Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.10.12

Moenie K’rant met jul lekkerhede snoep nie

Piet Ebersöhn skryf: Ek wonder soms of dit net ek is wat so ’n norring lekkerhede in my koerantdae ervaar het en of dit net ek is wat so voorbarig is om daardie oomblikke met K’rant-lesers te deel, maar nouliks verskyn ’n storie of dit laat my gedagtes langs ver paaie dwaal en loop iewers ’n goue herinnering raak. Dat die eerste moontlikheid waar is, kan ek nie werklik glo nie, maar hoekom vertel julle ander dan nie ook van julle s’n nie. As die tweede moontlikheid reg is, moet ek seker my snater hou voor Frik van der
Walt my van “verbale diaree” beskuldig.

Maar, asseblief, laat my dan nog net my hart oor dié paar sake lug.

Koerante vir die generaal

Joe van Buuren skryf oor die Foxstraat-beleg: Daardie dag het ek spesiaal gereël om die vyfuur-subskof te werk sodat ek ‘n oom van my se begrafnis op Hartswater in die Noord-Kaap kon bywoon. Op pad terug op die M1, beland ek in die ergste verkeersknoop wat ek in my lewe ervaar het. Dit geld selfs vandag nog. Wat ‘n nagmerrie vir ‘n niksgewoond-plattelander. Dit was ongemaklik lánk ná vyf toe ek uiteidelik in Aucklandpark aanmeld.

Met die intrapslag was dit duidelik dat alles in rep en roer is. Omtrent die hele hoofredaksie was in die gang tussen Willie Buys se nuuskantoor en die nagkantoor aan ’t koukus.

“Rooi Rus sê: Skiet hulle!” het David Meades beduie, moet die hoofopskrif op die voorblad wees. Toe het ek besef dis ernstige sake.

Selfs al moes ek tussen hulle deurvleg na die subtafel toe, het hulle nie eens my laatkommery opgemerk nie (waarskynlik nie eens vir my nie). In die nagkantoor is dit minder gunstig ontvang. Dít was waar die druk op daardie stadium die ergste was, so met die laaste blaaie se afgooi saam.

Maar aan alles kom ‘n einde en vroegoggend is die laaste van die dag se vele uitgawes drukpers toe en ook die nagkantoor se taak was afgehandel.

Frik van der Walt
Dis toe dat hoofsub Frik van der Walt voorstel dat ons darem self gaan kyk wat in Foxstraat aangaan. Ons kan mos nie dié avontuur net op hoorsê beleef nie! Gewapen met ‘n stewige pak vars koerante is ons daar weg stad toe.

Kort voor lank loop ons ons in ‘n weermagkordon vas. Ons mag nie verder gaan nie. “Maar die Generaal het koerante gevra. Ons is hier om dit af te lewer,” lieg Frik seepglad en na ‘n kort beraadslaging kry ons toestemming om verder te gaan. ‘n Blok of wat verder is daar nog ‘n versperring, die keer die polisie. Weer is dit Frik en “die generaal se koerante” wat die deurslag gee.

Nog ‘n blok verder loop ons ons in ‘n derde versperring vas. “Ons bring die koerante wat die Generaal voor gevra het,” vertel Frik weer. “Laat ons dan by die Generaal hoor,” sê die offisier aan diens behulpsaam en kom in radiokontak met die bevelspos.

Hy rapporteur: “Die Generaal sê die koerante is welkom, maar ons moet dit vir hom neem. Julle mag wel hier by die motor staan en na die onderhandelinge luister.” Só luister ons toe sowat ‘n uur lank hoe Lang Hendrik van den Bergh vir David Protter (hy het hom teen daardie tyd reeds op sy voornaam genoem) probeer omhaal om oor te gee.

Toe is dit ook nie meer snaaks nie en het ons maar gaan slaap.

Rika se hegte kring

Philip Deetlefs en Willie Buys had dit oor Rika van Graan se hegte nuusnetwerk, maar nie een van die twee meld die rol wat party van die nommer-asseblief-tannies van destyds – die telefonistes by die nou verdwene plattelandse handsentrales – in dié opsig gespeel het nie. Die tannies kon mos lekker inluister op al wat gesprek was en het nie op hulle laat wag om Rika te laat weet wanneer hulle van ‘n sappigheidjie te wete gekom het nie.

En oor hoe lekker die manne op kantoor by haar gekuier het, kan ek dié storietjie op hoorsê (maar uit ‘n baie betroubare bron) bylas.

Dit was ‘n Sondagaand en soos gebruiklik het die subtafel op halfsterkte gefunksioneer. Dit was egter ‘n uiters druk aand en daar was nie kans vir ginnegaap of selfs asemskep nie.

Een van die huursoldate (deeltydse subs) was ‘n man wat, soos Joe van Buuren sou sê, gereeld onder die prop gegaan het. Hy moes maar kort-kort ietsie vat om te kon by bly. Dié aand was daar nie kans voor nie, en kort voor lank pak die ontrekkingsimptome hom beet. Hy gaan aan ’t ruk, val van sy stoel af, gee nog ’n paar rukke en val flou neer. Onder dit alles gaan die werk van die nagkatoor onverpoosd en pligsgetrou voort, want soos wyle Koos Liebenberg graag ons daarop attent gemaak het, spertye is in bloed geskryf.

Toe nagredakteur Mike van Niekerk blaf: “Iemand, help die man!” het ’n sub opgespring en vir Rika gaan vra om die ambulans te ontbied om die pasiënt hospitaal toe te haal. Die ambulansmanne was gou op die toneel, het die slagoffer op hul draagbaar gelaai en is die nagkantoor met hom uit.

Toe sien hulle Rika raak. Die draagbaar is net daar in die gang staan gemaak, en die ambulansmanne het ’n goeie halfuur by haar gekuier voor die pasiënt hospital toe is.

Spiekeries se neukery

Ilze Welgemoed skryf dat Gerhard Viviers nie objektief genoeg vir TV was nie: Só boks Pierre Fourie een aand in Johannesburg teen Victor Galindez om die wêreld se ligswaargewigtitel en DT se nagredaksie luister hoe Gerhard oor die radio beskryf hoe Pierre die Argentyn opdreun. Dit was voorbladnuus. Sterk voorbladnuus.

Pierre Fourie
Daardie jare is die koerant nog in lood geset en die grootste beskikbare lettertipe was 108 punt. As ‘n storie sterker was – en dit was selde – is die kop in lood geset, deur die litograwe gefotografeer, vergroot om oor nege kolom te strek, en dan op die bladsy geplak.

Dié storie was heeltemal te sterk vir 108 punt. Om tyd te bespaar, is wyle Peet Smit voor die einde van die geveg al af fabriek toe om die hoofkop gereed te kry. As die sportredaksie se berig kom, kan dit net geset en ingeslaan word. Dit was nie lank nie of Peet stap die nagkantoor binne met die opskrif trots omhoog – amper soos ‘n boksskeidsregter wat die wenner se arm in die lug hou – “Pierre bo!”, of iets in dier voege.

Toe verneem hy Pierre is toe nie bo nie, en ek sien hom vandag nog daar in die nagkantoor se deur staan, arms nog in die lug, met die kop wat, soos ‘n wit herfsblaar, stadig grond toe fladder.

Len maak ’n plan

Johan Liebenberg skryf oor wyle Len Lindeque se skerpsinnige poetsbakkery: Mike van Niekerk (ook saliger) het vertel van die slag toe Len graag ’n rugbytoets op Ellispark wou sien, maar nie ‘n kaartjie kon (of dalk wou) kry nie.

Hy en ’n vriend kry toe iewers ‘n Coca-Cola-advertensiebord in die hande, trek elkeen ‘n oorpak aan en stap doodluiters met die bord deur Ellispark se hek. Binne in die stadion het hulle die bord iewers neergesit, die oorpakke uitgetrek en ongemerk in die skare verdwyn.

Langs ver paaie

Nic Kruger skryf van Harry Lombaard wat nie sy huis kon kry na ’n geslaagde sportskrywers-geselligheid nie: Harry het al my simpatie.

In die laat jare sewentig sou Johan (Essie) Esterhuizen berig oor ’n wedstryd tussen die Griekwas en Oos-Transvaal op Springs. Wel wetend hoe ’n vurige Griekwa-ondersteuner ek is – ons wen net elke 50 jaar die Curriebeker, maar dink net hoe lekker is dit dan! – reël Essie vir my plek in die persbank op Pam Brink en ons ry met my motor.

Die Griekwas verloor toe, maar ons kuier lekker na die wedstryd. Nou ook nie te lank nie, want Essie se meisie wag op hom by haar ma in Krugersdorp-Noord. Toe ons ry, vra twee van die Griekwa-spelers of hulle nie kan saamry tot by die Casseldale-hotel nie.

Kyk, vir ‘n Griekwa kan ek nie nee sê nie, en ons kuier toe nog ’n rukkie by die hotel ook voor ons die pad Krugersdorp toe aandurf.

Iewers moes ons die koers byster geraak het, want na ons al ’n geruime tyd gery het, sien ons toe ’n bord wat ons “Welkom in Nigel” heet.

Nodeloos om te sê, toe ons in Krugersdorp aankom met die son wat al sy kop hier agter ons uitsteek, was ons nêrens op die gewildheidsleer nie. Het ons maar in Nigel agtergebly!

Met dof sware plof

Die motorskaarste wanneer ’n storie gedoen moet word, is al ’n paar keer uitgewys. Gelukkig, sê Willie Buys, het die polisie destyds darem nog motors gehad om Rika van Graan in ’n noodgeval te gaan oplaai. Vandag sou selfs dít lol!

Nigel-stadsaal
So sit en kuier ons een aand in Vegkop, onder andere met Hennie Venter wat op ‘n persmotor wag om die Nigelse kiesafdeling (alweer Nigel, ja) se afskeid aan John Vorster, nou staatspresident, in die dorp se stadsaal te gaan bywoon. Al wat opdaag, is egter die persmotor en soos die begeestering toeneem, bied ek toe aan om Hennie Nigel toe te neem.

Toe ons die stadsaal se trappe opstap is die verrigtinge al aan die gang en spreek Hennie die hoop uit dat daar darem nog plek by die perstafel is.

Selfs ons mans het mos destyds skoene met sulke hoe hakke (darem nie spykerhakke nie) gedra en ek het ‘n paar met houthakke gedra. Dit het bra hard deur die saal weergalm toe ons die paadjie op stap.

Op ‘n tydstip besef ek Hennie is nie meer saam nie. Toe ek omkyk, sit hy heel agter in die saal – toe stap ek maar die heelpad terug om langs hom te gaan sit. Ek glo nie hy het my staptog ooit vergewe nie!

Terloops, toe ek in 1979 by DT weg is, het Willem de Klerk my darem probeer omhaal om te bly, onder meer met die wortel van beter salarisse en ’n motorvoordeel vir redaksielede waarvoor hy bestuur gevra het.

Kom ons kyk wat word daarvan, dan kan ons altyd weer praat, was my reaksie. “Ons het toe die motorvoordeel gekry,” het Willem my met ’n breë glimlag meegedeel toe ons mekaar sowat ’n jaar later by ’n geselligheid raakloop, “twee nuwe karre vir die poel!”

Sans-skrum

Al die verwysings na die oorlede Sans Suici laat my dink aan ’n geleentheid in die dameskroeg toe ek en sportskrywer Charles Ochse oor ’n fynere puntjie van voorryspel verskil het. Soos in Schuster se liedjie sak ons toe sommer daar en dan om die saak uit te maak.

Ongelukkig vir Charles was sy rug na die muur gekeer en toe ons sak, sak die helfte van die kroeggangers saam met my. Hy kon my nie vining genoeg gelyk gee nie, en het eers met die opstaan gesien teen watter oormag hy geskrum het!

Koos laat my ook bloos

Johan van Wyk vertel van Essie Esterhuizen se glips met Koos van Staden. My verleentheid met Koos was heelwat groter.

As skakelbeampte by die SA Landbou-unie het ek en my destydse baas vir Koos – as Die Vaderland se verbruikersredakteur – en die koerant se nuusredakteur, wie se naam my ontgaan het, by die Carlton-hotel se deftige Three Ships-restaurant onthaal.

Met die betaalslag kom my baas agter hy het nie sy beurs by hom nie. Ek was allermins op so iets bedag en kon nie vir hom instaan nie.

Toe moet ek Koos en sy kollega geselskap hou terwyl my baas Pretoria toe jaag om sy beurs te gaan haal! Dit was ’n skrale troos dat hy ’n tydrenjaer was en die retoerrit korter as normaalweg geduur het…