Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.10.12

Van die Sans tot die Colosseum tot Berchtesgaden…

ANDRIES BOTHA skryf: Van die Perskor-gebou in Aucklandpark tot die agttiende verdieping van Sandton City vanwaar ’n mens die Voortrekker-monument op ’n helder dag kan sien.

Dis die omgewingsverandering wat ek ervaar het toe ek in 1976 as assistant-redakteur van Die Vaderland na die Vryheidstigting Suider-Afrika verhuis het. Alles goed en wel en wonderlik, maar niks in Sandton
City was naby so aangenaam soos my kollegas by Perskor of die tye in die Sans Souci nie. Ek sou almal so graag met my wou saamneem.

Ook na die wonderlike verblyf in die Hotel Forum in Rome waar ek in die biblioteek van die hoofkwartier van die Verenigde Volke se Wêreldvoedselorganisasie (WVO) navorsing gedoen het oor die voedselsituasie in Afrika en hoe Suid-Afrika ander Afrika-state kan help om meer voedsel te produseer.

Die terras van die Hotel Forum, Rome.
Die vierster Forum dateer uit die 18e eeu en is oorkant die Romeinse Forum tussen die Colosseum en die Piazza Venezia geleë. Met ontbyt op die terras kon ’n mens jou sit en verwonder aan die uniekheid van die Ewige Stad. Maar dit was bra eensaam, want soggens moes ek behoorlik in die biblioteek insluip, omdat Suid-Afrikaners nou nie juis met ope arms daar ontvang is nie.

Daarna was dit Parys toe en vandaar na Brussel, die hoofkwartier van die Europese Unie, waar ek deel was van ’n afvaardiging van die Suid-Afrikaanse vleisbedryf wat met OPIC, die Officina Internacional de la Carne, die internasionale vleisbedryf se liggaam wat hoofsaaklik uit Europees-Latynse lande, Suid-Amerikaanse, Amerikaanse en Duitse afgevaardigdes bestaan het, onderhandel het om hul volgende kongres in Suid-Afrika te hou.

Ritse tolke.
Daar het ek my behoorlik verwonder aan die vlotheid waarmee alles verloop het en kennis gemaak met gelyktydige vertalings waar ’n mens jou gehoorstuk op jou ore sit en ’n knoppie druk vir die taal waarin jy die verrigtinge wil hoor. Bo, agter glas, kon ’n mens die tolke sien sit.

Om ’n lang storie kort te maak, die OPIC-kongres is toe wel in 1977 in Suid-Afrika gehou. By die RAU en ons het ook gelyktydige vertalings en al die goeters gehad. Dit was werklik ’n deurbraak in ons tyd van uiterste isolasie, veral ná Soweto 1976.

Vandaar was dit na München waar ons afgevaardigdes van die Internasionale Grünerring, ’n organisasie wat landbou-toerisme bevorder, ontmoet het. En naby die München-stasie het ons kennis gemaak met ’n groep Europeërs, hoofsaaklik Duitsers, wat met ontbyt nege-uur in die oggend al liters en liters bier saam met ontbyt drink. Ons het maar ingeval – en amper op die spoorwegstasie omgeval.

Want van München af het ons 180 km moes treinry tot by Berchtesgaden waar die Grünerring hul konferensie gehou het.

Hitler se berghuis in die Obersalzberg-gebied.
Berchtesgaden is in die Duitse Beierse Alpe, sowat 2 700 meter bo seespieël, die plek waar Adolf Hitler en sy minnares, Eva Braun, graag ontspan het. Dis na aan die Oostenrykse grens en sowat 30 km van Salzburg af.

Die Obersalzberg-gebied is in die jare twintig deur die Nazis gekoop vir hul leiers om te geniet. Hitler se berghuis, Berghof, was hier geleë. Berchtesgaden en omgewing is toegerus om as ’n buitepos vir die Duitse Reichskanzlei-kantoor te dien. Die Derderykse stasiegebou in Berchtesgaden spog met ’n ontvangsarea vir Hitler en sy gaste. Eva Braun het graag in die hotel Berchtesgadener Hof tuisgegaan waar sy onder meer skouers geskuur het met gaste soos Erwin Rommel, Joseph Goebbels en Heinrich Himmler, sowel as die Britte, Neville Chamberlain en David Lloyd George (seker toe hulle onsuksesvol met Hitler onderhandel het om die Tweede Wêreldoorlog te probeer vermy). Dié hotel, waar ons toe tuisgegaan het, is in 2006 afgebreek en deur die museum, Haus der Berge, vervang.

Landskap in Berchtesgaden
Die Berchtesgaden-Nasionale Park is in 1978 gestig en daar is geen nywerhede nie, wat dit ’n ideale ontsnappingsoord vir toeriste maak.

Eienaardig genoeg was dit sulke tye dat ek verlang het na die uniekheid van my joernalis-kollegas en die bekendheid van die Sans.

Hoe dit ook al sy, ons het daar heerlik saam met die gasvrye Europeërs gekuier en ’n besoek na Suid-Afrika is beklink. Later het ons heerlik in die Soutpansberg Suid-Afrikaanse gasvryheid geniet – gelukkig darem nie met liters bier op ’n nugter maag nie!