Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.10.12

Die dag toe Mooiwillem hom vererg het

PHILIP DEETLEFS skryf: As misdaadverslaggewer was jou kontakte by die lykhuis, ambulans, die moord- en roofafdeling van die polisie, ens, baie belangrik, want dis die manne wat in die heel voorste linies geveg het teen die klas misdaad wat die nuusredakteur graag in die koerant wou publiseer.

Destyds was die hoof van die moord-en roofafdeling daar in Brixton ’n
kolonel Willem van der Merwe, maar almal het sommer van “Mooiwillem” gepraat. Ek weet eintlik nie hoe hy hierdie bynaam gekry het nie, maar toemaar.

Nietemin, kolonel Mooiwillem het nie ‘n groot voorliefde vir koerantmanne gehad nie. Hy het altyd gesê ons maak sy werk vir hom moeiliker.

Die een ding wat die kolonel diep omgekrap het, is as hy en sy afdeling by ’n moordtoneel opdaag en ’n koerantman is reeds daar. Omgekrap is eintlik nie die woord nie. Wippend bebliksemd ook nie, maar dis darem effens nader aan die waarheid.

So onthou ek van ’n inwoner van die YMCA in Johannesburg wat homself doodgebloei het nadat iemand hom met daardie ou “Minora”-soort lemmetjies in sy eie kamer ernstige leed aangedoen het.

’n Ambulansman het my met die nuuswenk gebel. Hy was eerste op die toneel, maar het die lykhuis laat kom omdat die ambulans nie dooie mense mag vervoer nie. Voor hy nog die lykhuis bel, het hy my gebel, dit nog ’n halfuur of so gegee en toe eers bel hy moord-en-roof. (My soort mens wat so mooi saamwerk!)

Toe Mooiwillem by die kamer kom waar die tragedie plaasgevind het, kon ek reeds ’n foto of twee neem, in die kamer bietjie rondkrap vir nuuswaardigehede en so.

Mooiwillem was briesend toe hy my sien en het my summier in die ontvangskantoor van die YMCA laat toesluit om later met my te kan “afreken”. En sommer ook hoor wie die kontak was wat my voor hom gebel het. Hy het ook die film uit my kamera getrek, kastig om teen die lig te kyk watse foto’s ek geneem het!

Wat Mooiwillem nie raakgesien het nie, was die telefoon in die kantoor-sel waar ek aangehou is. Al wat ek hoef te gedoen het, was om vir Willie Buys te bel, wat op sy beurt vir die hoof van die polisie gebel het om te kla oor hoe sy personeel deur die polisie behandel word.

Die volgende oomblik het ’n polisieman die deur vir my oopgesluit en eintlik benoud gevra om, asseblief, baie gou daar weg te kom, want Mooiwillem soek ’n koerantman wat hy met ’n lemmetjie kan opkerf.

En daar’s ek weg minus die foto’s, maar met ’n storie.