LITA KOTZE skryf: Allamaskas, wat ‘n heerlike stuk letterkunde kry ons nie vanoggend van Jasper Schellingerhout in K’rant nie!
Nie alleen spreek die inhoud van belewenis aan eie bas nie, maar daai taalgebruik! My tone het behoorlik omgekrul van lekkerte oor die kuns van skryf wat Jasper besig. Gits, mens lees nie vandag maklik meer sulke kleurige, afgeronde, weldeurdagte berigte nie.
Ek skryf dit toe aan die era van “information overload” waarin ons lewe. Die beskikbaarheid van nuusbrokkies is eenvoudig dawerend te veel vir die ruimte wat beskikbaar gestel word deur die advertensieverkope in ‘n publikasie.
Vra my, ek het tot onlangs my eie gemeenskapskoerantjie bedryf en doen nou so 'n bietjie vryskutwerk vir ‘n ander een. Die koek se snye word nou só dun gesny om aan al die publikasies en nuwerwetse bemarkingsmetodes in die mark se versoeke te voldoen. Verhouding-gewys raak skreiend min ruimte beskikbaar vir die hope nuusbrokkies waarmee ‘n (nuus)redakteur deur die gemeenskap toegegooi word.
En dit is waar Jasper se heerlike lees-tipe “blommetjie skryf” – soos ek dit noem – in die hek duik. Jy skryf jou hart uit aan ‘n berig, let wel sónder byvoeglike naamwoorde maar met slim woorde en uitdrukkings soos Jasper, net om opdrag te kry om dit tot soveel of soveel woorde te verkort vir die beskikbare gat op die blad. En daar gaan al jou hard uitgedinkte taal-lekkerte, want die feite moet bly.
Ai, julle ouens van destyds kon darem SKRYF, jong!