

NIKI WESSELS (links), op Vrydag, 5 April 2013, oorlede is.
“Niki se kanker was uitsonderlik aggressief en dwarsdeur haar liggaam versprei en die laaste paar weke kon sy ook glad nie meer self loop nie. En tog het sy haar humorsin deur dit alles behou! Merkwaardige mens gewees!”
‘n Ander gewese Vaderlander, MARISKA SPOORMAKER, bring hulde aan Niki:
![]() |
Mariska Spoormaker |
Nou kan dit net neergepen word.
Niki Wessels, Vaderland-kollega in die jare tagtig, wat selfs die heilige koeie aan die giggel sou kry met haar hoe-hoe lag oor kwansuise “belangrike” dinge en “insiggewende” uitsprake.
Dis die feite wat tel, ou pel. Dan bly sy rustig, rook sigarette pff-pff op haar manier terwyl die ander op en af en heen en weer oor wat die implikasies van die “belangrike” en “insiggewende”dinge sou wees.
Vir my was dit altyd die lekkerste om haar wetenskap-berigte te lees. Moeilike onderwerpe, verstaanbaar en lekker leesbaar vir my plat brein aangebied.
Niki, só het ek haar beleef, was verlief op die wêreld waarin sy gewoon het. Iemand met haar eie uitgangspunte en reëls, nie dié van die Voorskrif-Samelewing nie. Dié dat ek, ‘n honderd jaar later, nog van die “merkers”onthou.
• ‘n Manlike kollega (ja, ek is nou al oud en wys genoeg om sy naam te verswyg) het die nare gewoonte gehad om ons vrouens aanhoudend aan die boud te knyp. Dan gaan ons aan oor vroueregte, eerskending en sulke goed en hy het die reaksie wat hy wou gehad het. Te midde van dit alles sou Niki óf vooroorgebuig by nog interessante (wetenskap)lektuur gesit, óf behaaglik gerook, óf op en af, op en af geloop en dink het hoe sy die storie sou skryf. Die kletters van haar tikmasjien was dan later die “dead give away” dat sy die regte aanslag en woorde gevind het.

Toe eendag, loop sy weer peinsend op en af. Mnr Boudknyper loop verby. Steek vas, knyp haar boud. Niki staan stil, draai woordeloos om, kyk na Boudknyper. Sonder verandering in gesigsuitdrukking of ‘n enkele woord, neem sy Boudknyper se kroonjuwele in haar hand. Staan net so. Hy staan net so. Sy gesig word rooi, hare nie. Sy “squeeze”. “Is dit lekker?” vra sy naderhand. Boudknyper prewel weer iets. “Is dit lekker?” Weer geen antwoord. “Jy moet daarvan hou, anders sal jy dit mos nie doen nie?” Hy het dit nooit weer gedoen nie.




Donderend. Dreunend. En wanneer die sigaret brandend in die wit piering langs haar lessenaar bly lê het, het ons geweet: A, Niki is op volle spoed, die storie vloei alweer by haar vingerpunte uit. Dan het Chris Louw voor in die groot redaksiekantoor met die alewig vuil vensters gaan staan. “Niki! Los daai tikmasjien! Hy het jou niks gedoen nie!”
Nadat ek weg is by Die Vaderland, het ek en Niki nie weer saamgekuier nie. Ons was meer kantoorgenote. En sou ons weer mekaar raakloop, sou dit in elk geval net ‘n nuwe hoofstuk in dieselfde boek wees wat ons sou kon oopslaan en verder saam aan lees. Só het dit ‘n paar jaar later by Republikeinse Pers gebeur. Sy was by Rooi Rose, ek by Keur. Niki nog altyd in haar eie wêreld. Weer ‘n wonderlike kantoorpel. Eers was sy in die groter redaksionele kantoor, later in haar eie.

Ek is weer weg by Republikeinse Pers voor Niki gegaan het, maar het haar stories bly volg. Veral die ene wat sy die aand nadat sy in haar huis beroof is, geskryf het. “Is jy mal, Niki?” wou ek weet. “Hoekom?” het sy gevra, “dis mos wat gebeur het.”
Heelwat jare later loop ek haar weer op Facebook raak. Jip, nog presies dieselfde Niki. Toe het ek al gewonder of sy al atome begin splits het, maar ek het nie gevra nie. Het maar net aangeneem sy haal nog steeds die beste uit haar lewe. Op die Niki-manier.
Sê maar ek is een van die mense wat baie van Niki onthou, maar min van haar lewe geweet het. Selfs ook nie dat haar siekte so terminaal was nie. Oplaas het sy dit reg gekry om my vir die eerste keer die skok van my lewe te gee.