Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.2.14

Nog Ivanoffs te koop

HANS LOMBARD skryf: Na aanleiding van die brief van Werner van Dyk van Meyerton oor die spotprente wat hy van Victor Ivanhoff aangekoop het, net die volgende: ek het agt oorspronklike tekeninge van Victor gedateer 1955 wat almal gaan oor die Britse Leeus se rugbytoer hier in Suid-Afrika en die Springbokkriekettoer dieselfde jaar deur Engeland. Hy het die bondel persoonlik in 1956 aan my gegee. Is daar iemand wat my ‘n aanbod kan maak? Ek sien Werner van Dyk sê die minimum waarde is tussen R1 500 R2 000 per skets. My telefoonnommers is 011/958-0046/0828 of 083/360-1856.

 
Die Britse Leeus se rugbyspan het in 1955 deur Suid-Afrika getoer en ná ‘n
neerlaag van 9 -6 in die eerste wedstryd teen Wes-Transvaal het hulle die
Griekwas (24 – 14), Noordelike Universiteite (32 – 6), Vrystaat (31 – 3) en
Suidwes-Afrika (9 – 0) op ‘n streep platgeloop. Terselfdertyd het die
Springbokkrieketspan in Engeland getoer en pas ook die tweede toets
met 71 lopies verloor nadat Engeland die eerste met ‘n beurt en vyf lopies
gewen het. Vandaar die gehawende Krieketbok wat sake uit die wolke gadeslaan.

Die Leeus het Vrystaat 31 – 3 slae gegee.
Die Leeus het Transvaal 36 – 13 verslaan. Die Rooibontes kon nie 
keer dat die Leeus hul doellyn sewe keer oorsteek nie.

Suid-Afrika het die tweede toets op Nuweland, Kaapstad, 25 – 9 gewen.

Die Britse Leeus en die Springbokke berei voor vir die derde toets
 op Loftus Versfeld, Pretoria.


Dit lyk of Ivanoff hier die Leeu aan die stert beet gehad het, want dit was 
die Leeus wat 9 – 6 gewen het. ‘n Mens wonder of die spotprent só in 
Die Vaderland verskyn het.


Ná Engeland die eerste twee kriekettoetse maklik gewen het, het 
Suid-Afrika die derde en vierde toetse gewen. Die Engelse is in die 
vierde toets op Headingly, Leeds, met 224 lopies afgestof. 
Die vyfde toets sou beslissend wees.

‘n Reeks omstrede beslissings in die vyfde kriekettoets op 
The Oval, Londen, het Engeland gehelp om Suid-Afrika met 
92 lopies te klop en dusdoende die reeks 3 – 2 te wen.