PIET ROODT skryf: Ek lees Piet Ebersöhn se storie oor Oggendblad se vrot karre. Die Transvaler se vloot was ook maar vodde. Ek en Jannie Herbst is eendag Ermelo toe gestuur vir ʼn storie en ons ry in daglig. Met die terugkom die aand, werk net die Volkswagen se parkeerligte. Ons is woedend oor die toestand van die motor, maar kan nie anders nie as om aan te sukkel in die halfdonkerte.
Ons hoop en bid heelpad ʼn verkeersman wil ons voorkeer en ʼn yslike boete gee, maar
hoewel ons by ʼn hele paar verby is, steur hulle hul nie aan ons nie. Ons maak eers ʼn draai in Alberton waar Jannie gebly het en op pad terug na Die Transvaler se kantoor in Braamfontein, net buite Alberton, trek ʼn Albertonse verkeersman ons van die pad af.
In die proses sweer ons wraak en sê hy moet die motor sommer van die pad skrap en ʼn woeste boete gee.
Maar toe die man by ons kom, groet hy van ver af toe hy Jannie herken. En daar weier hy om ‘n kaartjie vir sy pel uit te skryf – al smeek ons hom!
Duur swemklere
PIET skryf ook: Ek sien gewese Perskorkollegas is nogal baie uitgesproke oor die ou Voortrekkerpers se direksie se benepenheid en suinigheid. Dit laat my dink aan die dag toe ek en Jannie Herbst ʼn storie moes doen nadat die Natalspruit by Alberton sy walle oorstroom het.
Iemand het in die proses weggespoel en ons het saam met die polisie na die lyk gesoek. Toe beland ek met my splinternuwe blou dubbelborspak binne in die water.
Terug op kantoor het ek ʼn ernstige pleidooi gelewer dat ek vir die yslike skade vergoed moes word, maar oom Hennie Kotzé het my saak eenvoudig afgelag.