Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.10.12

Douglas en Mooiwillem se hase-stryery land Willie amper in tronk

WILLIE BUYS skryf: Daar is soveel raakvlakke in die beroepsondervindings van kollega Philip Deetlefs, nou ’n suksesvolle makelaar in die Namibiese Republiek van afgetrede oom Sam Nujoma, en my dat dit geen wonder is ons het lewenslange vriende geword en gebly nie.

Die jongste berig van Philip oor kol. Mooiwillem van der Merwe het ’n brok
inligting uit my geheue losgemaak wat ek meen stawend is van my vriend se stellings oor dié stroewe ou polisieman. Mooiwillem se gesig kan ek nie so mooi onthou nie, maar sy knorrigheid met veral joernaliste wel. Dit het hom wel minder mooi en ietwat van ‘n dissiplinêre diktator gemaak.

Douglas Jones
My storie gaan oor die dae toe ek as ’n verslaggewer by die destydse koerant Dagbreek en Sondagnuus gewerk het saam met ouens soos Chis Vermaak, Douglas Jones, Mike Meiring, Mike van Niekerk, broer Tom Buys (nou almal saliger) en Herman Snyman. Ek het in ’n vorige skrywe oor Douglas gemeld dat hy ’n polisieman was voordat hy joernalis geword het. Omdat hy in ’n polisiekultuur wortel geskiet het, waar terme soos "hase" gebruik is om die mense buite die "mag" te beskryf, was hy vriende met mense soos gesegde kol. Van der Merwe.

So het dit gekom dat ’n paar van ons (Mike Meiring, Chris Vermaak et al) saam met Dougie na ’n suipsessie by die Brixtonse moord- en roofafdeling gegaan het. Hoe later hoe kwater, in die geval van Mooiwillem, wat onder Bachus se invloed al hoe minder mooi en al hoe meer moerig geword het. Hy en Douglas het in ’n argument vasgehaak waarin die woord "hase" vryelik rondgeslinger is. Hulle het al stryend in die donker gang af in die rigting van die selle afgepieker.

Nuuskierig en bekommerd oor die luide, woedende toonaard van die argument het ek hulle gevolg en dit durf waag om te vra wat aan die gang is. Dit het ’n siedende reaksie by Mooiwillem ontlok wat wou weet "wie is hierdie haas, vir wat kom hy inmeng en vat hom weg voordat ek hom in die selle opsluit". Douglas het baie diplomaties aan my beduie om my uit die voete te maak, hy’s orraait, blah-blah-blah.

Die volgende dag was ek gestraf met ‘n kloppende hoofpyn-babalaas en ’n skuldgevoel oor ’n sonde in die oë van Mooiwillem wat ek tot vandag toe nie weet ek gepleeg het nie. Omdat die polisie so ’n integrale deel was van joernalistieke werk, moes ek maar my trots in die sak steek, Mooiwillem bel en verskoning vra, iets soos: "Ek’s jammer oor die voorval gisteraand."

Waarop Mooiwillem ietwat oorbluf gereageer het, omdat ek seker is hy ook nie geweet het waaroor dit gaan nie, maar sy rigiede ego (sekerlik gestreel deur dié kruip-gebaar) knor-knor die verskoning aanvaar het.

Snaaks genoeg, van daai tyd af het ons nogal goed klaargekom. Maar met dié voorbehoud: moet dit net nie durf waag om die gesag van dié speurhoof op enige gewaande manier uit te daag nie, want dit kon tot fusilasie van jou misdaadverslaggewingsloopbaan lei.

L’chaim!