Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.8.12

Die ‘scoop’ van alle vertaalflaters

PIET EBERSÖHN skryf: Estelle de Bruyn se storie oor die vertaalflaters herinner my aan so ’n blaps wat seker een van die grootste verleenthede geskep het wat ’n mens jou kan indink. Gewoonlik word dié soort foute darem onderskep vóór die drukstadium. Dit was nog in die dae van die SWA-Angolese grensoorlog. ’n Soveelste dienspligtige het gesneuwel.


In elk geval, ’n verslaggewer bel die gesneuwelde se ouerhuis, maar verneem dat hy nie met hulle kan praat nie. “They are in prayer with the minister,” is hy meegedeel. Of iets dergeliks.

En siedaar! ’n Lekker voorbladstorie, PW Botha se foto en al: “Minister bid vir gesneuwelde se gesin”. Eweneens, of iets dergeliks.

Hoe op aarde niemand in die redigeerketting daaraan gedink het dat ’n dominee op Engels “minister” genoem word nie, gaan eintlik die verstand te bowe. Dalk was die oomblik van “scoop”-skryf te groot. Dalk was die politieke gedienstigheid te sterk ’n inslag.

Ek dink aan nog ’n paar vertaalflaters wat darem betyds reggestel is en nie in druk verskyn het nie.

Bo-aan my lysie is die verslaggeefster wat gerapporteer het oor ’n polisieklopjag op ’n onwettige dobbelplek in Hillbrow. Hulle het op twee dobbeltafels en ’n groot hoeveelheid aartappelskyfies beslag gelê, het sy berig.

Iemand het by geleentheid “people queue jumping” vertaal met “mense wat tjeks uitskryf en dit boonop laat terugbons” en daar was die geval van “Mr Judge Erasmus” (die Engelse verwysing na ’n regter sonder die voorletters) wat as “mnr Judge Erasmus” bekend gestel is.

In ’n ander werkkring het ek ervaar hoe ’n nogal senior Engelssprekende radiojoernalis “tot dien effekte” in “to serve shares” en “in dier voege” tot “in animal joints” omgetower het.

Tersyde: Die mense wat nou se dae so graag die plek-, straat- en gebouname verander, vergoed darem ook soms op humoristiese wyse vir die ergernis wat hulle skep. Ek het dit nou al drie keer raakgeloop dat hulle na iets as “formally” verwys terwyl ek ’n sterk spesmaas het dat hulle eintlik “formerly” bedoel.

Ten slotte ’n klompie vertaalflaters wat presies agt jaar gelede op Perskorhaan verskyn het.

Piet Roos: Ek onthou die beste “foutjie” toe iemand “baton charges” met “betonstormlope” vertaal het.

Wyle Hoepel Scheepers: Of toe nog iemand Christchurch in Nieu-Seeland “vertaal” het as die Kerk van Christus.

Wyle Hannes Cilliers: En op ’n dag het “gilt edged stocks” goudomboorde sykouse geword.

Paul Maree: En omdat ons altyd die Sapa/Reuter-kopie die vorige dag vir die volgende dag se koerant gekry het, die “bright spark” wat die Engelse sokkerklub Sheffield Wednesday met Sheffield Donderdag vertaal het.

Andries Botha skryf: Ek onthou ook van ‘n paar knaterflaters (goeie Afrikaans vir ‘n balls-up, verneem ek). Ekself moes eenkeer ‘n SAPA-berig in my begindae vertaal oor” guerrilla fighters” in Mosambiek waaroor die subs hulle dood wou lag, want ek het hulle toe gorilla-vegters gemaak. Dan was daar die storie van “Two servicemen in Mozambique”, wat deur terroriste doodgeskiet is. In my vertaling het hulle toe sommer “twee diensbodes” geword.
      Piet Ebersöhn vertel ook dié een: Terwyl ek in 1970 my diensplig by Lenz buite Johannesburg gedoen het, het daar elders breinvliesontsteking in ‘n militêre kamp uitgebreek. Onder diegene wat die siekte opgedoen het, was twee weermanne (die laagste rang in die leër, “privates” op Engels). Ons het groot genot daaruit geput toe ‘n Engelse koerant berig het dat twee “weathermen” ook in kwarantyn was.