die laaste plek is wat ek vir dié doel sou gekies het. Het ek geweet wat op my wag, het ek gewis maar nog langer verveeld hier rondgelê.

Mens, om soveel as 70 oorwerkte jong Chinese in een klas vir 45 minute lank geïnteresseerd te hou en boonop sover te kry om te reageer, in Engels, verg harde werk. 'n Mens moet heeltyd improviseer, verskriklik baie lyftaal en gebare gebruik en glad nie skaam wees om 'n krater van jouself te maak nie. Ek speel hanswors in die beste Boswell & Wilkie-tradisie en is glad nie verhewe bo omkopery nie. Ek gaan klas toe met 'n sak vol lekkers en elkeen wat iets Engels kwytraak, word met 'n lekker beloon. Dit werk!

Die studente se houvas op die taal wissel van feitlik afwesig tot taamlik stewig. Een of twee klasse is nogal moeilike kalante en gaan al my geduld en vindingrykheid verg. Maar daar is ook klasse waar dit pure plesier gaan wees om hulle aan die Engels praat te kry. Hier is die "foreign teacher" geheel en al op hom/haarself aangewese, die skool het geen bruikbare materiaal van enige aard vir “Oral English” nie. Dankie tog vir die internet! Daar's baie bruikbare materiaal te vind, maar ek is nog in 'n stryd gewikkel om 'n drukker vir my rekenaar te kry.

Een van my klasse met foto's uit Getaway.
'n Mens is morsdoodmoeg aan die einde van die dag en dit ná net vier klasse. Vrydag het ek vyf klasse, tot ná halfsewe in die aand. Sal laat weet as ek dit oorleef het. Van volgende week gee ek ook klas by die "Branch 1" Junior Middle School hier naby. Het geen idee wat daar vir my wag nie. Hier is twee junior skole. Kamran, my buurman, het die afgelope week by "Branch 2" begin klasgee en voor 'n klas van 140 leerlinge te staan gekom. Die Pakistani het eenvoudig verseg om sy mond oop te maak. Glo vir die hoof gevra: "Do you expect me to teach or to give a lecture?"

Ek trek uiteraard baie aandag waar ek ookal gaan. Dié dorp is maar afgeleë en hier is mense wat nog nooit ’n Westerling in lewende lywe gesien het nie. Dit sal my nie verbaas as ek die enigste wit gesig in die hele Qitai is nie. Die mense is gefassineerd met my blou oë en ligte hare en reken blykbaar ek is vreeslik mooi. Op my ouderdom is dit nogal uiters vleiend! Die mense in die dorp het nou al agtergekom wie ek is en waarom ek hier is en ek word oral met die grootste vriendelikheid begroet.

Toe ek kort ná my aankoms hier die eerste keer na 'n bank toe is om 'n klompie dollars vir yuan te ruil, is ek vreeslik skeef aangekyk en hulle het my omtrent laat wag voordat ek my geld gekry het. Eergister moes ek weer bank toe en dié keer was dit 'n heeltemal ander storie. Toe ek die bank binnestap, sien jy net glimlagte oral en ek kon aflei dat die meisies agter die toonbank vir mekaar vertel dis die nuwe "foreign teacher" hierdie. Ek is sommer blitsvinnig gehelp.

20 Mei 2004: Hulle sê mos elke mens het “fifteen seconds of fame”. Wel, ek verskyn glo vanaand in die halfnege nuus op die plaaslike Xinjiang TV-kanaal. Nie dat ek dit gaan sien nie - my imposante TV-stel wys nie daardie kanaal nie! Ek het die hele oggend soos 'n aap voor die kamera ge-"perform", tot groot vermaak van die kleintjies en hoge tevredenheid van Miss Lin, die Chinese Engels-onderwyser wat oor my doen en late waak.

Soos julle kan aflei, gee ek nou klas vir die kindergarten. Dis nou saam met my klasse by die Junior Middle School én die Senior Middle School. Wat ’n klugspul: hierdie tante in 'n klas van omtrent dertig vierjariges. Hier bestaan nie iets soos voorbereiding, toepaslike kwalifikasies of praktiese kennis nie. Jy word net ingelig, gewoonlik vyf minute voor die klas moet begin, "Now you go teach kindergarten classes."

Die res van dié gesprek verloop dan min of meer soos volg: Foreign Teacher from SA: "Miss Lin, I have no idea what to do in a kindergarten class. I have never taught kindergarten classes before in my whole life!" Miss Lin (ongestoord): "Oh, that's OK. You just go play with them."

Dit was gistermiddag. Daar staan ek toe voor hierdie kleintjies en dril Engelse klanke. Ons rrrrrol die r'e en knyp die lippies vas op die m'e en die p's. Ek galop soos 'n perd, kêkkel soos 'n hoender en blêr soos 'n skaap. Die klein Chinesies lê soos hulle lag. Beste sirkus wat hulle nog gesien het. Vanoggend was dit weer dieselfde storie, dié keer voor die TV-kamera!

Ek moet darem sê, die kleintjies is te "cute" vir woorde. Hulle doen geesdriftig mee en is nie skaam om klanke voort te bring wat weinig verband hou met die Engelse taal nie. Die hoogtepunt van die oggend was natuurlik toe hulle 'n Engelse liedjie vir die TV moes sing en die "foreign teacher" moes saamsing. Ná 'n oomblik van paniek herken ek die wysie van Hansie Slim. Nugter weet wat daardie kleintjies gesing het, ek kon g'n woord daarvan verstaan nie. Die uwe, aan die ander kant, het Hansie Slim luid en lustig op Afrikaans gesing!

Toe nog vanoggend uiteindelik ook die finale kontrak met die skool onderteken, vreeslik formeel in die hoof se kantoor, voor die TV-kamera, en geposeer vir eindelose foto's saam met "Our Leader", wat toe ook die skoolwapentjie aan my lapel vasgespeld het. Die arme man se hande het só gebewe, ek weet nie of die oomblik vir hom te groot was nie. Ek moes boonop 'n kort "statement" in die skooltuin vir die TV maak oor hoe ek al my tyd en energie hier in Qitai gaan wy aan die opheffing van die plaaslike vlak van Engels, of so iets. Ek is bevrees my roem hier in Qitai gaan later net te veel vir een mens word.

Ek en 'nvriend voor die drie nisse met die  vrouefigure.
11 Junie 2004: Geen vervelige oomblik in Qitai nie. Net toe ek begin dink ek is nou mooi in pas met die Chinese hartklop, slaan hulle weer my voete onder my uit. Ek en Kamran, die Pakistani met ’n Skotse ma, woon in twee klein woonstelle op die boonste vloer van die Foreign Experts Building. Wat die argitek besiel het, weet ek nie, maar net links van die onderste ingang is daar groot nisse in die muur waarin drie semi-naakte Grieks-Romeinse (?) vrouefigure in wit gips pryk. Een van hulle het sulke af-arms en moet seker die Venus de Milo voorstel. My “clueless”, hormoongedrewe jong buurman is van mening die spulletjie het iets met Westerlinge se losse sedes te doen.

Tot verlede week was dit nie onaardig om hier te woon nie - die gebrek aan 'n bad of storthokkie, die lekkende krane, knaend verstoppende toilet en my eksentrieke wasgoedpale ten spyt. Ons het 'n rustige voortuin met sitplekke onder die welige groen bome en 'n netjiese tuinpaadjie waar 'n groter-as-lewensgrootte standbeeld van Confusius ons inwag. En toe besluit een, of dalk al vier, van die skool se onderskeie "headmasters" blykbaar dat dié plek volgens Chinese standaarde darem heeltemal te onderversier is.

Toe ons weer ons oë uitvee, daag hier 'n span op met jaarts en jaarts disko-liggies in sulke dun plastiekpyp soos 'n tuinslang. Rooi en geel en bont plastiekpyp. Dié word toe met 'n getimmer en dosyne houers gom oor die dak en gewel en rondom die hoofingang vasgespyker en gegom. Kwalik oor dié skok, toe moet ons aanskou hoe hulle drie yslike plastiek-palmbome, twee groenes en een oranje, in die voortuin plant. Die uitklophou het gekom toe hulle 'n laning bloedrooi "straatligte" langs ons tuinpaadjie kom staanmaak.

Wanneer die nagdonker nou oor Qitai neerdaal, word hierdie spulletjie aangeskakel. Rooi en geel en bont disko-liggies rits baldadig al rondom die gebou; plastiek-palmtakke in neongroen en skril oranje kry lewe met liggies wat flits! flits! flits!, terwyl trosse ronde rooi straatligte die res van die tuin in 'n warm gloed baai. Ma's bring hul kinders en oupa's bring hul kleinkinders om te kom kyk. Nêrens in Qitai is groter pret te vind nie.

Die gejil en rumoer oor naweke duur tot laaaaatnag. En dis nou alles feitlik reg onder my slaapkamervenster. Ek dink nie my voorraad slaappille gaan dit tot die winter maak nie. Ek is nou ernstig in die versoeking om aan onse "leaders" te gaan verduidelik dat Westerlinge nie eintlik uit dieselfde kulturele oogpunt na rooi ligte kyk nie . . .

27 Junie 2004: Pas terug van twee dae in die wildernis saam met ’n trop leerders en ’n handvol personeel. Ek is vol stof en sand van kop tot tone, stink van die sweet en pootuit.

Die skoolbus lyk skoon verlore in die ontsaglike Gobi-woestyn.
Wat 'n ervaring! Sommige indrukke laat 'n mens sprakeloos. Waar ons was, aan die westelike rand van die Gobi-woestyn, is dit ’n landskap wat immer bly verander, met gesteentes en gebergtes wat 'n mens diep onder die indruk bring van die verskriklike oudheid van hierdie ontsaglike, onherbergsame stuk aarde.

Ons het van die vrotste paaie gery waarop ek al ooit was. Eintlik kan 'n mens nie van paaie praat nie, dis eerder net 'n ry spore oor die sandvlaktes en duine wat ons uiters bekwame bestuurder met onfeilbare instink gevolg het. En die hitte…! Gelukkig was ek in die skool se Jeep en nie saam met die kinders in die skoolbus agter ons nie. Saam met my was onse Miss Lin en Mister Wang, 'n dierbare oubaas van 77 jaar met die energie van 'n tiener. Hy is die skool se fotograaf en ek het nog nooit iemand teëgekom met groter geesdrif vir sy werk as dié mens nie. Hy praat omtrent net tien woorde Engels, maar ons twee kommunikeer piekfyn.

Ek en 'n paar Chinese kollegas by 'n
reusagtige versteende boom.
Alles in hierdie deel van Xinjiang is oeroud. Ek het fossiele en nogmaals fossiele gesien. Ons is deur 'n gebied waar miljarde piepklein fossiele van skulpdiertjies oor die aarde gestrooi lê. Dis moeilik om te glo dat dié barre plek eens op 'n tyd waarskynlik 'n groot binnelandse meer was. Ons het 'n sogenaamde "geological garden" besoek, maar moenie dat die "garden" julle mislei nie. Die naaste wat dié plek aan 'n tuin kom, is dat daar miljarde jare gelede 'n reusagtige oerwoud was wat sedertdien kliphard versteen het. Dis ook ongeveer waar die dinosourus-fossiele gevind is wat deesdae in Beijing uitgestal word.

Wat vir my ewe interessant was, is die Chinese se dubbele standaarde. Aan die een kant vertel hulle 'n mens hoe 'n tragedie dit is dat die fossiele so weggedra word en dat die "garden" stelselmatig aan die verdwyn is, maar dan laai einste besorgdes armsvol sorgvuldig uitgesoekte fossiele in die Jeep en die bus om huis toe te vat. En dis boonop onwettig. Hulle het daardie klippe netjies weggesteek ingeval iemand langs die pad wou inspeksie doen! Ek wou ook die stuipe kry oor die argelose wyse waarop hulle plastiekbottels en enige gemors net so in die veld weggooi waar hulle kom. Min gepla oor besoedeling van die omgewing.

(Word vervolg . . . )