Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.2.14

Uit die perd se bek

PIET ROODT skryf: As 'n mens se gedagtes eers koersvat koerantdae toe sukkel jy om by te hou.

Ek dink skielik aan Marissa van Niekerk, wyle oom Sybrand van Niekerk se dogter, wat ook op ‘n kol by Perskor gewerk het. Wat sou van haar geword het? Ek weet sy was met iemand getroud wat in die ou SA Weermag was en hulle het blykbaar lank in Namibië gewoon.

Oom Sybrand was van die ou garde. Hy’t nie nonsens gevat nie, maar een aand in Koedoespoort het hy nie antwoorde gehad nie.

Sybrand van Niekerk
Destyds het die Transvaalse Onderwysdepartement, waarvan hy as Administrateur die hoof was, besluit om die vier skoolvakansies na drie te verander. Daaroor was die mense nie baie gelukkig nie.

Hy was die Nasionale Party se kandidaat vir die kiesafdeling Koedoespoort (wat Doedoespoort gedoop is nadat hy tot die Parlement verkies is en omdat hy so baie in die Parlement geslaap het. Veral Louis Nel het hom in dié benaming verkneukel, toe die verligtes en verkramptes haaks geraak het!)

Een aand tydens die verkiesing stap ek saam met oom Sybrand terwyl hy werwingswerk doen. Hy klop by ‘n sekere huis aan en die vrou nooi hom binne. Ek kom gou agter sy het nie die vaagste benul met wie sy praat nie, want sy trap hom van ‘n kant af uit omdat die Onderwysdepartement so onnosel was om die vakansies so simpel te staan en verander. En sy kan nie verstaan waarom Transvaal, anders as al die ander provinsies, die vier vakansies in drie verander het nie. Hierdie Transvaalse Administrateur weet nie wat hy doen nie.

Oom Sybrand probeer kalm verduidelik dat die Administrateurs van al vier die provinsies gesamentlik daaroor besluit het, maar toe dit geïmplementeer word, het die ander drie kortom gespring en anders besluit. Waarom weet hy nie.

Hy verwys deurentyd na homself as hy van die Administrateur praat en uiteindelik dring dit tot die vrou deur – hier’s iets aan die gang.

“Wie’s jy nou weer?” vra sy skielik na haar uitbarsting.

“Ek’s Sybrand van Niekerk, die Administrateur,” verklaar hy.

Sy bly lank stil en kyk hom in die oë. “Wel, nou weet jy wat ek van jou dink!”

Oom Sybrand het haar maar vriendelik gegroet en is vort om ander kwaai kiesers se gaan ontmoet.

(Naskrif: Ek moet darem net verduidelik dat oom Sybrand destyds vertel het dit “lyk” net of hy slaap, omdat sy nekwerwels geheg was.)