PIET EBERSÖHN skryf: ‘n Goeie skeut geluk en twee naamkaartjies het gehelp om my die een werklike "scoop’ te besorg wat my in my koerantdae te beurt geval het – Pretoria se boerebeleg van 29 Januarie 1991.
Die Konserwatiewe Party het destyds soveel stadsrade in Transvaal beheer, dat hulle hul eie vereniging van stadsrade op die been gebring het. Dié se jaarkongres is in die Skilpadsaal op die Pretoriase skouterrein gehou en
Gerhard Burger het my gestuur om te gaan verslag doen.
Terwyl ek tydens ‘n teepouse doelloos buite rondgedrentel het, het my koerantmansoor skielik ‘n gesprek opgevang.
“Iets is met die boere aan die gang,” het ‘n afgevaardigde opgemerk. “As jy by die koöperasie kom, staan hulle in sulke groepies en gesels en as ‘n mens naderkom droog die gesprek op.”
“By ons laai hulle trekkers op vragmotors, maar jy kry niks uit hulle uit waaroor dit gaan nie,” het ‘n ander geantwoord.
Gelukkig dra kongresgangers mos altyd naamkaartjies. Ek het so ongemerk moontlik geloer en vasgestel die een was van Schweizer-Reneke af, die ander van Carltonville af.
Terug op kantoor het ek my kongresstorie afgehandel en ernstig onder my landboukontakte begin rondbel.
Dit was bekend dat die boere ontevrede was oor aspekte van die regering se landboubeleid en die Boere-krisisaksie ‘n memorandum by die Uniegebou aan die staatspresident sou oorhandig. Twee van die leidsmanne was saam met my op universiteit en was bo-aan my lys. Hulle het egter voet by stuk gehou dat hul reëlings niks meer behels nie as die oorhandiging van die memorandum.
Dan maar by Schweizer-Reneke en Carletonville uitvis. Die ondersoek dra vrug en kring wyer. Tot in Natal en die Vrystaat, selfs tot by Fraserburg in die Karoo. ‘n Paar in die 20 oproepe later kon ek my storie skryf.
Op 28 Januarie het Transvaler berig: “Boere beset Pta vannag”.
“Inligting dui daarop dat boere met trekkers, swaar werktuie, vragmotore en woonwaens reeds vannag in groot getalle die hoofstad kan beset,” het die berig onder meer gelui.
“Dit kan die stad geweldig ontwrig en daartoe lei dat honderde Pretorianers more laat by die werk opdaag.”
Die koerant was nouliks op straat toe brig Jumbo van de Wall, die senior polisieman belas met die stad se veiligheid, my bel. Die gesprek het min of meer so verloop:
VdW: “Waar kry jy jou inligting?”
Ek: “Maar brigadier weet mos ek kan nie sê nie.”
VdW: “My inligting verskil van joue, maar as jy reg is, is hier more groot moeilikheid in die stad.” (Hy het ‘n drieletterwoord gebruik.)
Ek: “Laat ons dan vertrou ú inligting is reg.”
Teen drieuur die oggend van die beleg was ek en fotograaf Willie van der Walt op ons pos in Kerkstraat-Wes.
Die geluk was steeds aan ons kant. Ons het in die Brits- “kommando”, met die oud-stoeier Manie Maritz in bevel, vasgeloop. Oom Manie was ‘n groot vriend van Die Transvaler. Ons was gereelde gaste op die jaarlikste saamtrekke van oudboksers en -stoeiers op sy plaas. Die “kommando” het motorfietsryers saamgebring om as rapportryers op te tree en Oom Manie het dadelik twee opdrag gegee om my en Willie te besorg waar ons ook al wou wees.
Ek het nie weer van brig. Van de Wall gehoor nie. Eers jare later, het Neil Steyn (die brigadier was ‘n bekende in Pretoriase rugbykringe en het in sy speeldae soms as Blou Bul-slot vir Frik du Preez ingestaan ) my vertel dat die beleg hom ‘n hartaanval besorg het.