Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.9.14

Hanlie vertel self

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ek het toevallig by ´n familielid van K´rant gehoor en natuurlik dadelik gaan loer. Jou wrintigwaar daar het intussen sommer dadelik 'n hele paar mense oor my geskryf en my ná al die jare in die buiteland onthou!

Ek was een van die agt wat destyds die eer gehad het om Perskor se joernalisteskool by te woon. Ons was vier vroue en vier mans, het almal wonderlik met mekaar oor die weg gekom en was groot bewonderaars van Hermie Hendriks.

Hermie Hendriks
Hy was n uiters professionele joernalis met 'n baie goeie hart, innemend van geaardheid en het met 'n heerlike brrrrei-r gepraat wat hy uit Swellendam saamgebring het.

Die daaglikse program was gevul met voorlesings, tik- en spoedskrifklasse, hofverslaggewing, interessante besoeke waaroor berig moes word en sommer net lekker stories. Dit was van die beste jare in my lewe!

Martie Snyman
Ek was baie gelukkig om dadelik by die vroueblad "Rooi Rose" in te kom en boonop nog my eie rubriek "Doodluiters" te begin. Martie Snyman was die redaktrise, het dwarsdeur jou gekyk met haar smeulende swart oë en ek moes dadelik op haar bevel al my minirokke se some uithaal.

Tussendeur het ek ook heelwat kortverhale vir Bennie Fritz geskryf.

"Doodluiters" was 'n groot sukses en het jare lank bly voortbestaan. Ek het selfs nog hier uit Wene die rubriek daar onder aan die gang gehou, asook vryskutwerk gelewer en nuusbriewe aan die radio geskryf.

Dit was lekker om weer te hoor van Karin Pretorius, wat hier in Wene by ons kom kuier het. Ek is vanjaar reeds 38 jaar lank in Oostenryk. Die Afrikaans raak maar roeserig maar ek hou dit aan die gang. My twee kinders praat albei vlot Afrikaans.

Intussen het ek, terwyl my ouers en broer nog geleef het, altyd weer in die Kaap gaan kuier.

Wene, Oostenryk.
Later het ek hier in Wene my eie skooltjie gestig waar kinders in die middae spelenderwys Engels kon leer. Dit was gewild en het 22 jaar lank bestaan.

Intussen het my man op wie ek baie trots is, as internasionale bankier ook sukses behaal en het ons 'n lang en goeie huwelik gehad.

Na veertig jaar saam, twee kinders en drie pragtige kleinkinders, het hy ongelukkig vyf jaar gelede besluit om 'n ander pad in te slaan. Hierdie uiters moeilike tyd in my lewe het ek in die vorm van 'n boek verwerk wat op Duits verskyn het.

Vandag gaan dit goed met my. Ek reis baie, geniet my kleinkinders, skryf aan 'n boek oor "Lekker stories uit die Ou Kaap" en verdeel my tyd tussen my huis in Wene en my ou plaashuis in die Alpe.

Ek het al gewonder of die agt stuks van ons wat in Hermie se skooltjie was, nie êrens kan ontmoet nie? Laat hoor van julle.