Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.2.14

Pas getroud en platsak maak hulle houtwerkers

FRANS DU TOIT, voormalige assistent-redakteur van Die Vaderland en Raymond Cragg, voormalige administratiewe groepshooffotograaf van Perskor, se belangstelling het nie by die joernalistiek en kameras opgehou nie.  Hulle kon ook met saagmasjiene en beitels werk.

Frans vertel: “My houtwerkgier het hier in 1956 begin. Ek was pas getroud, brandarm (R80 per maand as junior verslaggewer by Die Transvaler) en feitlik meubelloos. Ons het 'n enkel-woonstel gehad en selfs daarin was net die noodsaaklike -- 'n bed-rusbank, twee leunstoele, kombuistafel en vier stoele.”

November 1972
“Vroutjie wou 'n mooimaaktafeltjie hê. Geld was daar nie, maar in Die Transvaler se agterplaas baie kasplanke. 'n Saag, skroewedraaier en hamer is by die OK gekoop en op die sit-/slaapkamer se vloer het die meubelmakery begin.”

Frans du Toit en sy vrou, Sarah, 
by een van sy sitkamerstoele.
Nog later slaag hy daarin om met groot gesoebat vyf biervaatjies by die destydse Lion-bierbrouery (waar RAU nou tydelik staan) te koop teen Rl stuk. (Dié "tydelike" RAU was in Ameshoffstraat, tussen Jan Smutsrylaan en Mellestraat, Braamfontein – Red.)

Hy rol hulle toe sommer in die straat af woonstel toe! Daar is die dooie hout verwyder, hoepels vasgeklink, geverf en versier. Een was die tafelpoot en die ander vier stoele. Saam met die vier kombuisstoele het hulle toe sitplek vir agt. Koste? R16!

Later na 'n groter woonstel; nog later na 'n huis en steeds maak die Du Toits alle meubels self -- hangkaste, stoele, tafels, slaapkamerstelle en beddens.

"In 1964 meubileer ons ons eerste eie huis in Northcliff met meubels wat ons self gemaak of oues wat ons herstel het," sê Frans.

"Ook daar val 'n nuwe buurvrou dwarsdeur 'n leunstoel se mat, tot groot ergernis en verleentheid vir Vroutjie. Maar hoe later, hoe behendiger word ek!"

Nou ná 18 jaar en heelwat meer rande as die aanvanklike R80, werk hy met 'n houtwerkmasjien. Dit saag alles presies haaks en werk hout pragtig af. Dit kan alles doen, selfs jou tande borsel. As die tyd nie druk nie, maak hy meubels.

Tans in aanbou: ses leunstoele, vier klein tafeltjies en nuwe deure vir boek- en ander kaste.

----------------

November 1972
Raymond Cragg
Pas getroud en platsak. Geen meubels nie -- en die nood druk soos 'n skoen wat te klein is.

Dit was die verknorsing waarin Raymond Cragg, administratiewe groepshooffotograaf van Perskor in Aucklandpark, homself kort na sy troue in 1951 bevind het.

Raymond Cragg by sy werkbank.
Al genade was om maar self in te spring en sy eie meubels te maak. So gesê, so gedaan.

Vandag is Ray al goed bedrewe in die houtwerkkuns. Hy het enkele meubelstukke gemaak, dog meestal op ingeboude kaste gekonsentreer.

Ray het intussen byderwetse toerusting aangeskaf en timmer gereeld saans en oor naweke in sy garage tuis. 'n Interessante stokperdjie, sê hy.

Onlangs het hy 'n klomp swart- en geelhout uit Knysna bestel waaruit hy 'n tafel vir vroutjie wil vervaardig. Voordat Perskor 'n skrynwerker aangestel het, het Ray self die ingeboude rakke by die fotografiese afdeling aangebring.