Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.9.14

Die Hugenoot en die Viking

 HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Dit was vanoggend lekker om oor Hermie te lees. So bly hy is nog met ons en dat dit goed gaan met hom.

Die joernalisteskool was oorkant 'n ry tydelike kantore waar die redaksie van Motorgids gehuisves was.

Motorgids was, soos die naam aandui, 'n motortydskrif en die redakteur was die aantreklike Jan Olivier.

Jan Olivier
Jan was, wat die Engelse "debonair" noem. Propvol selfvertroue, sjarmant en n man met styl. Volgens sy familienaam het hy van die Hugenote afgestam en ek dink die "debonair" het iets daarmee te doen gehad.

Jan Olivier was lank en donker en het selfs sy alomteenwoordige pyp met styl gerook. Wanneer hy met sy motor by die hek ingery het, het ons teruggestaan en plek gemaak. Jan het nie soos die meeste mense net 'n kar gehad nie, maar 'n Ford Mustang wat daardie tyd iets baie besonders was.

Wanneer Jan Olivier van sy Mustang gepraat het, het hy die naam nie in Engels uitgespreek nie. Jan het van sy MOEStang gepraat. By die" MOES" het hy amper so vorentoe gehoes dat 'n mens dit nie verkeerd kon verstaan nie.

1975 Mustang
Hoewel Jan aanloklik genoeg was om werklik in 'n film te speel, het die storie rondgeloop dat hy TOEvallig in 'n baie bekende film beland het.

In die jare sewentig was daar 'n film met die naam "A Man and A Woman". Die film was oorspronklik in Frans en die hoofspelers was Jean-Louis Trintignant en Anouk Aimée. Die temamusiek was 'n groot treffer. Die film het onder meer ook met motorsport te doen gehad.

Motorwedrenne was Jan Olivier se groot liefde en hy het niks daarvan gedink om sulke wedrenne soms in Europa by te woon nie. So was hy glo toevallig op die stadion in Le Mans toe die filmopnames tydens 'n motorwedren, daar gemaak is. n Mens kon hom blykbaar in die film sien.

Willie Nel was ook op die redaksie van Motorgids. Soos Jan die Hugenoot was, was Willie die Viking. Lank en blond en blouoog.

Willie Nel
Willie het selde met sy eie motor gery. Een van sy pligte was om nuwe motors te toets.

Willie het op 'n dag aangebied om drie van ons vrouens op die "Dak van Afrika Tydren" saam te neem. Hy moes oor die wedren verslag doen. Dit was vir ons 'n groot avontuur en 'n lekker naweek weg uit die stad.

Ons het die Saterdagaand in Maseru oornag en die eerste keer 'n casino besoek. Ons het nie gedobbel nie en sodoende ook niks verloor nie, maar my hart het in die slag gebly.

Toe ons vier die Sondag terugry, het Willie êrens in die Vrystaat beheer oor die toetsmotor verloor en langs die pad beland. Ons het gelukkig net groot geskrik, maar die motor was erg beskadig. Ons kon teen 'n slakkepas verder aankruie, maar moes by die eerste die beste plaashuis gaan hulp soek.

Ek het hom nooit gevra of die toetsmotor as gevolg van die ongeluk 'n negatiewe kritiek gekry het nie? Of 'n goeie resensie as gevolg van die feit dat nie een van ons in die ongeluk beseer is nie. Dit was voor die gebruik van veiligheidsgordels aan die orde van die dag was.

Hanlie in haar mini by die duinebesie.
Een middag toe ons die skooltjie verlaat, was Willie voor die Motorgidsgebou besig om n duinebesie (beach buggy) te fotografeer.

"Kom hier," het hy ons geroep. "Dan wys ek vir julle hoe 'n mens 'n motor afneem."

Hy het verduidelik dat jy op 'n bepaalde kenmerk van die voertuig moet fokus. In dié geval was dit die dikte en die struktuur van die bande.

"Hanlie," het hy vir my gesê, "Kom staan asseblief met jou mini hier agter die besie om die foto interessanter te maak."

Ek en Willie het n paar keer saam uitgegaan en het baie pret gehad. Hy was 'n motorman met 'n groot voorliefde vir Italiaanse operas en honde. Iets wat ons met mekaar gedeel het.

Hy het goed geskryf en het lekker met woorde gewoeker. Ek onthou vandag nog die opskrif van een van sy artikels. Dit was 'n berig oor 'n grondpadwedren waar die weer guur was. Op die foto's het die motors gespartel om uit die gemors uit te kom en het hoofsaaklik op die nat grond rondgegly .

Die opskrif van die artikel was: "Bodder in die modder!"

Later was dit weer eens tydens 'n gesprek in een van sy toetsmotors waar ons besluit het om tog nie die toekoms saam in te ry nie.

"Die man wat eendag met jou trou sal nooit verveeld wees nie." het hy vir my gesê.

Ek het dit as 'n kompliment beskou.

Ses maande later het hy sy eerste vrou en ek, my man ontmoet.

Lekker ou dae!