Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.1.13

"Ek kom amper tot 'n groot val!"

CARÉNÈ BOSHOFF skryf in Perskorhaan van Augustus 1973: Aardetjie tog, maar dit is hoog! Negentig voet bokant die grond. En onder my is daar net 'n dun ysterpyp en bokant die gebrul van 'n motorfiets se masjien.

Dit is hoe ek gevoel het toe ek onlangs gaan vasstel het watter gevare 'n sirkuskunstenaar alles deurmaak. Eintlik moes ek maar net gaan kyk hoe lewe die mense daar in die sirkus, maar toe besluit ek om sommer self te ondervind wat hulle ervaar.

Dadelik toe ek daar in Pretoria by die Continental Circus Berlyn aankom, het hulle gereël dat ek saam met Charlie op sy motorfiets gaan ry.

Charlie is eintlik Carl Janecke, die man wat by die Randse Paasskou die mense reeds die afgelope paar jaar aan die praat het met sy toertjies bokant die terrein.

Nou ja, so het ek geredeneer, as hy en Richard, met sy toertjies onderaan die ysterpyp, dit kan doen, dan gaan ek self voel hoe dit voel!


Carénè se waagstuk
Charlie het my eers goed vasgemaak met 'n stuk tou. Hy wou darem seker maak dat ek nie afval nie. Hy het later slapelose nagte gehad aan hierdie gedagte.

Toe begin die fiets se masjien bokant en om en in my tril. Die sensasie wat dit veroorsaak, was reeds genoeg om enige mens te laat voel dat jy hier met die werklikheid te doen het en dat daar geen kans vir omdraai is nie.

En daar trek ons! Nogal heeltemal vinniger as wat 'n mens sou verwag, skiet ons die hoogtes uit. En dit slegs met 'n dun kabel om ons daarvan te weerhou om die afgronde in te stort.

Daar op die hoogte van 90 voet (27,5 meter) bokant Pretoria se rooi grond, lyk die mensies daar onder darem maar klein. En snaaks, die geboue lyk so heerlik laag, asof jy aan hulle kan vat.

Weer terug na die begin.

Charlie was heeltemal gewillig om my weer boontoe te neem. As 'n mens dan besluit om iets te doen, dan doen jy dit goed. Só het ek gedink.

“INGEKONK”

En weer swiep die wind deur my hare. Dit voel heerlik vry en baie wonderlik om so bokant die grond voort te snel.

Daar bo het ek rondgedraai en foto's van die omgewing en die mense geneem. Totdat Charlie my vermaan het om tog maar stil te sit. Maar wie wil nou stilsit as jy van nature nuuskierig is en ook graag wil sien hoe lyk dit daar van bo af?

Toe ons die tweede keer onder kom, het die masjien van die motorfiets "ingekonk". Dit het die moontlikheid van 'n derde rit uitgeskakel.

Charlie vra my toe so ewe hoe dit voel. Toe ek hom vertel ek dink dit is fantasties, wonderlik, het hy net sy kop geskud en gesê: "You are very brave."

Voor die tyd en selfs daarna het mense gedink ek is heeltemal van my sinne beroof om ooit so iets aan te pak. Sommige van my vriende het my ewe besorgd na 'n psigiater verwys.

GEVARE NIE BESEF

Gelukkig het ek nie besef wat alles kon gebeur het nie. Toe ons klaar was met die avontuurtjie, het Richard vir my ingelaat op die gevare van die toertjies.

As die remme van die fiets byvoorbeeld onklaar sou raak, dan sal Charlie, sy motorfiets en wie ookal sy passasier is, die kabel afskiet teen 'n onbeheerbare snelheid. Daar sal min kans wees vir ontsnap.

Die persoon wat onder sit, het nog 'n kansie om af te spring en net 'n gebreekte arm of been oor te hou. As die persoon egter vasgemaak is, is daar maar min kans. Die hele stellasie waarop die fiets rus, sal inmekaar stort en die logiese gevolg is dat dit aan die brand sal slaan.

Daar was ook 'n motor so 'n paar voet onder my opgetrekte bene geparkeer. Charlie het gegil dat hulle die motor moet verwyder.

En toe het ek eers besef watter gevare so 'n motor, kan inhou. As ek nie my voete opgelig het nie, sou ek die motor raakgeskop het. Behalwe vir die moontlikheid dat ek 'n been kon breek teen daardie snelheid, sou dit ook die hele gedoente met Charlie bo-op, van balans geruk het. En dit sou 'n groot val beteken het.

DIE EERSTE VROU

Charlie het ook vir my vertel dat ek die eerste vrou in SuidAfrika is wat saam met hom gaan ry het. Hy wou my sommer met alle geweld 'n heeltydse betrekking aanbied. (Hy kon egter nie by die pers se salaris bykom nie, maar het daarna weer met die voorstel gekom dat ek saam met hom aan sy toertjies moet deelneem.)

Ek wou mos nog altyd sulke snaakse dinge aanvang en het eintlik maar van hoeka af trek vir daardie soort toertjies. En nou het ek self gaan vasstel hoe dit voel.

En ondanks almal se waarskuwings, mense se verwysings na 'n psigiater, en al die gevare, sal ek dit weer gaan doen, as die geleentheid hom voordoen.

Daardie wonderlike, vry gevoel kan 'n mens aan niemand beskryf nie. Dit is iets wat ‘n mens slegs verstaan as jy dit self ondervind het.

Ek het aanvanklik gedink dat ek bietjie skrikkerig sal voel, maar daar was nie juis kans voor nie. Voordat ek kon bang word, het ek die sensasie van die gewaagdheid deur my voel tril en het dit een groot genotvolle ondervinding geword.