HANS LOMBARD skryf: My ma het my altyd gewaarsku: “Moenie met vreemde meisies ‘n geselskap aanknoop nie.” Maar soos ‘n mens ouer word en 21 verbysteek, dink jy mos jy kan al self dink en nie dis onnodig om altyd ma se raad te volg.
Só gebeur dit een Sondagaand op die lughawe in Parys, Frankryk. Ek was op pad terug Londen toe op die goedkoop vlug wat om middernag sou vertrek. Dis 00:30 en ‘n beampte kondig aan die vlug is vertraag en ons word getroos met sjampanje.
Oorkant my sit ‘n jong pragtige meisie na wie se kant toe ek al lankal loer. Dis duidelik sy reis alleen.
Sjampanje is geneig om ‘n mens se tong los te maak en ek knoop ‘n geselsie met haar aan. Sy is ‘n onderwyseres van New York. Was met vakansie op die vasteland en nou op pad terug, maar gaan eers op die eiland Jersey kuier. Ek nooi haar uit om by my woonstel in Londen te kom vertoef tot haar vliegtuig later daardie dag na Jersey vertek. “Dit sal tog aangenamer wees as om op die lughawe te sit.” Nee, sy hou vol sy sal op die lughawe wag.
Op die vlug na Londen sit ons ook langs mekaar en hou handjies vas. Druk en “squeeze.” Ek nooi haar weer uit om op pad terug ‘n paar dae by my te kom kuier voor sy haar vlug na New York haal.
“As jy soveel in my belang stel, kom kuier vir my op Jersey,” antwoord sy. “Goed. Wat is jou adres daar? Sal Woensdag jou pas?” beaam ek. Sy haal ‘n sakboekie uit haar handsak en gee vir my die adres. Ek skryf dit af. Dit is glo ‘n losieshuis.
Woensdag neem ek die eerste vlug na Jersey. Dis ‘n klein ou eilandjie. Uit die lug lyk dit so groot soos ‘n
sikspens. St Helier is die hoofdorp. Die lughawe is ‘n paar kilometer van die dorp af. Ek skraap die eerste taxi en gee hom die adres. “Weet jy waar dit is?” "Ja", antwoord hy. Geen probleem.
Toe ons die dorp binnery, stop hy ‘n ander taxi en vra aanwysings. Hy kan nie help nie. Stop ‘n tweede taxi. Dieselfde antwoord. “Not sure!” Nou kook my bloed! "Jy het dan gesê jy weet waar die plek is."
Nou is hy nie seker nie, maar dui aan voor in die straat is die toeriste-kantoor. Ons sal daar navraag doen. Ek stap saam met hom. ‘n Vriendelike dame sê hulle het nie so ‘n adres op hulle register nie. Daar kan tog nie baie verblyfplekke op die klein stukke aarde wees nie. Ek vra haar of sy vir my die lys van verblyfplekke kan gee. Ek sal almal bel. Daar is 350 beduie sy. Nee wat. Waar is die naaste adres van waar ons nou is?
Ek besef dié vreemde meisie het my op ‘n dwaalspoor gebring. Het ek maar na my ma se raad geluister.
Die naaste herberg is net oorkant die straat. Dis die hoofstraat. Hulle het plek. Ek betaal die taxi en haal die botteljie reukwater van Harrods uit my tas en gee dit vir die ontvangsdame. “Baie dankie vir jou vriendelike hulp.” Sy is skoon uit die veld geslaan. Ek stap oor die straat en sien ‘n plakkaat teen ‘n lamppaal. “Jersey cattle national championships today.” Bespreek in. Neem my kamera en sit af na die skouterrein ‘n paar honderd meter die straat af.
By die ingang toon ek my internasionale perskaart en verduidelik ek kom foto’s neem. Sonder meer word ek na die sekretaris geneem. Ek stel my voor as ‘n Suid-Afrikaanse joernalis. “O! Baie welkom. Dan ken jy seker vir Paul de Villiers, hy is ook hier.” Jammer, ek het nog nooit van hom gehoor nie. Paul van die Paul de Villiers wynfaam naby die Paarl is ook een van Suid-Afrika se voorste kampioen-Jerseybeestelers.
Die bees in die ring, vertel die sekretaris my, is 26 jaar oud en van haar afstammelinge is feitlik in alle wêrelddele waar daar met Jerseys geboer word. Ek vra of daar boere op die skou is wat van haar kallers gekoop het. Gou-gou het hy ses bymekaar. Paul de Villiers ingesluit.
Ek neem ‘n foto van hulle by die bees en stuur die foto en byskrif na elke landboutydskrif in die lande waar die ses boere vandaan gekom het. Almal het my foto geplaas en my beloning was ‘n tamaai £96 (R192 destyds). Dit was genoeg om al my koste na Jersey te betaal met nog ‘n klomp pennies in my sak. As ek die meisie raakgeloop het sou dit my seker baie meer gekos het.