Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.10.12

Met 'n stomp knipmes is my das kort onder my keel afgesny

PIET ROOS skryf: Ek het op 1 Maart 1973 by Die Vaderland begin werk in Aucklandpark, Johannesburg Dit was asemrowende werk, die lekkerste in die wêreld.

Daardie jaar het ek en Kobie Breedt, Gert Coetzee en Johan Papendorf in Kesselstraat 'n huis gedeel en dit was gek! Ons het almal algemene nuus gedek en geleer skryf. Frans du Toit het my 'n kans gegee, nadat ek die
vorige twee jare as bobaan-hyskraandrywer in staalfabrieke gewerk het.

Daardie jare het Marieta Cillie, Emmie Gouws, Carene Boshoff en later Hannes de Wet daar gewerk. Ons het 'n wonderlike wêreld gehad.

Een aand het ons parteikie gehou saam met Leunis van Rooyen, Andries Beytel, Marie (Opperman) en dit was wild.

Toe ek bykom, hoor ek ek het Marieta gevra om te trou...

Pierre Coetzee het my gevra: "Is jy ernstig? Trou soos kerk en dinge?"

Ons is in 1974 getroud. Het in Linden in 'n woonstel gaan woon. Toe ons einde September van die witbrood terugkom, is Tom Buys, nuusredakteur, oorlede --  nie oor ons nie!

Na 'n jaar is ek aangestel as Kemptonparkse verteenwoordiger en ons het soontoe getrek. Nic Oosthuizen was die Oos-Randse verteenwoordiger. Ek was die volgende vier jaar betrokke by stories oor groot pampoene, skoolkonserte, burgemeesters en stadsklerke se manewales en stadsraads- vergaderings.

Nou dit was 'n ding. Die vergaderings was 'n vinnige formaliteit.

"Item 23 deur bestuurskomitee voorgestel, meneer die voorsitter...
"Algemeen aanvaar...

En na die vergadering het die stadsklerk die publiek uitgenooi na die onthaal, maar die flou tee en koue Marie-beskuitjies, het die publiek vinnig verdryf. Dan is die kroegvenstertjies oopgemaak en het ons in die Skotse water ingesak. Oom Apie le Roux, die Chev-handelaar, het net "Kry my nog 'n biertjie, ou Piet" gesê en dan het Quintus van Rooyen, stadsklerk, aangegee.

Daardie jare is die Kemptonparkse stadraad aangekla oor die rimpelbeheerstelsel wat hulle gekoop het. Quintus wou niks van digitaal weet nie en 'n analoog-stelsel is gekoop. Brown Boveri en Phillips het die twee verskillende stelsels verkoop.

Die owerheid het beslis dat die stadraad onkonstitusioneel opgetree het en ek het dit geskryf en by die volgende vergadering het die voorsitter van die bestuurskomitee, Wynand Niemand, my gegryp en met 'n stomp knipmes my das kort onder my keel afgesny.

Einde Februarie 1979 was ek in Doornfontein en ek gee die nuusredakteur my bedanking. Ek gaan apteker word.

"Daai Piet is te dom. Hy is een van die dae terug'" het Nic Oosthuizen gesê.

(Toe nie, Piet is vandag 'n welvarende apteker en Marieta, ook 'n bekende joernalis, is 'n paar jaar gelede aan kanker dood. Hy is intussen weer getroud. Piet se seun, Pietman, is 'n finansiële joernalis. - Red.)