HANLIE (SWANEPOEL) VORNBERG skryf: DIT is vanjaar ses en veertig jaar gelede dat ek Suid-Afrika verlaat het om my hier in Wenen te kom vestig. My man, gebore en getoë in Oostenryk, het op ʼn dag gesê ons verlaat die land en het dadelik met die kinders begin Duits praat.
Dit was die tyd van ʼn holderstebolder Suid-Afrika. Daar was angs en onsekerheid, opstande in die hele land, sanksies en boikotte en diegene wat kon uitwyk het begin koerskry in alle rigtings.
Toe dit by my begin insink dat ek die land en veral die Kaap moes verlaat, het ek meteens bemerk hóé skoon en blouselblou die lug bo my kop is. Ek het geweet dat dit ʼn seer en uitgerekte afskeid gaan wees.
Elke dag het hartseer ingehou. Die aflê van een of ander bekendheid of bemindheid.
Banale dinge soos ʼn Kaapse windvlaag, ʼn kwikstertjie wat oor die grasperke wip, die buie van die see of die geur van ʼn pot boerekos wat van elders by die venster inwalm.











































