JANNIE HERBST, gewese fotograaf van Die Transvaler en later suksesvolle uitgewer van die treffer-motortydskrifte Wiel en toe Leisure Wheels, skryf: Ek glo alle mense, wanneer hulle gevestig is in hul weë, vra hulself die vraag af: “Nou hoe het ek hier gekom? Kon ek beter gevaar het?”
En as ek so terugkyk na die geskiedenis van my wandelinge is dit onbetwisbaar dat Die Transvaler ’n baie groot rol in die bepaling van my
toekoms gespeel het. Nie alleen omdat ek baie daar geleer het nie, maar ook weens toeval.
”Hoe het dit gekom dat jy Wiel begin het?” Dit is een van die vrae wat nogal baie aan my gestel is toe die tydskrif nog bestaan het. Die antwoord is nogal lank, maar interessant, want ek kan eerlik sê dat alles begin het toe ek as Transvaler-fotograaf ‘n vriendskap begin het met misdaadverslaggewer, Piet Roodt.