Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.9.14

Onder Len Lindeque se vlerke

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Len Lindeque se kantoor was reg langs myne by die Rooi Rose-redaksie. Ons was in die "agterbuurtes" van die gebou.

Ek en Elma van Vuuren, later Elma Meyer, was die kuikens in die redaksie. Len was ons mentor en het ons onder sy vlerke geneem.

In sy oorvol, slordige maar karaktervolle kantoortjie het hy meestal kop onderstebo by sy oorhoofse projektor sit en werk.

Ek en Elma het hom dikwels daar besoek.

Vir my was van die hoogtepunte die kere dat hy tyd gehad het om een van my kortverhale te illustreer. Dit was 'n groot eer.

Eendag het ek langs hom gestaan toe hy weer eens oor die foon met iemand gekskeer en maak asof hy Christiaan Barnard is. Hy kon Barnard se Engelse aksent perfek naboots.

Prof Barnard het altyd gepraat van die "haaart traaansplantation."

Tydens die geskerts oor die foon, kyk hy skielik na my kant toe en sê: "Babsie bring asseblief vir my 'n koppie koffie!"

Barnard was daardie tyd nog met Barbara Barnard getroud.

Len Lindeque was 'n volbloedkunstenaar. In sy werk en wat sy temperament betref. Hy was n man van buitensporigheid. Hy kon van die een dag na die ander van die een uiterste tot die ander verander.

Daar was die kuiernagte met manlike kollegas in Braamfontein en Hillbrow, wanneer Ria, sy eerste vrou, wanhopig rondgebel het om hom te soek. Dit het dikwels hewige rusies tot gevolg gehad waartydens van sy skilderye en haar gunsteling-keramiekpotte in flarde en skerwe geëindig het.

Op 'n dag het hy besluit dat dié bandelose lewe nadelig is vir sy gesondheid en sy huwelik.

Toe kantel hy oor na die ander uiterste, het die lig aanskou en uit Saulus is Paulus gebore.

Skielik wou hy ons almal bekeer. Hy het in die gange met Jesus gesmous, het nooit van "die Here" gepraat nie, maar van "Jesus and The Lord" in Engels.

"Hanlie, give your heart to the Lord", het hy gesê.

"Len, my pa was 'n diaken en 'n ouderling, ek was twee keer op 'n Sondag in die kerk en in die Sondagskool, jy hoef nie vir my die pad hemel toe te wys nie," het ek probeer om my eie heil uit te werk.

Dan het hy net gelag en is met 'n "bless you" weer by my kantoor uit om verder te gaan teken.

Een middag het hy my man, Richard, werk toe gebel en gevra dat hy hom die aand ná werk dringend êrens in die stad ontmoet.

Richard, wat daardie tyd hard gewerk en boonop nog buitemuurs by UNISA 'n MBL- (Master of Business Leadership) graad geloop het, het moeg langs Len neergeval en gevra wat makeer?

"Give your heart to the Lord, Richard," was Len se versoek.

Len en sy pasgebore peetkind, Birgit.
Inlas: Birgit vandag. 
As oortuigde agnostikus het hy net geantwoord: "Nee, ek is honger en wil nou huis toe gaan."


Op 'n dag het ek en Len oor kultuur gepraat.

"Len," het ek gevra. "Wat is vir jou Afrikanerkultuur?"

Hy het so 'n rukkie nagedink, oor sy bokbaard gestreel en gesê: "Afrikanerkultuur is om op die stoep te sit en te kyk hoe die hoenders op die werf kak."

Dit was Len.

Toe ek en Richard trou, het Len die troukaartjie ontwerp met 'n tekening van ons op die voorkant.


Len het ons troukaartjie ontwerp met 
'n tekening van my en Richard.
Toe ons eerste kind, Birgit, gebore is, het ons hom gevra om haar peetpa te wees. Hy het die aanbod met groot vreugde aanvaar.

Op die doopkoek was wurms uit marsepein. Sy kenteken. Die wurms het altyd by sy karikature kommentaar gelewer.

Die Len-storie het nog 'n stertjie.

In ons woonstel in Linden het ek en Richard 'n vreeslik onvriendelike buurman gehad. Hy was ook 'n joernalis, maar ons het mekaar net oor die heining geken.

Hierdie man het ons lewe sonder rede versuur. Hy het in die verbygaan venynige opmerkings gemaak, ons verklap dat ons katte aanhou en het die wasgoedrak met babadoeke wat as gevolg van die reën op die agterstoepie gestaan het, in die nat weer gaan neersit.

Toe ek dit op 'n dag aan Hermie Hendriks noem, het hy verklaar dat die joernalis te bejammer is omdat hy so swaar deur die noodlot getref is. Hy was glo jare gelede verloof aan Len se eerste vrou en tydens die verlowing moes hy op 'n Springbok-rugbytoer oorsee gaan om verslag te doen.

Elma van Vuuren-Meyer met
haar dogtertjie, kort voor haar 
tragiese dood.
Gedurende sy afwesigheid het Ria haar trourok laat maak. Len se ma was die kleremaakster en toe ontmoet Ria vir Len. Sy het haar verlowing verbreek en met Len getrou.

Skielik het alles sin gehad. Len het dikwels by ons kom kuier, die buurman het hom gesien, ou wonde is oopgekrap en ons was die sondebokke wat moes boet.

Elma Meyer was 'n liewe kollega en 'n goeie vriendin by wie ek, 'n paar jaar nadat ek die land verlaat het, op my eerste tuisbesoek nog met my kinders in Johannesburg gekuier het.

Sy het ongelukkig in 1986 tydens 'n rusie met haar tweede man, in 'n oomblik van woede, haar eie lewe geneem. Sy het drie klein kindertjies agtergelaat. 'n Treurspel vir almal wat haar geken het.

Ja, die lewe skryf die bitterste en die beste stories.

Ek is so bly ek het soveel mooi herinneringe aan hierdie mense.