Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.2.14

Groot persname en goeie tye onthou

ARINA BOHLER skryf: Ek stuur die laptop muis af op die lys van "vergeet nie"-name en sien met skok hoeveel gewese medejoernaliste nie meer met ons is nie! Vir my het die tyd gaan stilstaan en die jare tussenin is van geen betekenis nie …

Ek onthou 'n paar groot persname:

Dis nouwel nie Die Transvaler se voorblad 
met die verkiesingsuitslag waarna Arina 
verwys nie, maar die een van 7 Oktober 1961 
wat die uitslag van referendum met die 
oog op republiekwording aankondig.

Das Herbst, nuusredakteur van Die Transvaler in Jorrisonstraat. Die deurnagwerkery met die verkiesing van iewers in die 1960's en die joligheid en opwinding en spanning oor die uitslae deur die nag. Die gedurige gejuig of stilte afhangende van die uitslag en dan die geskarrel om die nuutste uitgawe op straat te kry, val my by. Daar was baie uitgawes -- ek kan nie onthou hoeveel nie!

Agtuur die oggend laai Das my af by my huurkamer in Melville. Ons was almal vodde.

In dieselfde era was daar Piet Gouws en Peet Smit. Ek het toe net begin werk en was ‘n vertaler in die nagkantoor. Piet was hoofsub en Peet sy regterhand. Ek en die ander groentjies moes vroeg inkom en die teleksmasjiene (Sapa, Reuters en AFP) se berigte bymekaar maak en gereed kry vir die subs. Die teleksmasjien het papier sonder ophou deur die laatnag en dag uitgespoeg, met die gevolg dat daar 'n berg papier in die glaskamertjie was wat nie veel sin uigemaak het nie.


Ná 'n nag van stilte en harde werk -- bladsye is in lood geset en proewe moes gereeld met 'n kontrepsie na die subs op die eerste verdieping gestuur word vir redigering. Met die laaste saktyd is die subs na die drukpers toe in die ingewande van die gebou om daar die loodbladsye te betrag, want die steensub het al klaar die werk gedoen. Wanneer hulle teruggekom het, is die bottel "lafenis" oopgemaak! Dit was meer die uitsondering as die reël dat nagskofte nie met die laaste saktyd beëindig is nie! Peet se woonstel was naby – of daar is sommer in die subkantoor partytjie gehou.

Oom Mac McDonald was in die biblioteek.

Willem de Klerk
Ná 'n paar jaar se afwesigheid is ek terug Johannesburg toe en het by Transvaler in Aucklandpark as hofverslaggewer begin werk. Die besturende redakteur was oom Hennie Kotzé en die nuusredakteur Gert Kotzé. Later het prof Wimpie de Klerk die redakteur geword. Hy was my sielkundeprofessor by die PU vir CHO en het in 1968 vir my 'n getuigskrif gegee wat ek toe in 1973 aan hom kon teruggee om my as verslaggewer aan te stel .

Jan Hoeksema
Later jare is ek Rand Daily Mail toe as hooggeregshofverslaggewer, waar ek met Jan Hoeksema en Joop Venter as opposisie 'n perskamer gedeel het. André de Bruyn was ook op 'n kol deel van die hofspan. Joop het nooit die gebou sonder sy hoed verlaat nie en dan kilometers ver gestap na die “boekies” toe. Perdewedrenne was sy passie.

Jan het altyd almal probeer scoop, dit dikwels reggekry, sy storie oor die foon gedikteer en dan op die bank gaan lê en rus met 'n coke in die hand. Wanneer 'n groot storie soos die Foxstraatbeleg gebreek het, het die fone gegons soos daar stories na die verskillende koerante gedikteer is.

Dit was goeie tye.

Daar is nog baie name.

Rus in vrede.