Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.2.14

ʼn Ope vraag

NUWE BESEMS vee skoon, lui die spreekwoord, en dit lyk of Philip Deetlefs, K’rant se nuwe mederedakteur, sommer heelwat sal kan bydra om K’rant se leesbaarheid te verhoog.

‘n Puik voorstel van hom is dat K’rant in die toekoms van tyd tot tyd ‘n vraag vra om daardie verroeste geheues bietjie los te help skud en wat interessante antwoorde van julle almal behoort op te lewer. Die antwoorde kan so lank of
kort (darem nie te woes kort nie!) wees soos dit moet wees. Die vrae kan ook meer as net een antwoord hê, maar onthou, dit moet darem in ‘n Perskortrant wees.

Onthou dat hierdie insiatief nie nét beperk is tot die joernalistieke personeel van die vergange mediareus nie! Dit is reeds 'n geruime tyd veral 'n bekommernis by die K’rant-span omdat so min van die ander sektore van die wydvertakkende afdelings aan ons K'rantprojek deelneem.

Moenie dat jou gebrek aan joernalistieke vaardighede jou terughou nie. Vertel ons en ons sal sorg dat dit persklaar gemaak word. Moenie die foto's vergeet nie.

Philip sal sorg dat die projek die toegespitste aandag kry wat dit verdien. Stuur jou antwoord aan hom by deetlefs@nawa.co.na.

Ons eerste vraag is:

Wat is die grootste verleentheid wat jy as koerantmens ervaar het?

En om die bal aan die rol te sit, gee ons sommer twee voorbeelde.

PHILIP DEETLEFS skryf: Daar was baie verleenthede, maar ongetwyfeld die ergste en die een wat my ore amper laat smelt het, was toe ek die ouers moes gaan sien het waar die ma haar eie kruip-kind per ongeluk doodgery het.

Toe ek as jong verslaggewer by hul huis aankom, het ek amper omgedraai en terug kantoor toe gery uit medelye met die ouers wat verstaanbaar verpletter was. Hoe pla 'n mens iemand onder sulke omstandighede?

Die baba het ongesiens na die motor wat buite geparkeer was, gekruip en agter die agterwiel gaan sit toe die ma in trurat weggetrek het. Dood was haar kind!

Dit was goeie mense. Hulle het my in trane ontvang en die tragiese storie snikkend vertel en selfs 'n foto van die oorlede kind gegee vir publikasie.

Ek het op byna dieselfde plek geparkeer as waar die ma haar kind doodgery het. Toe ek wou teruggaan kantoor toe, ry ek oor hulle jong brakkie wat agter my motor se wiel gaan lê en slaap het! Brakkie dood. Nuwe tranedal. Ek kon nie vinnig genoeg ekskuus sê en die pad vat nie. Erg!

PIET EBERSöHN skryf: Ek kan sommer aan twee erge verleenthede dink, albei in die dae van die destydse Pretoriase koerant, Metro, nie juis as verslaggewer nie, maar dit maak g’n verleentheid kleiner nie.

Verleentheid 1: By geleentheid het die bemarkingsmense ‘n wedstryd voorgestel om sirkulasie te bou, waar ‘n krapkaart in die koerant gevoeg is en ‘n gelukkige nommer geplaas is. As die gelukkige nommer op die krapkaart was, het die houer daarvan ‘n aantreklike kontantprys gewen.

Die wedstryd was nie my idee nie. Dat ek op die vergadering waarop dit aan die redaksie voorgehou is, my daarteen uitgespreek het omdat ‘n fout na my ervaring te maklik kon insluip, was nie ter sake nie.

Redakteur Frans Aucamp was in daardie dae met verlof en ek het as redakteur waargeneem – en toe die
“tegniese fout” insluip, so seker as wat ek gewaarsku het, was dit ek wat met ‘n rooi gesig aan honderde “gelukkige wenners” moes verduidelik dat hulle nie so gelukkig was nie. Daar was selfs twee wat ek goed geken het en wat my persoonlik op kantoor kom aantree het. Hoe kyk ‘n mens hulle ooit weer in die oë?

En die bemarkingsmense was nie in sig nie!

Verleentheid 2: Vinnige Fanie de Villiers het ‘n liefdadigheidsgeleentheid gereël en Metro, by monde van die uwe, het plakkate beloof wat dit adverteer – opgesit en al. Metro verwissel toe juis daardie dag die kontrakteurs wat die plakkate opsit. Iets hét toe êrens skeef geloop en geen plakkaat, ook nie die weeklikse koerantplakaat, het die straat gesien nie!

Nou sien ons daarnna uit om van almal se verleenthede te hoor en dit wêreldbekend te maak!