Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.1.13

Onvergeetlike Francois ’n kleurryke karakter

HERMAN LE ROUX, gewese assistent- en sportredakteur van Volksblad en later ook van Beeld skryf: Die “Reader’s Digest” het vir baie jare ‘n hoofstuk gewy aan “The most unforgettable character I have met.” Toe my nomadiese vriend, Francois Roux, Junior Springbok-vleuel van 1955 en oud-joernalis van Perskor, in 2008 op 78-jarige ouderdom oorlede is, het ek gedink dit is nogal ‘n raak beskrywing van hom.

Belowende atleet, skitterende rugbyvleuel wat vir vyf provinsies gespeel het, veelsydige joernalis by verskeie koerante (selfs in Londen en Zimbabwe), avonturier, ‘n nie te suksesvolle sakeman nie, en in sy laaste jare ‘n soort kluisenaar wat op sy eie wou wees, buite bereik van ‘n telefoon. Hy was met sy ouderdomspensioen en finansiële hulp van sy enigste kind, mev. Siobhan Rothenburg, ‘n vryskut-kopieskrywer van Kaapstad, heel gelukkig as bywoner op ‘n plaas sowat 30 km van Lephalale (Ellisras) – sonder sy eie vervoermiddel.

Francois Roux
Toe hy sowat 25 jaar jaar gelede geskei is van René (gebore Dippenaar), voormalige joolprinses van die Kovsies, en nie ‘n vaste werk gehad het nie, het ‘n vriend van hom opgemerk dat iemand in Francois se skoene maklik ‘n boemelaar kan word. Maar dit was hy nooit. Hy het enduit netjies gebly, gereeld geskeer en nooit, maar nooit gebedel nie.

Dalk was hy ‘n “rolling stone,” maar soos die Engelse ook sê, altyd “happy-go-lucky” – dalk vandaar sy bynaam Lucky.

Oudkollegas en vriende van Francois kan almal ‘n besondere staaltjie oor hom vertel.

Steyn Lureman, voormalige sportredakteur van The Friend in Bloemfontein, onthou dat Francois in ‘n stadium ‘n nuwe politieke party wou stig, maar toe nog nie daaraan gedink om ‘n sportbeleid te formuleer nie.

Joe Venter, veteraan-joernalis, onthou hoe Francois een aand iewers in die Karoo sy drukkery vir ‘n hotel verruil het, maar die volgende oggend die transaksie gekanselleer het.

Gerhard Burger, voormalige sportredakteur van Die Vaderland, vertel dat Francois in sy omswerwinge in 1960 in Oos-Londen beland het. Sy rugbyloopbaan van meer as ‘n dekade was feitlik verby, maar skielik besef hy dat hy vir oulaas teen die toerspan van die All Blacks kan speel. Hy het by die klub Hamiltons aangesluit en die span van Grens teen die besoekers gehaal.

Voorheen het hy vir die Vrystaat, Noord-Transvaal, Transvaal en die destydse Rhodesië gespeel. Toe hy in 1955 uithaler-spel vir Transvaal gelewer en ‘n Junior Springbok geword het, was hy goed op pad na die Springbokspan. Maar in die wedstryd teen die Britse Leeus op Ellispark het die kranige Tony O’Reilly, Ierse vleuel van die toerspan, drie drieë teen hom gedruk, en dit het dalk sy kans op Springbok-kleure gekelder. Roux het self ‘n drie behaal, maar dit was ‘n skrale troos.

Die kopermyne van die destydse Noord-Rhodesië het in die jare vyftig talle uithaler-spelers van Suid-Afrika gelok. In 1957 het dié streek drie Junior Springbokke, Francois Roux, Lance Nel en Des van Jaarsveldt, en twee Springbokke, Jack van der Schyff en Tom van Vollenhoven, in sy span gehad. Roux het ook die Rhodesiese toerspan gehaal vir ‘n reeks Curriebeker-wedstryde in Suid-Afrika.

Voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy vir die Southern Chronicle in Zimbabwe gewerk. Hy was ‘n ruk lank ook ‘n joernalis by ‘n Londense koerant.

Hy het ook in Durban ‘n draai gemaak, maar dit was nie in die rugbyseisoen nie en so het hy die kans misgeloop om ook vir Natal uit te draf. Op Aliwal-Noord het hy ‘n drukkery (Bokmakierie) bedryf en ‘n streekkoerant uitgegee en nie die kans gehad om vir Noordoostelike Distrikte te speel nie. Daarna het hy die soveelste keer na Bloemfontein teruggekeer, waar hy ‘n tweedehandse boekwinkel aan die gang probeer kry het.

Toe ek Roux in my matriekjaar in 1952 vir die Vrystaat teen Natal op Bethlehem in aksie gesien het, het ek nie besef dat ons paaie later dikwels sou kruis nie.

In 1953 het ek as student aan die Universiteit van Pretoria deur die nag tou gestaan by Ellispark om die Springbokke in die eerste toets teen die Wallabies te sien speel. Voor my in die tou was Francois Roux en ‘n kollega van hom by Die Transvaler, Hennie Kotzé. Hulle het ‘n matras saamgepiekel sodat hulle beurtelings op die sypaadjie ‘n slapie kon probeer inpas, want natuurlik nooit gebeur het nie

Toe Francois in 1954 vir die Vleisraad in Pretoria gewerk het, het hy die span van Noord-Transvaal gehaal. In die eindstryd om die Curriebeker teen die WP op Nuweland het hy ‘n drie gedruk wat nie toegeken is nie. Dit kon die wendrie gewees het. Met deesdae se hulpmiddels sou almal kon sien dat Roux wel die bal gedruk het voordat dit uit sy hande gespat het. ‘n Student van Kaapstad het met sy bokskamera uit die paviljoen ‘n foto geneem wat dit bevestig het. ‘n Kaapse koerant het die foto gepubliseer.

Francois Roux (regs agter) as Vaderland-subredakteur saam 
met kollegas Koos du Plessis, Desmond Cilliers, Ben Gertenbach
en Hannes Cilliers. Voor sit Piet Ayres (Die Vaderland), Tom 
Buys (hoofsub van Dagbreek en Landstem), Stoffel Mynhardt 
(hoofsub van Die Vaderland) en Mike van Niekerk (Dagbreek 
en Landstem).

Voordat Roux in die laat jare vyftig na Bloemfontein teruggekeer het, het hy ook in Johannesburg by Die Vaderland gewerk, waar Gert Kotzé sy sportredakteur was. In Bloem-fontein het hy van 1950 tot 1952 sestien keer die Vrystaatse span gehaal en ses jaar later, in 1958, nog twee keer.

As sportredakteur en rugbyskrywer van Die Volksblad het ek hom goed leer ken toe hy as subredakteur in die sportredaksie van The Friend gewerk het. In 1958 was hy en ek stigterslede van die Vrystaatse Vereniging van Sportskrywers. Hy was die eerste voorsitter en ek die ondervoorsitter.

Twee van my kollegas by Die Volksblad, Jan van Zyl en Kobus Hamman, wat in die vroeë jare vyftig saam met Francois vir die Kovsies rugby gespeel het, vertel van ‘n wendrie wat hy in ‘n Intervarsity teen die Pukke gedruk het, toe hy van die middellyn deurgenael het. “Hy het soos ‘n vlakhaas deur die verdediging gevleg,” sê Van Zyl, wat hom ook onthou as ‘n uiters belowende skole-atleet op Boshof.

As rugbyskrywer het Francois een keer voor ‘n groot rugbywedstryd ‘n glimlag ontlok met die volgende “voorspelling”: As span A nie wen nie, sal span B wen, anders sal dit gelykop wees!

In daardie stadium het hy op Glen buite Bloemfontein gewoon en ook met hoenders geboer. Toe skryf hy ‘n brief aan die redakteur van The Friend waarin hy vertel hoe sy kuikens al ‘n lang ruk stil lê, met hul bene in die lug. En hy vra: “Please sir, tell me, are they dead?”

Toe die Noord-Transvaalse Rugby-unie in 1988 sy vyftigste verjaardag gevier het, is by my aangeklop om Francois op te spoor sodat ‘n uitnodiging na die groot dinee aan hom gestuur kon word. In daardie stadium het hy in Midrand ‘n buitekamer by ‘n Fransman gehuur. Hy kon slegs per brief na ‘n posadres gekontak word.

Hy het my brief ontvang, die uitnodiging aanvaar, die feesviering bygewoon en die volgende dag by my kantoor by Beeld, waar ek die sportredakteur was, opgedaag om te kom dankie sê. Dit was heerlik om weer saam met iemand soos Tom van Vollenhoven te kuier, het hy gesê.

Toe vertel hy my van ‘n saketransaksie wat skeefgeloop het. Hy en twee vriende het jare gelede saam ‘n stukkie grond in Midrand gekoop. Sonder sy medewete is die grond aan ‘n groot bank verkoop sonder dat hy ’n sent ontvang het. Francois het toe ‘n paar miljoen rand geëis. “Selfs al kry ek net so R700 000, sal ek genoeg geld hê om van te leef,” was sy woorde aan my. Wat daarvan geword het, weet niemand.

Joe Venter
Hy het almal vertrou. Joe Venter vertel dat Francois op ‘n slag sy kleinhoewe en ‘n huis aan iemand verhuur het. Die ander persoon het die kontrakte laat opstel en toe Francois ‘n jaar of twee later sy huurgeld wou gaan haal, het hy verneem dat die huis aan ‘n ander ou behoort. Francois het niks gekry nie.

Johan Pienaar van Klerksdorp (intussen ook oorlede), wat saam met hom vir die Vrystaat gespeel het, wou jare gelede met Francois in verbinding tree. Weer is ek gevra om Francois te help opspoor. Siobhan het ‘n adres op Lephalale aan my verskaf waarheen ek ‘n brief kon pos. Maande later het ek ná talle telefoonoproepe by ‘n koffiekroeg beland waar Francois glo een of twee keer per maand ‘n draai gemaak het. Ek het ‘n boodskap gelaat dat Francois my moet bel. En so wrintiewaar dieselfde middag daag hy daar op en ‘n vriendelike vrou bel my terug en druk die telefoon in Francois se hand.

Dit was my laaste gesprek met hom.

Siobhan, ‘n voormalige Suid-Transvaalse gimnas, vertel my ná Francois se dood dat hy in die jare tagtig onder die skuilnaam Derek Crous ‘n roman, Malherbe’s Fist, geskryf het. Toe hy in Januarie daardie jaar ‘n hartaanval gekry het, was hy besig met sy tweede roman. So wou hy dalk in die voetspore volg van sy ma, die skryfster Sophie Roux.

Francois se vriende het dikwels gesê hy sal sterf sonder dat iemand daarvan weet. Toe ‘n oudkollega van my, Quintus van Rooyen, in 1998 in Pretoria begrawe is, was daar ‘n graf langs syne, nog sonder ‘n grafsteen met ‘n naam op ‘n stukkie hout: F. Roux. Dit het my groot laat skrik en ek het dadelik die begrafnisondernemer gebel. Nee, dit was nie onse Francois nie. Maar nou weet ons dat onse Francois wel oorlede is en dat sy as by Swellendam by die rivier gestrooi is.

“Daar waar hy as seun gelukkig was,” sê Siobhan.