Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.10.19

Bloeddorstig in Brixton

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: In heelwat K'rantstories word daar na die Brixton‐polisiestasie*1) ‐‐ alombekend as die Brixtonse moord‐ en roofafdeling ‐‐ verwys, asook na die Brixton‐blitspatrollie en die voorstad self. Sommige kollegas het in Brixton of omgewing gewoon, soos dinamiese en geliefde Kittie Vermaak, wat 'n huis in Putneyweg gehad het. Boonop was Perskor in 'n stadium skaars 'n klipgooi van hierdie gewilde woonbuurt af geleë en baie van ons het seker ook jare lank ons inkopies by die destydse OK Basaar ‐‐ ai,waar is daardie dae? ‐‐ in Highstraat gedoen.

Dus moeilik om te glo dat hierdie einste voorstad eens deel van een van die bloedigste gebeurtenisse in Suid‐Afrika se geskiedenis was. So gewelddadig was dit dat ons land op die randjie van 'n burgeroorlog gestaan het.

Brixton ‐‐ in 1902 uitgelê en eers deel van die plaas, Braamfontein ‐‐ is op 'n rif *2) geleë, die Brixton‐rif, ook as Brixton‐koppies bekend, tuiste van die Sentechtoring. Toe ek onlangs by dié bekende landmerk verbygery het, was die omgewing 'n toonbeeld van rus en vrede. Maar in 1922 het die prentjie heelwat anders gelyk. Want dit was die jaar toe die Mynwerkerstaking plaasgevind het, ook as die Randse Opstand of die Rooi Opstand bekend.

Die rede vir die opstand was 'n dispuut tussen die Kamer van Mynwese en wit mynwerkers en het sy aanloop in die swak ekonomie ná die Eerste Wêreldoorlog gehad. Die prys van goud het gedaal en om onkoste te besnoei, het die Kamer van Mynwese besluit om nie net mynwerkers se salarisse te verlaag nie, maar om wit mynwerkers, wat hoër salarisse as hul swart kollegas ontvang het, met swart werkers te vervang. Die myners wou niks hiervan weet nie. Gemoedere het hoog geloop en mense wou staak. Nie almal was egter vir 'n staking te vinde nie en dus is 'n stemmery gehou. Tussen 12 000 en 13 000 was ten gunste van die staking, terwyl 1 336 daarteen gestem het.

Op 28 Desember 1921*3) het die staking begin. Daar was veral vier prominente leiers, naamlik Jimmy Green, 'n politikus van die Arbeidersparty, Percy Fisher, Harry Spendiff en W H Andrews. Laasgenoemde drie was kommuniste.

Omdat heelwat mynwerkers in Fordsburg en omgewing gewoon het, was die vakbonde hier baie bedrywig. Boonop was die Mynwerkersunie se hoofkwartier in die Markgebou op Fordsburgplein en dit alles het daartoe gelei dat dié voorstad die middelpunt van die opstand geword het. Heel gou het dit egter na ander plekke versprei ‐‐ Benoni, Brakpan, Jeppe, Newlands, Brixton.

Twee‐en‐twintigduisend mynwerkers was aan't staak. Hulle het kommando's gevorm, wat nie net die nie‐stakers aangeval het nie, maar ook met die polisie en weermag slaags geraak het. Baie van die myners het in die Eerste Wêreldoorlog geveg en het geweet hoe om met gewere te skiet. Wat as 'n staking begin het, het in 'n opstand teen die staat ontaard en in Aucklandpark was die gebied waarop die SAUK vandag staan (Henleyweg), as 'n militêre kamp gebruik.

Die trems het ophou loop, skole was dae lank gesluit en 'n familielid van my buurman het hom jare gelede vertel van kinders in Brixton ‐‐ 4 tot 8 jaar ‐‐ wat op 'n tuinmuur gesit en "The Red Flag"*4) gesing het, terwyl hul pa dirigeer. En in haar boek, When Johannesburg And I Were Young, noem Juliet Marais Louw dat 'n horde opstandige mans en vroue op 9 Maart met rooi vlae deur Brixton se strate gestap en gesing het. Vreesaanjaend.

Op die Brixton‐koppies het 1 500 rebelle op 10 Maart 183 polisiemanne omsingel en 48 uur lank aangehou. Dieselfde dag het generaal Jan Smuts, destydse Eerste Minister, Krygswet afgekondig.

Die wit huis regs is  Putneyweg 114, Brixton.
Een van die opstand se slagoffers was 'n Brixton‐inwoner, die 44‐jarige Pieter
Marais (Alwyn Petrus), 'n winkelier. Hy het in Putneyweg 114 gewoon, so 'n wit dubbelverdiepinghuis. Ek het hóéveel keer daar verbygery of ‐geloop toe ek in Aucklandpark gewoon het, salig onbewus van dié huis se skakel met Johannesburg se verlede.

Pieter Marais het gehoor gegee aan die owerhede se versoek om soldate te huisves wanneer hulle van diens af kom, en sodoende het 'n groep soldate onder sy dak oornag. En toe hy Saterdagoggend, 11 Maart, op pad na sy winkel in Fordsburg was, het 'n koeël die houtheining voor sy huis getref. Dit was die begin van die tragiese gebeure daardie dag.

Terwyl hy later die oggend in sy winkel was, het 'n polisieman, wat besig was om van stakers af weg te vlug, daar ingehardloop en om hulp gevra. Die polisieman het sy polisie‐uniform aangehad, wat hom natuurlik 'n maklike teiken gemaak het. Vir kamoeflering het Pieter van sy eie klere aan die polisieman geleen en hom by die agterdeur laat uitgaan, sodat hy veilig na Marshallplein kon terugkeer.

Cape Times, 11 Maart 1922.

Hierna het drie stakers die winkel binnegestorm, dit geplunder en Pieter na hul hoofkwartiere geneem. Maar teen die aand het hulle hom na die agterkant van 'n gebou geneem, waar hulle hom koelbloedig geskiet het. Hoewel hulle hom vir dood daar gelos het, het hy nog geleef en was per ambulans na die Johannesburgse Algemene Hospitaal in Hospitaalheuwel/Hillbrow geneem. Die volgende dag is hy egter aan sy wonde dood. Hy het 'n vrou (Anna Susanna) en ses kinders (vyf dogters en een seun) agter gelaat.

Pieter Marais is vermoor, nie net omdat hy 'n polisieman gehelp het nie, maar ook omdat hy huisvesting aan soldate gebied het. Hy was deur die Stakingskomitee as 'n polisie‐informant skuldig bevind en ter dood veroordeel. Kort voor sy dood het hy sy moordenaar as Samuel Alfred (Taffy) Long geïdentifiseer en Long was in hegtenis geneem. Hy was twee keer verhoor. Albei hofsake was baie kontroversieel en was na die appèlhof in Bloemfontein verwys. Hy was skuldig bevind en op 17 November 1922 is die 31‐jarige Long in die Pretoriase Sentrale Gevangenis gehang. Sy ondersteuners het vas geglo dat hy onskuldig was en meer as 10,000 van hulle was in sy begrafnisstoet na die Brixtonse begraafplaas, waar hy begrawe is.

Cape Times, 14 Maart 1922.
Genoeg was genoeg. Op Sondag, 12 Maart (bekend as Swart Sondag), het die weermag die rebelle op die Brixton‐koppies al van dagbreek af vanuit die lug gebombardeer en ná 'n urelange, bittere geveg het die rebelle hulself oorgegee. Daar was 2  200 gevangenes.

Maar die finale skermutseling tussen staat en stakers het op 15 Maart in Fordsburg plaasgevind toe generaal Smuts die staking hok geslaan het met 20 000 soldate, grofgeskut, tenks en bomaanvalle vanuit die lug. Op 16 Maart is Percy Fisher en H Spendiff dood ‐‐ hul lyke was in die Markgebou in Fordsburg gevind. Sommige meen dat hulle selfmoord gepleeg het; ander glo dat hulle deur hul eie kamerade doodgeskiet is.

Om middernag 18 Maart 1922 het die Randse Opstand amptelik geëindig. Ongeveer 230 mense, insluitende soldate en polisiemanne, het in die opstand gesterf en meer as 1,000 was beseer. Oor die 800 mense was vervolg, waarvan 46 van hoogverraad en moord aangekla was. Vier was tereggestel.

Vyftienduisend mynwerkers was werkloos en dié wat weer in diens geneem was, se salarisse was verlaag.

Fordsburgplein, Maart 1922.
Volgens internet‐foto's van die Fordsburgplein ná die opstand het dit soos 'n
slagveld in oorlogstyd daar uitgesien, loopgrawe en al. Maar terwyl ek na die foto's kyk, het die spreekwoord, "daar sal gras oor groei" my te binne geskiet. Want ná al die vernietiging was alles herbou en vandag is Fordsburg 'n miernes van besighede en druk verkeer. Brixton het gegroei en op die grens tussen Aucklandpark en Brixton, teen die rotsagtige helling van die koppies, is die Kingston Frost‐park ‐‐ eers die Brixtonpark genoem ‐‐ in 1925 uitgelê. (Hier was eens die allerpragtigste aalwyne, wat vanoor die hele land versamel was.) Nou gaan die inwoners van Brixton daagliks doodluiters hul gang, terwyl herinneringe aan die geweld van byna 'n honderd jaar gelede eintlik nog maar net tussen die bladsye van geskiedenisboeke voortleef.


Verwysings

*1) Volgens die Johannesburgse padkaart is dié polisiestasie eintlik in Crosby geleë, maar word die "Brixton‐polisiestasie" genoem.
*2) Die 239 meter hoë toring ‐‐ algemeen as die Brixton‐toring bekend ‐‐ staan op die toppunt van die rif en is in 1962 opgerig. Aanvanklik het dit die Albert Hertzogtoring geheet, vernoem na generaal Albert Hertzog, wat tussen 1958‐68 Minister van Pos en Telegraafwese was. Hoewel die toring tans vir televisie‐uitsending gebruik word, was dit oorspronklik vir die uitsending van FM‐radio gebou. Sy argitektoniese broer is die Telkomtoring in Hillbrow.
*3) Verskillende datums word in bronne genoem.
*4) The Red Flag" is onder andere 'n sosialistiese lied, wat die opoffering en solidariteit van die internasionale arbeidersbeweging beklemtoon. 

Bronne
  • When Johannesburg And I Were Young; Juliet Marais Louw; Amagi‐boeke; 1991; bl.62‐63. 
  • South African Despatches; Two Centuries Of The Best In South African Journalism; Jennifer Crwys‐Williams; Ashanti Publiseerders; eerste druk; 1989; bl. 229‐246. 
  • Readers Digest: Illustrated Guide To Southern Africa; Reader's Digest‐vereniging van Suid‐Afrika; vierde uitgawe; 1985; bl.193. 
  • New Dictionary of South African Biography, deel 1; geredigeer deur E J Verwey; Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing‐publiseerder; 1995; bl. 144.
Internet
  • Wikipedia 
  • uir.unisa.ac.za "Afrikaner Grandmother's Huguenot Heritage ‐‐ Unisa Institutional Repository," David Whitelaw, bl. 1‐2. 
  • https://www.sahistory.org.za https://theheritageportal.co.za 
  • https://www.encyclopedia.com