Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.5.21

My vriend, André

SIPKE DE VRIES skryf: André Scheepers wat so pas in die ouderdom van 74 jaar aan komplikasies van 'n galblaasoperasie oorlede is, was my vriend vir die afgelope drie of vier dekades.

Hy was die soort mens wat jy gebel het as jy 'n bietjie teneergedruk was. Na so 'n gesprekkie het jy altyd baie beter gevoel. Hy was ook 'n besonder gesellige tafelgenoot by die talle sakemiddagetes wat ons ampshalwe bygewoon het. 

André het sy loopbaan in die bankwese begin maar na 'n jaar of wat verveeld geraak en nuwe weivelde opgesoek. Hy is na Die Transvaler toe waar hy by die finansredaksie aangesluit het en later finansredakteur geword het. 

André Scheepers
Daarna het hy na die SAUK gegaan waar hy tot sy aftrede gewerk het, uiteindelik in 'n senior pos by die finansiele redaksie. 

Hy was ook 'n geesdriftige lid van die Johannesburgse Persklub waar ons baie partytjies bygewoon het. 

André het wye belangstellings gehad. Hy was 'n kenner van Afrikaanse en Nederlandse digkuns. Hy het gereeld diglyne aangehaal van die jong gestorwe Nederlandse digter, Jacques Perk. Self was hy ook 'n verdienstelike digter. Hy het sommige van sy gedigte aan sy vriende geskenk. 

Toe die Johannesburgse Persklub begin faal het, het André, Engela Slabber, Wilma de Bruyn en ek besluit om ons eie Pers-middageteklub te begin. Voor die Covid-pandemie het ons gereeld by my huis byeengekom waar ons dikwels tot byna sononder “middagete” geniet het. Daar is ook tussen die vier van ons al die land se probleme opgelos, en ons het selfs opera gesing.

André het ook altyd met groot liefde van sy vrou, Santa, gepraat. Hy was 'n lojale vriend en 'n ware boergondier wat van goeie kos, goeie wyn, goeie whisky en goeie geselskap gehou het. Daar was altyd baie humor en pret saam met sy kuiertjies. 

Ek gaan hom mis.