Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.10.12

Rooi Rus fnuik Jakkie se ‘scoop’

JAKKIE GROENEWALD skryf: Na aanleiding van Joe van Buuren se storie oor David Protter en die Foxstraat-beleg onthou ek die volgende: Ek was in daardie stadium ’n hooggeregshof-verslaggewer vir Beeld. Ek en ’n paar ander verslaggewers het oor middagete van die gedoente in Foxstraat gehoor en soontoe gehol.

Daar aangekom, het ons ons ook maar dun gemaak terwyl die skote klap.

In ’n stadium het ek by ’n restaurantjie op die hoek reg onder die ambassade my gaan tuismaak en ’n bier weggeslaan totdat ek daarvan bewus geword het dat die Rooi Rus en sy manne dit as ’n hoofkwartier vir die polisie beset het. Ek kon die hele tyd op die hoogte bly van wat buite aan die gang is, maar maak mos in ’n stadium die fatale fout om my kamera (daai tyd het ons sommer self foto’s by die hof geneem) op die tafel in die restaurant neer te sit. Swanepoel het dit raakgesien en my terstond met kamera-en-al by die deur uitgeboender met die waarskuwing as ek enigiets vir Beeld van ’n telefoonhokkie af sou deurstuur, sou ek diep in die moeilikheid wees. Ek het maar stil gebly al het Ton Vosloo my erg uitgevra oor hoekom ek so lank op die toneel was.

Die volgende dag het al wat leef en beef in Johannesburg Foxstraat toe gestroom, dermate dat die polisie honde moes gebruik om die publiek daar te verwyder. Dié keer kon ek darem foto’s neem en het my storietjie plek op die voorblad gekry – nogal lekker vir ’n jong hofverslaggewer.