Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.12.14

Komkommers moet geskil word

K´rant se redaksie gaan van more af hard aan die werk spring om komkommers te skil en sal ongelukkig nie vir die versorging van enige nuwe bydraes beskikbaar wees tot in die nuwe jaar nie.

Dit gee al die oudwerknemers van Perskor oorgenoeg geleentheid om oor die vakansiedae rustig te besin oor stories wat hulle vir K´rant wil skryf. Skryf dit asseblief, maar hou dit op die ys tot so rondom 12 Januarie 2015 wanneer die komkommerseisoen op sy einde kom.

Lekker ontspan, prop die batterye vol energie vir die jaar wat voorlê en kom veilig tuis!

10.12.14

Lekker om K´rant te ontdek

ANINA ROUX skryf: Lekker om K'RANT te ontdek en stories te lees van mense saam met wie ek eers by Hoofstad en later by Rooi Rose gewerk het.

Groete en beste wense vir die Feestyd

(Foto van Anina uit Perskorhaan, Mei 1972.)

9.12.14

Fanie Hattingh is oorlede

FANIE HATTINGH, gerekende sub by Die Transvaler in die jare sewentig en later, is sowat vier maande gelede onder moeilike omstandighede oorlede.

DU PREEZ MARTINS het laat weet dat Fanie na 'n kort siekbed in die Baragwanath Hospitaal oorlede is. Hy het ten tye van sy dood sonder vriende of familie in 'n tehuis vir armlastiges gewoon.

Fanie was geskei en het tweeling dogters gehad. Niemand weet of hulle kontak met hulle pa gehad het of eens weet dat hy oorlede is nie.

Fanie het ook boeke geskryf. Die slegte tyding oor Fanie en sy dood het juis na vore gekom toe Gert Basson, wat aan 'n uitgewery in Swellendam verbonde is, na Fanie begin navraag doen het omdat hulle een van Fanie se speurvehale wou heruitgee.

(Indien enigiemand weet waar Fanie se dogters hulle bevind, laat weet asb. - Red.)

5.12.14

Karin onthou vir Koos Doep

KARIN PRETORIUS skryf: Ek kuier onlangs by ‘n oud-Tukkievriend, Douglas Davis en sy vrou Heloise op Stellenbosch en ons blaai deur sy fotoalbum. Ons staan vir ‘n oomblik stil by sy Koos Doep-foto’s.

Douglas was ‘n groot deel van sy loopbaan in Maties se skakel- en publisiteitsafdeling werksaam. Hy het ook later jare as Universiteit Stellenbosch se woordvoerder opgetree en sal onthou word vir sy TV-onderhoude waartydens hy met gesag oor Perskor se eie joernalis en liedjieskrywer, Koos du Plessis, gesels het.

26.11.14

Die Hollander met die hoekige van

HANLIE-SWANEPOEL VORNBERG skryf: Omdat ek Jasper Schellingerhout se stories so geniet, het ek in sy "verlede" gaan delf, na ou foto's gekyk en toe besef ons was wraggies ´n paar maande lank bure in Linden.

Ek en Richard, my man, het pas voor die geboorte van ons eerste kind by die Katberg-woonstelle ingetrek en die Schellingerhouts het ´n kort rukkie reg langs ons gewoon.

Daarna is hulle weg en het Pierre Oosthuizen, fotograaf by Die Vaderland, hulle woonstel oorgeneem.

21.11.14

Wie onthou vir Lucas Maree uit sy Oggendblad-dae?

Lucas Maree
CARLA VAN DER SPUY skryf: Ek wonder of een van K´rant se lesers my dalk kan help?

Lucas Maree het ‘n rukkie vir Oggendblad as 'n fotograaf gewerk. Ek lewer bydraes vir die Liedjieboek (die 50 gewildste liedjies in Afrikaans). Lucas se “Miljoen” is natuurlik een van die groot gunstelinge.

Het enigiemand dalk ‘n storie oor hom en sy koerantdae? Iemand wat hom as kollega geken het?

Laat weet asseblief gerus by 082/895-3200 of carlavanderspuy@gmail.com of inbox my asb op Facebook. Ek sal enige storie baie waardeer.

20.11.14

Tokkelossie maak vir Roger bang

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Martie Snyman, in die jare sewentig, redaktrise van Rooi Rose, het in die Vrystaat grootgeword en kon Sotho vlot praat.

Sy kon iemand in dié taal vlei, vloek en behoorlik die Leviete voorlees.

Ons het almal groot respek gehad vir Martie. Sy kon jou meesleur met haar bruisende geesdrif, maar ook summier op jou plek sit wanneer iets haar nie gepas het nie.

18.11.14

Buks se spook loop steeds

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Allerheerlikste verrassing toe Hanlie (Swanepoel) Vornberg my van K'rant vertel! Ek was ook een van die agt wat destyds die joernalisteskool bygewoon het. Toendertyd was ek Maureen Heyl, maar nou is my van Swart.

Dit was een van die gelukkigste tye van my lewe en hoe ouer ek word, hoe meer dink ek aan daardie tyd terug. Ons was toe nog sterk en gesond, sonder plooie en met die vooruitsig van en 'n naïewe vertroue in 'n lang, gelukkige toekoms.

Ai!

13.11.14

Stukkies en brokkies uit Hanlie se onderlaai

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Sedert ek meer gereeld in my pers-verlede rondsnuffel, glip daar weer laaitjies in my geheue oop.

Soos die dag toe die hooffotograaf van die Vaderland, Wessel Oosthuizen, ons vertel hy het vakansie geneem om Viëtnam toe te vlieg om oor die oorlog te gaan berig.

"Hete my kind," het sy geskokte ma oor sy planne kommentaar gelewer, "kan jy nie soos ander mense se kinders in Durban gaan vakansie hou nie!"

11.11.14

Só is Terrie, die terroris, gebore

 JAPIE BOSCH skryf: In 1956 was ek in die koerant. In Die Vaderland. Dit was ‘n groot ding as jy in die koerant was. Jou ma koop 'n klomp koerante en maak knipsels en die kinders by die skool vertel jou hulle het dit gesien. Jy kry status. Twintig jaar later het dié einste foto ‘n onverwagse nadraai gehad toe ‘n terroris gebore is.

By ons laerskool in Johannesburg was daar ‘n “kunsuitstalling” van die kinders se handewerk deur die jaar. Die klok het pas vir kleinpouse gelui toe ek en vriend Abel Coetzee (albei in st 3 en 10 jaar oud) op pad speelgrond toe is. ‘n Hand het my aan skouer gevat en ‘n stem het gevra: “Waar is jou “kunswerk? ’” Dit was Charles Pienaar, ‘n vriend van my ouers en ‘n fotograaf by Die Vaderland. Dit was bloot toeval dat hy my raakgeloop het.

6.11.14

Die swerfjare van Charl Thom

CHARL THOM skryf: Jasper se storie oor sy gesprek met Marius Jooste oor eersgenoemde se planne om by Rooi Rose te gaan werk, het my lang stilte wat K'rant betref so effens verbreek.

Toe ek destyds uit Die Vaderland se hoofredaksie bedank het om redakteur te word van Die Kamer van Mynwese se koerante, Mining News en Die Mynblad, het die grootbaas my ook laat roep. Dit was redelik kort nadat Harald Pakendorf ingebring is as mederedakteur saam met Dirk Richard. Ons het wel deeglik besef dat die reëling tydelik is en dat Oom Dirk se dae getel was.

4.11.14

Die groot oom sink my Rose-droom

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Na aanleiding van Hanlie Swanepoel-Vornberg se skrywe oor die oumaskap wat Rooi Rose by ‘n nuwer aanskyn uitgebring het, het ek gedink aan ‘n trippie in die middel-70’s uit die Oos-Kaap, waar ek vakansie gehou het, na Durban vir ‘n onderhoud by die einste Rooi Rose:

Jare gelede vat my waagmoed om my joernalistieke loopbaan ‘n nuwe dimensie te gee, my deur die gevaarlike paaie van die ou Ciskei en Transkei na Durban. Dit was waag-ry. Almal het grootoog gewaarsku teen ry in daardie jare deur die Transkei. Vrystaat om en oor Lesotho was die meeste se keuse as jy in Durban wou uitkom van hier uit die suide.

27.10.14

Metamorfose tref Rooi Rose

 HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ná aanleiding van Jasper Schellingerhout se uitmuntende berig oor die "Sewentigs en hul nuwe koerant" wil ek graag ´n stuiwer in die armbeurs gooi oor die metamorfose wat die vrouetydskrif Rooi Rose op 10 Maart 1971 ondergaan het.

Soos Jasper skryf van die oorstoot van die sestigs na die sewentiger jare, was hierdie "oorstoot" by Rooi Rose nie so maklik met Martie Snyman aan die stuur nie.

23.10.14

Martie se Rooi Rose

GERHARD BURGER skryf: Op ʼn goor dag kan jy een van twee dinge doen: gaan busry of in ʼn winkel vol tweedehandse boeke gaan speel.

Port Elizabeth se busdiens is nie aan te beveel nie. Maar hier is darem twee boekwinkels waar ʼn mens maklik ʼn hele dag kan deurbring as die dors jou nie oorval nie.

Dit is hoe dit gebeur het dat daar nou tussen al die goeters in hierdie klein kraamsaal (ander mense het studeerkamers) ʼn uitgawe van Rooi Rose lê: Woensdag 19 Mei 1971. Die redaktrise was Martie Snyman, wat ʼn nogal lywige stuk oor haar dogter se kleresmaak geskryf het.

22.10.14

Nardus se humorsin laat kerk lag

Nardus Nel
JAKKIE GROENEWALD was die naweek by Nardus Nel se begrafnisdiens. Hy sê aan die mense wat Nardus se begrafnis bygewoon het, is dit duidelik dat hy diep en wyd spore getrap het.

Met die huldeblyke wat gelewer is, het Nardus se humorsin sterk na vore gekom met die lagbuie wat daar telkens in die kerk uitgebreek het. Huldeblyke is gelewer deur John Liebenberg en Dr Edith Phaswana (Nardus se buurvrou). Die diens is deur dr André Bartlett gelei.

Benewens Nardus se familie, het ook verskeie oud-kollegas opgedaag om hulde aan hom te bring - onder andere Elma Potgieter, Sipke de Vries, Louise Blake, Wessel Oosthuizen en Dana Snyman.

Bekendes in die vermaaklikheidswêreld wat daar was, sluit in Frank Opperman (wat namens Marina - Nardus se weduwee) die bedankings gedoen het, Leon Schuster, die rolprentvervaardiger André Scholtz en sy vrou Riana (wat as Riana Pienaar in verskeie rolprente verskyn het), Lochner de Kock, Nicky van den Bergh en Cobus Visser. (Nardus was 64 jaar oud. -- Red.)

20.10.14

Spietkop klop vir Nardus wakker

JAKKIE GROENEWALD skryf: Ons het in die 70’s die film Diamant en die Dief in onder meer die Vrystaat verfilm (Koffiefontein en Jagersfontein).

Omdat die inwoners daar ons so baie gehelp het, het die vervaardiger, André Scholtz, besluit dat ons die première van die film op Koffiefontein moet hou.

Lede van die tegniese span, akteurs, soos Hans Strydom, Sybil Coetzee, Francois de Bruyn en Mel Miller – en die uwe – was saam Koffiefontein toe vir die geleentheid. Nardus Nel is gestuur om foto's te neem.

17.10.14

'n Huldeblyk aan Nardus Nel

DANA SNYMAN skryf op sy Facebookblad soos volg oor Nardus Nel wat vroeër die week oorlede is:

Maart 1992. Ontmoet Nardus in Huisgenoot se kantoor in Johannesburg. Spreek hom die eerste keer as “Meneer Nel” aan. Ons gaan Durban toe. Dis my eerste keer in ´’n vliegtuig.

Ek neem aktief aan die lugwaardin se veiligheidsdemonstrasie deel. Nardus sit met ’´n perdeboekie en kies vanmiddag se wenners op Greyville. Dit gaan ’´n tawwe trip wees hierdie, dink ek. Hierdie beroemde fotograaf hou vir hom beter.

Kapper in ons woud is bedrywig

WILLIE BUYS skryf: Ek stem heelhartig saam met Lita Kotze se skrywe onder die opskrif Omkrultoon-storie van Jasper. Nou, nog voor Lita se skrywe het ek dominee Jasper se storie gelees en, net soos sy, behoorlik hoendervleisbulte uitgeslaan van pure lekkerte oor die behendige taalgebruik van die man.

15.10.14

Niki Lauda en Mozart in twee noue ontkomings

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Tydens ons opleiding by die joernalisteskool, moes ons op 'n dag Kayalami toe gaan om oor 'n motorwedren verslag te doen.

Evert van Niekerk, destyds die motorredakteur van Die Vaderland, het hom oor ons ontferm.

Evert moes dikwels met die renjaers onderhoude voer. Onder hulle was daar die gawe ouens en die galpille. Niki Lauda was een van die laasgenoemdes. Evert het geen ooghare vir hom gehad nie.

Waar is Dries van Heerden?

JAAP THERON, oud-Vaderlander vra: Wat het van my oud-Perskorkollega, Dries van Heerden, geword? Is hy nog met ons.

Afrikanergroete vanuit Brisbane in die South Pacific.

14.10.14

Gedenkdiens vir Nardus

MARINA NEL (Nardus Nel se weduwee) skryf: 'n Gedenkdiens word Saterdag 18 Oktober vir Nardus Nel gehou om 11:00 by die NG Kerk Aasvoëlkop, Hockeylaan, Northcliff. Boodskappe kan aan haar gestuur word by marina.nel@gmail.com.

13.10.14

Nardus Nel oorlede

Hans Lombard het laat weet dat Nardus Nel oorlede is.  Begrafnisreëlings sal bekend gemaak sodra besonderhede ontvang is.

Omkrultoon-storie van Jasper

LITA KOTZE skryf: Allamaskas, wat ‘n heerlike stuk letterkunde kry ons nie vanoggend van Jasper Schellingerhout in K’rant nie!

Nie alleen spreek die inhoud van belewenis aan eie bas nie, maar daai taalgebruik! My tone het behoorlik omgekrul van lekkerte oor die kuns van skryf wat Jasper besig. Gits, mens lees nie vandag maklik meer sulke kleurige, afgeronde, weldeurdagte berigte nie.

Ek skryf dit toe aan die era van “information overload” waarin ons lewe. Die beskikbaarheid van nuusbrokkies is eenvoudig dawerend te veel vir die ruimte wat beskikbaar gestel word deur die advertensieverkope in ‘n publikasie.

Sieg van Niekerk oorlede

Jakkie Groenewald het laat weet dat Sieg van Niekerk, voormalige motor-redakteur van Die Transvaler, is verlede week aan kanker oorlede.

10.10.14

Die SEWENTIGERS en hul "nuwe" koerant

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf:  ELKE bedeling het sy eiesoortige “geite” waarvoor daardie tydsgreep bekend is. Niks is solied gegiet nie. Al wat vas en seker is is dat niks vas en seker is nie. Dikwels kan hierdie tydperke in dekades ingedeel word.

Die dekade van 1960 – ’70 het behoort aan die sg. sestigers. Hul vrye denke, gedigte en storielyne het die grense partykeer erger getoets as wat die Nasionale Party kon platklap en in die grond inboor: André P. Brink, Etienne Leroux, Jan Rabie, Breyten Breytenbach en kie ...

7.10.14

Nardus Nel is baie siek

Nardus Nel
PIET ROOS skryf: Ons goeie vriend Nardus Nel is baie siek.

Hy was destyds 'n fotograaf by Die Vaderland saam met my. Hy het van die Oosterlig gekom, as ek reg onthou, en ons het saam gewerk in Aucklandpark. Nardus het nooit met 'n suur gesig rondgeloop nie, en altyd geglimlag.

Ek het daardie jare 'n kamera by Nardus gekoop, en betaal, Bienkie! Dit was 'n Minolta Autocord.

6.10.14

Johan Moolman oorlede

PIETER SCHOOMBEE skryf: Piet Roos vra Vrydag in K'rant wat geword het van Johan Moolman, vroeër sake-joernalis by Die Transvaler. Hy is op 8 Junie verlede jaar aan kanker oorlede nadat hy so 30 jaar lank die eienaar en redakteur was van Cape Business News. Dis steeds 'n suksesvolle sake-koerant in die Kaap.

3.10.14

Waar is Johan?

PIET ROOS vra: ´n Vriend vra my wat geword het van Johan Moolman wat destyds by Die Transvaler se sake-redaksie gewerk het? Weet iemand?

(Oud-kollegas kan met graagte dié forum gebruik om ander oud-kollegas te probeer opspoor.  -- Red.)

2.10.14

Piet betaal sy weddenskap na 40 jaar

PIET ROOS skryf: In Maart 1973 het ek die grootmens-wêreld van die joernalistiek betree.

Dit was die wonderlikse plek waar dinge gebeur het. Ons het elkeen 'n tikmasjien gehad, in ons hokkies gesit en stories op "seksie"-papier getik en die blaaie met kopspelde aanmekaar vasgesteek.

Toe ek meer as dertig jaar later op Upington by Douglas Jones kuier, trek hy 'n skryfblok nader en teken die hokke.

1.10.14

Gerhard is hoof van Bienkie se bewonderaarsklub

Die blote feit dat Bienkie Wessels van haar laat hoor het en dan nog op so 'n heerlike lekkerlees manier, het nie net K'rant se redaksie beïndruk nie.

GERHARD BURGER skryf: Bliksem! Daardie Bienkie Wessels kán skryf. Van kleins af. Nou nog. Laat weet haar ek is steeds hoofkommandant van haar fan club. Nog al die jare. (Jy het 'n vrag mededingers Gerhard - Red.)

30.9.14

Bienkie onthou die lekker van haar kollegas

BIENKIE WESSELS skryf: Dis die sien van Japie Bosch (Betaalmeester - of so iets?) se naam wat my doerie goeie dae laat onthou en besiel om iets te begaan.

Immer hulpvaardig, het Japie meermale bygedra as hy merk iemand sit en kraam; en wanneer die betrokke ou dan 'n blaaskans vat en 'n draai gaan loop, voeg hy gou iets tot die storie by.

Sy wenke het nogal gehelp. Kan nie onthou dat ek hom ooit met iets bygekom het nie, maar hy't 'n mens gedryf tot 'n paar groot woorde - daardie tyd was donner 'n yslike swetswoord - en dan was die breinverbindings beter en kon jy verder skryf.

26.9.14

Len, sanger soos min, sing met Min

Verlede week het Hanlie Swanepoel-Vornberg onder meer van Len Lindeque se bekering vertel. In daardie tyd het Len ook langspeelplate gemaak. In Perskorhaan van Augustus 1972 het die volgende berig verskyn:

"Ná my ernstige motorongeluk verlede jaar waarin ek amper gesterf het, het ek besluit om my talente in belang van Christus en sy werk te wy ... “

23.9.14

Jammer, Hanlie

'n Webjoernal het nie 'n drukkersduiwel nie, seker maar 'n kuberduiwel.  Dié duiwel het gister met Hanlie Swanepoel-Vornberg se storie gelol.  Dele daarvan het verdwyn.  Dit is later reggestel.  Die volledige storie is HIER

22.9.14

Die Hugenoot en die Viking

 HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Dit was vanoggend lekker om oor Hermie te lees. So bly hy is nog met ons en dat dit goed gaan met hom.

Die joernalisteskool was oorkant 'n ry tydelike kantore waar die redaksie van Motorgids gehuisves was.

Motorgids was, soos die naam aandui, 'n motortydskrif en die redakteur was die aantreklike Jan Olivier.

17.9.14

Onder Len Lindeque se vlerke

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Len Lindeque se kantoor was reg langs myne by die Rooi Rose-redaksie. Ons was in die "agterbuurtes" van die gebou.

Ek en Elma van Vuuren, later Elma Meyer, was die kuikens in die redaksie. Len was ons mentor en het ons onder sy vlerke geneem.

In sy oorvol, slordige maar karaktervolle kantoortjie het hy meestal kop onderstebo by sy oorhoofse projektor sit en werk.

Regstelling

Hermie Hendriks sê sy oudkollegas moet nugter bly?

Waar kom julle daaraan?

Die stukkie goeie raad van Hermie was deel van 'n foto-byskrif wat in die slag gebly het en in die redakteur se agterkop vasgesteek het toe hy die kop vir die storie geskryf het. Bly goeie raad ...

15.9.14

“Bly nugter” waarsku Hermie

HANS LOMBARD skryf: Op Vrydag 5 September het ek Hermie Hendriks en sy dogter Hermien by die tuiste vir bejaardes, Huis Hoëveld, net agter die Wesparkbegraafplaas, Johannesburg, gaan oplaai vir ‘n heerlike middagete by die ou bekende Thunder Gun Steakhouse in Blackheath, Johannesburg.

Hulle doen al sake sedert 1968 en Hermie sê in sy Vaderland-dae het hy en van die manne gereeld daar geëet. Sy dogter, Hermien, bly ook in Huis Hoëveld. Sy kyk goed na haar pa. Sien hom feitlik elke dag. Hermie het mooi herstel nadat hy vroeër vanjaar geval het. Hy loop nie meer met ‘n loopring nie en het self aangestap na die motor.

9.9.14

Koei red my uit verknorsing

HANS LOMBARD skryf: My ma het my altyd gewaarsku: “Moenie met vreemde meisies ‘n geselskap aanknoop nie.” Maar soos ‘n mens ouer word en 21 verbysteek, dink jy mos jy kan al self dink en nie dis onnodig om altyd ma se raad te volg.

Só gebeur dit een Sondagaand op die lughawe in Parys, Frankryk. Ek was op pad terug Londen toe op die goedkoop vlug wat om middernag sou vertrek. Dis 00:30 en ‘n beampte kondig aan die vlug is vertraag en ons word getroos met sjampanje.

3.9.14

Hanlie vertel self

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ek het toevallig by ´n familielid van K´rant gehoor en natuurlik dadelik gaan loer. Jou wrintigwaar daar het intussen sommer dadelik 'n hele paar mense oor my geskryf en my ná al die jare in die buiteland onthou!

Ek was een van die agt wat destyds die eer gehad het om Perskor se joernalisteskool by te woon. Ons was vier vroue en vier mans, het almal wonderlik met mekaar oor die weg gekom en was groot bewonderaars van Hermie Hendriks.

29.8.14

Hanlie se storie vervolg

SUZELLE FOURIE skryf: Ek het Karin Pretorius se bydrae oor Hanlie Swanepoel en haar lewe in Oostenryk met plesierige belangstelling gelees. Ek onthou nog vir Hanlie van die vroeë sewentigerjare, toe ek ‘n onervare groentjie-verslaggewer by Die Vaderland was en sy een van die gelukkiges wat ordentlike opleiding in Perskor se joernalisteskool ontvang het.

26.8.14

Doodluiters beland Hanlie in Oostenryk

KARIN PRETORIUS skryf: Tant Bybie Hyman Van Rooi Rose se opdrag aan my was baie duidelik: jy kom nie terug van Oostenryk sonder die onderhoud met Hanlie Swanepoel in Wene nie.

Hanlie het die baie gewilde rubriek ‘Doodluiters’ in Rooi Rose behartig – ‘n rubriek wat nog deur die redakteur van destyds, wyle Marthie Snyman, aan haar gebied is en wat op 14 Julie 1971 sy eerste publikasie gesien het.

21.8.14

Prinse en boere voor Herman se lens

KARIN PRETORIUS skryf: Tydens die bosoorlog in die ou Rhodesië was ek bevoorreg om in September 1979 as die enigste genooide joernalis die huwelik van min PK van der Byl met prinses Charlotte von Liechtenstein in hul familiekasteel in Waldstein, 25km suid van Graz in Oostenryk, by te woon.

Mnr Van der Byl was toe die minister van vervoer, krag en poswese in die nuwe kabinet van Zimbabwe-Rhodesië en 'n gebore Kapenaar.

6.8.14

Oor knorpotte en gesteelde toebroodjies

GERT COETZEE skryf: Oom Mike van Niekerk bel my op ’n aand toe ek die Ooste vir Die Transvaler beman; ek moet die een of ander storie dringend gaan doen, foto’s neem en dit so gou doenlik deurstuur vir die volgende oggend se uitgawe.

Ek vertel vir Oom Mike my Skottie, McDonald, is siek en ek moet hom dadelik veearts toe vat. Oom Mike sê hy is jammer om dit te hoor, hy het nie mense om die storie te doen nie en as ek dit nie doen nie, ek my toekoms by die koerant gerus maar die volgende dag met Die Pous moet bespreek.

1.8.14

Boom slinger oor Dirk se pad

DIRK BENADÉ skryf: Destyds, ná n goeie dag weddenskapsgewys by die perderenbaan en 'n vreemde klein wit pilletjie op die verkeerde tyd gesluk om my gestel te laat herstel, is ek op pad terug kantoor toe met Perskor se Volkswagen Passat.

Die uitwerking van die wit pilletjie was toe om my onverwags en agter die stuur van die Passat aan die slaap te sus. Net toe ek aan die slaap raak, het 'n yslike groot boom voor my oor die pad gestap met gewelddadige gevolge.

30.7.14

Woonstelmaats na 40 jaar weer bymekaar


GERT VAN ROOYEN skryf: Ná byna vier dekades is die drie woonstelmaats weer verenig! Ja, dit was voorwaar ʼn reünie in die kleine toe Joe van Buuren (links), Alwyn Strydom (regs) en Gert van Rooyen mekaar by die Perskor-reünie op 31 Maart raakloop. Dit was in die middel jare sewentig toe dié drie besluit het om ʼn woonstel in Bordeaux, Randburg, te betrek. Die woonstelblok was reg langs die Braamfonteinspruit, waar die laaste episodes van die befaamde Transvaler-produksies se Don Spaghetti- en Don Ravioli-film geskiet is, en die drie was natuurlik ook karakters in die film! Later het Danie Malan (wat toe net van Australië af teruggekeer het) ingetrek en mettertyd nog een of twee ander mense so deur die loop van die jaar! Maar, dit was lekker ou dae en aande, waar tequilas met suurlemoen en sout weggesluk is en ‘n hele paar samekomste (tot die ergenis van die ander inwoners) naby Dittonlaan 10, Aucklandpark gehou is.

25.7.14

Moordlyste en dodelike draaie

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Ek het Le Roux Terblanche in Die Vaderland se gange leer ken toe hy lesers onder die skuilnaam Karwats oor die land se vinnigste perde ingelig het. Volgens Essie se skrywe het hy Le Roux se donker kant by The Citizen leer ken toe hy op sy moordlys beland en 'n vriendskap onherstelbaar verbrokkel het.

Jare gelede het ek by Die Vaderland 'n geleentheid gekry om my platsaksalaris as motorredakteur met gratis motorritte aan te vul. Ek kon tussen verskillende modelle kies en het elke week 'n motor met 'n vol tenk petrol kry om te toets.

21.7.14

Italiaanse Tshipise fnuik die sentrale

HANS LOMBARD skryf: In April 1974 was ‘n groep van ons op pad na Salisbury (Harare). Ons besluit om ‘n aand op Tshipise, iewers tussen Louis Trichardt en Messina, in Noord-Transvaal, oor te bly. Uit verskeie oorde het ons verneem dat dit so ‘n wonderlike uitspanplek is.

Om 13:30 op ‘n Saterdag bel ek die sentrale van my woonstel af in Johannesburg en bespreek die oproep na Tshipise nommer 4 om plek te bespreek. Die meisie by die sentrale vra hoe dit gespel word.

16.7.14

Bang prokureurs sorg vir lekker naweek in die buiteland

PIET ROOS skryf: Rondom 1976 kom ek die storie te hore dat Suid-Afrikaanse prokureurs gaan registreer in Lesotho. Dit het hulle outomaties toelating gegee in die Statebond en kon hulle sodoende maklik landuit en in Engeland of Australië gaan werk.

Ek vertel dit vir die nuusredakteur en hy sê nou hoe gaan jy die storie kry?

Ek sê ek kan dit nie kry nie, maar my vriend, 'n prokureur, sal saam gaan en hy ken die wette en hy sal die storie kan losmaak.

14.7.14

Möller Dippenaar oorlede

Möller Dippenaar, voormalige politieke korrespondent van Hoofstad, is Woensdag, 2 Julie 2014, aan ‘n hartaanval in die Eugene Marais-hospitaal, Pretoria oorlede. Hy was 72.

Die begrafnis was verlede week.

Möller wat gesond- en fiksheidbewus was, laat sy vrou, Christine, en twee dogters agter.

4.7.14

Niks is vir altyd nie

Ons verskyn nog, net nie meer elke dag nie.

Daar is net soveel gewese oud-Perskor-kollegas (wat ongelukkig elke jaar ook nog al hoe minder word) en net soveel stories wat ons uit ons vaer wordende geheues kan loskrap.

Dit beteken dat K'rant uiteindelik nie meer stories sal kry om te publiseer nie want die stories en die skrywers van die stories het opgeraak. (Hopelik hou die skrywers die langste!)

Alles het 'n begin en 'n einde. K'rant het bietjie meer as twee jaar gelede begin en vir die grootste deel van hierdie tyd elke werksdag van die week 'n vars storie gepubliseer. Ons het besef dat dit nie volhoubaar is nie.

Ons statistiek wys reeds dat die bydrae-tempo begin afneem en ons het begrip daarvoor.  

Die hartseer gevolg daarvan is dat K'rant voortaan nie meer elke dag met 'n vars storie vorendag sal kan kom nie want daar is eenvoudig nie meer vyf nuwe stories wat elke week inkom nie.

Ons wil sterk aanbeveel dat enige leser wat graag wil weet wanneer K'rant 'n vars storie het, moet inteken om van die storie kennis te kry. Die alternatief is om elke dag by K'rant in te loer en self te kyk.

Hierdie aankondiging is nie die einde van K'rant nie, maar wel die einde van K'rant soos dit die afgelope byna twee jaar daagliks met vars stories die lig gesien het. 

Vir enige oudkollega wat lus voel om met ons enige van jou werksherinneringe by Perskor te deel, stuur vir ons jou storie!

Om vorentoe van vars stories kennis te kry, moet jy net op K'rant inteken deur jou epos-adres te voorsien in blokkie met die opskrif "Teken in op K'rant" regs bo.

3.7.14

My NP-plakker op ‘n SAP-tante se motor

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Ek was as koerantman ‘n vurige Nasionale Party-man en het met groot passie en opgewondenheid deel gevorm van die verslagspan wat in die ou dae verkiesings gedek het in en om Port Elizabeth. Toe was dit Sap teen Nat.

Die optelsommetjie van die destydse politiek was dikwels: Sap + Nat = BLOED. Halwe(hartige) houe slaan was nie op die spyskaart nie.

2.7.14

Mammie tik beampte terwyl Karin swem

KARIN PRETORIUS skryf: Wat was pa en ma nie trots op hul 13-jarige langbeenmeisiekind wat die skole-byeenkoms in Durban vir 55-treemeisiesvryslag 0-14 gewen het nie en daarmee in 1958 haar junior Noord-Transvaal-kleure vir swem verwerf het! Die pragtige donkerblou sakwapen met die rooi disablommetjie was tog almal se trots.

Maar, die Oos-Transvaalse beampte wat voor ma op die paviljoen in die bloedige Durban-son gesit het, het nie dieselfde sentiment gedeel nie.

1.7.14

Lita leer van dissipline by Transvaler

LITA KOTZÉ vertel hoe haar pad in die joernalistiek gekronkel het: Met ‘n onvoltooide onderwysgraad het ek in 1981 in die joernalistiek beland. Ek het ná universiteit by my ouers op Randfontein gewoon en werk gesoek.

Op ‘n dag loop ek in die hoofstraat, sien die bordjie van die Randfontein Herald, steek my kop by die deur in en vra vir die ontvangsdame of hulle nie werk het nie.

30.6.14

Geisja-danseres maak amok op NG Kerkraad

HANS LOMBARD skryf: Ná my besoek aan Japan in 1959 het ek ‘n boek geskryf oor my ervarings, “Straalvlug na die Ooste.” Dit is deur Nasionale Pers uitgegee.

‘n Resensie van die boek deur Frans Esterhuysen het op 6 Januarie 1962 in die Evening Post, ‘n koerant in Port Elizabeth, verskyn onder die opskrif: “Afrikaner liked Japan and its women.” (Leef Frans Esterhuysen nog? Ek het hom nooit ontmoet nie - Hans.)

27.6.14

Die Valiant kom terug

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Perskor het só baie publikasies gehad dat die manne in die fabriek groot geld met oortydwerk verdien het. Die meeste van hulle het soggens ingeklok en laat saans huis toe gegaan. Een van die baie voormanne, Rudie Mioch, het een aand gespog dat hy teen Woensdag reeds sy weeklikse kwota ure gevul het en op Donderdag soos hy dit gestel het op tyd en ‘n half gegaan het. As hy dan nog naweke gewerk het, was dit volgens hom dubbeltyd.

26.6.14

Om die storie te veroorsaak

PHILIP DEETLEFS skryf: Die Goudstadse Onderwyskollege was in die jare sewentig net om die draai van Perskor in Auckland Park en baie naby Brixton. Die polisie se blitspatrollie-eenheid met brigadier Theuns Swanepoel (die Rooi Rus) aan die roer van sake was ook in Brixton.

Ek weet nie of Buks Pietersen of (klein) Dana Niehaus hierdie storie nog kan (of wil) onthou nie, maar destyds toe ek misdaadverslaggewer by Die Transvaler was, was Buks misdaadverslaggewer by Rapport.