Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.2.14

Ouderdom ʼn kwessie in Perskordireksie

DR PIETER MULDER, leier van die Vryheidsfront Plus, kommunikasiekundige en seun van die gewese minister en Perskordirekteur dr Connie Mulder, skryf: Ek is ’n gereelde K’rantleser wat die stories baie geniet. Dankie aan die redaksie vir hul inisiatief.

Hoekom geniet ek K’rant?

Dr Connie Mulder
Omdat ek baie van die sake waaroor geskryf word, onthou. Self was ek nooit ’n Perskorwerknemer nie. My Perskorinligting het ek by my oudstudente, wat by Perskor gewerk het, gekry. My pa, dr Connie Mulder, was my ander bron. Hy was lank ’n Perskor-direksielid. Die gevolg was dat ek deurlopend redelik op die hoogte van die frustrasies en hoogtepunte -- die mislukkings en suksesse -- by Perskor was.

Die stryd tussen Perskor en Naspers het ook die Departement Kommunikasiekunde aan die destydse PU vir CHO geraak. Ek was 14 jaar lank dosent, professor en later Departementshoof aan hierdie departement. Gereeld het werwingsbeamptes van Naspers en Perskor by my ’n draai gemaak. Hulle kom vis name van goeie studente by jou uit. Daarmee hoop hulle om te verseker dat die beste joernalistiekkandidate vir hulle maatskappy en nie vir die opposisie nie gewerf word.

Om verskeie redes het my simpatie in die persstryd by Perskor gelê. Tog was dit vir my duidelik dat Naspers op ’n meer professionele wyse te werk gaan. My Naspers-oudstudente kom opgewonde vertel oor hoe hulle van tikmasjiene na rekenaars oorskakel. Perskor hou by tikmasjiene. Ek hoor van nuwe bladuitlegmetodes by Naspers, maar dieselfde vernuwing vind nie by Perskor plaas nie.

Die Perskor-direksie in die jare sewentig. Van links af is twee onbekende lede, Marais Viljoen, 
Jan Victor, Jan de Klerk, MC Botha, Ben Schoeman, Marius Jooste, Connie Mulder, 
Tommie Muller, Willem van Heerden en Jack Steyl.
Naweke kuier ek by my pa. Ons het ernstige argumente hieroor. As een van die jongste Perskordirekteure probeer hy aan my die beperkinge waarbinne hulle werk verduidelik. Uiteindelik is my gevolgtrekking dat die Perskordireksielede te oud is om die regte vernuwende besluite te neem.

Dr Connie Mulder en president Ronald Reagan van die VSA.
“Net die Sowjetunie se Politburolede is ouer as die Perskordireksie,” terg ek my pa.

Tydens só ’n naweekbesoek vertel my pa aan my dat daar by ’n volgende direksievergadering ’n voorstel gaan wees oor die ouderdom van direksielede. Die voorstel gaan probeer om die aftree-ouderdom van direksielede vas te stel. Ek kan nie onthou of dit 65, 68 of 70 jaar was nie. My pa is dood toe hy 62 jaar oud was en is uit die Perskordireksie gedwing voor hy 55 was.

Dr Connie Mulder en president Gerald Ford van die VSA.
Tydens die direksievergadering was daar lang en ernstige besprekings oor die voorstel. Soms blykbaar heftig. Uiteindelik is daar konsensus. Almal stem saam dat daar so ’n afsny-ouderdom vir direksielede moet wees. Hulle stem selfs saam oor die ouderdom. Dit is ter wille van vernuwing by Perskor nodig dat direksielede aftree wanneer hulle ’n spesifieke ouderdom bereik. Dit kan ’n deurbraak wees wat Perskor kan help in die stryd teen Naspers.

Net voor die stemming is daar egter ’n amendement. Ek dink dit was van Ben Schoeman of van een van die direksielede wat reeds diep in die 70 was. Die amendement het gelui dat hierdie voorstel slegs vir nuwe direksielede sal geld. Die amendement is aanvaar. Omdat die voorstel nie vir huidige direksielede gegeld het nie, het niks verander nie!

In die hof sal my storie as hoorsê uitgegooi word, want ek was nie self daar nie. Tog glo ek dat my pa se weergawe as direksielid redelik na aan die waarheid is.