Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.10.12

5 000 besoekers en ons stoom voort

JAPIE BOSCH skryf: K’rant het verlede Vrydag sy 5 000e besoeker opgelewer sedert amptelik telling op 28 Mei 2012 begin hou is. Gesamentlik het hulle meer as 17 000 verskillende plekke op die joernaal besoek.  Boonop verskyn ons 250e storie vandag.

Eintlik is die syfers ‘n paar honderd meer, want die joernaal het op 1 Mei 2012 ‘n aanvang geneem, maar ons ag die eerste vier weke as kindertreë.

In dié kort tydjie het K’rant heelwat hoogtepunte ervaar. Die grootste daarvan was die opsporing van elke oud-kollega en elke storie en foto wat van hulle ontvang is.

Die reeks artikels van Andries Botha, Die Willem de Klerk-legger, wat twee weke gelede begin het, is seerseker die grootste “scoop” en by verre die onthullendeste van almal.

K’rant het reeds stories oor ‘n wye spektrum geplaas – lekkerlag humor, insluitend vertellings oor Perskor se Krismis-hoenders, die hartseer van Kittie Vermaak se afsterwe, stories oor Len Lindeque, Bernard Jordaan se unieke foto’s van die wêreld se mooiste meisies en stories van ‘n ieder en ‘n elk.
‘n Mens kan K’rant voorwaar as uniek bestempel – koerantmense wat hul stories oor ‘n tydperk van twee dekades (die 70’s en 80’s) in herinnering roep. Wys ons nog ‘n webjoernaal soos dié!
Dat K’rant byval vind en waardeer word, is nie altemit nie. Onderstaande boodskappe wat die afgelope maande ontvang is, getuig daarvan. Tussen die lyne kan ‘n mense ook lees: stuur nog stories, moenie waardevolle vertellings verlore laat gaan nie.

Só praat die mense:

• Ek is mal oor K’rant en geniet dit terdeë. Die lees bring sommer heerlike herinneringe terug. -- Estelle de Bruyn
• Ek geniet eerlik elke dag die stories in K’rant. Ek sê nog altyd Perskormense is mý mense. -- Johan van Wyk
• Ek het gaan kyk na die webjoernaal en geniet dit baie. -- Carla van der Spuy
• Ek het die webjoernaal onder oë gehad en vind dit indrukwekkend. -- Murray la Vita
• Net 'n vinnige mededelinkie hier uit die woesteny: ek dink ons webjoernaal is ’n beter, puiker, leesbaarder, interessanter leesstof as selfs die intranet van die magtige maatskappy in wie se diens ek is.– Gert Coetzee
• Het ek nou Gerhard Burger se stories vanoggend woes geniet! - Philip Deetlefs
• Ek het K’rant gesien (Phillip en Wilma het my vertel) en BAIE nostalgiese geraak. – Gert van Rooyen
• Ek/ons geniet die stories in K'rant sommer baie, ten spyte daarvan dat baie daarvan vir my vreemd is, bedoelende ek was nie daar nie. – Paul Kruger
• Hartlik geluk met die tuiste wat julle vir soveel kosbare herinneringe skep. – Herman Engelbrecht
• Dit word al hoe beter en al plesieriger. - Arrie de Beer
• K’rant lees is ’n hoogtepunt van my dag.- Arina Bohler
• Goeie werk wat julle doen met jul blog, K’rant. Só boekstaaf julle kosbare inligting wat andersins verlore sou gaan. - Izak Malherbe van Landbouweekblad.
• Ek lees die K’rant met groot plesier en waardering. - Amanda Botha
• Bakgat om te weet dat ek ook nou die K'rant hier aan die anderkant van die wêreld te sien kan kry. - Danie Malan, Afghanistan
• Laat mens wraggies ver terugdink! Geluk! Ons geniet dit hier in die Trafalgar Marine Reservaat. - August du Preez
• Ek geniet die K’rant baie – goed om te sien wat van baie oud-kollegas geword het. Doe zo voort, baie nice idee – veral die blog-formaat. - Ian Smith
• Baie geluk met die nuwe weergawe van K’rant! Dit maak uiters interessante en soms komiese leesstof! Ek sien uit na nog baie sulke vertellings! - Lala Wahl
• Ja, ek het K’rant al onder oë gehad en dit nogal geniet om ‘n paar bekende, hoewel kwalik herkende, gesigte te sien. - Suzelle Fourie
• Baie geluk met die K’rant wat nou ‘n blog is. Joh Groenewald het dit vir my aangestuur. - Frikkie Odendaal
• Ek is baie beïndruk met jul K’rant vir ou Perskorianers! Ek kry dit soms die van Joh Groenewald in Pretoria! - Muriel Hau-Yoon
• Ek’s regtig nie die tranerige soort nie, maar ek moet sê die nostalgie laat my maar ’n paar keer sluk as ek my K’rant kry. Julle ouens doen goeie werk. - Gert Coetzee
• Laat die koerante kom. Goed om Willie se bydrae ook te sien. - Arrie de Beer
• Jis, dis darem ‘n lekker K'rant die! Goed om weer van Japie en Willie te hoor. - Buks Pietersen
• Ai, al die memories kom terug. Dankie, dis awesome! - Zelmari Botha
• Wat 'n lekker verrassing – die K'rant! Het dit baie geniet. - Piet Roos
• Dankie vir die lekker Krantjie. Ek het Peet se storie geniet. - Philip Deetlefs
• Baie dankie! Ek het K’rant werklik baie geniet en besonder interessant gevind. - Stella Niemand
• Dankie vir die K’rant! - Sandy Macdonald
• Dankie vir die K’rant, ek dink dit is 'n blink gedagte! - Rean Steenkamp
• Dis lekker om oor stukkies nostalgie te lees. Dit laat die drukkersink so ’n hobbel-skop in my binneste maak. - Hoffie Hoffeldt
• Ek hou van die K’rant. Julle mag maar stuur. Lekker om na iets anders te luister as na visstories. Ek byt maar steeds vas by Stywe Lyne. - Etienne Kriel
• K’rant lees lekker. Mooi so. Dankie. - Peet Simonis
• Wat julle ookal doen, moenie my K’rant stop nie. - Mariska Spoormaker
• Bly stuur, asseblief. K’rant lees heerlik! - Arina Böhler
• Ek wens julle alle sukses toe met K’rant - Annette (Human) Wagner
• Wat ’n lekkerte om weer te kan kontak hê met ou kollegas/vriende uit die Perskor-dae. En sommer ’n groot dankie aan julle ouens wat agter die stigting van K’rant is – mag dit van krag tot krag gaan. - Charl Thom.
• Ek wil eerstens jul manne bedank vir jul produk - die K’rant. Ek was heimlik nogal opgewonde daaroor nadat ek die eerste een “in my hand gehou” het. – Frans Roodt.
• Moerland! Dit is voortreflik. Uitpuntend, soos Gert Kotze sou sê. – Gerhard Burger.
• Ek het nou net ‘n lekker nostalgiese trippie met die K’rant saamgevat. - Gerhard Kleijn.
• Danksy Sandy is ek nou ingeteken op die K’rant en kan ek saam met julle almal die nostalgie ervaar. Moet sê die stories van die meer ervare joernaliste is baie interessant. Ek verlang sommer weer terug na die goeie dae by Perskor! – Hanlie Delport.
• Hier krap ek nou op die Internet rond en kom op dié wonderlike blad af. – Johan Smit.
• Ai, hoe trek my hart dan nou sóóó na Empireweg-verlenging in die 70's! – Lala Wahl.
• Dis met nostalgie dat ek K’rant lees. – Piet Roodt.
• Allereers moet ek julle gelukwens met die blog wat julle uitstuur -- 'n baie professionele stukkie werk, hoor! – Sipke de Vries.
• Nee kyk, hierdie ‘Krant-besigheid kan verslawend wees. Julle is nou al derde op my lysie van vroegoggend-leesstof op die internet – dis nou ná my e-pos en die weervoorspelling. Kry selfs voorkeur bo Die Burger! – Suzelle Fourie.
• Ek het onlangs van die kermende Engelse blad, “Journos of the 70's, 80”, bedank en vir hulle gesê dat hulle moet ophou kerm en na Perskor se blog gaan om te sien waaroor dit eintlik moet gaan. – Wessel Oosthuizen.
• Ek sit op hete kole en wag vir Vrydag om Andries se volgende hoofstuk van die Wimpie de Klerk-storie te kan lees. – Philip Deetlefs.