Hier is 'n paar vertellings.
• Die foto regs het in Januarie 1974 in Perskorhaan verskyn. Die byskrif was:
DIE Vaderland kon die maand weer eens "eerste" agter sy naam sit toe daar Pageboy-radio's vir takekantoormanne Sipke de Vries van Kemptonpark en David Malan van Krugersdorp aangeskaf is.
Die radio's word hoofsaaklik gebruik om die manne gedurig te “page" wanneer hulle net agter hulle eerste bier sit, maar dit word party keer ook baie nuttig gebruik wanneer daar 'n groot ding gebeur en die man is op die pad en kan nie andersins bereik word nie.
Ongelukkig kan 'n mens nog nie dadelik op dié radio terugpraat nie, maar moet daar eers vir 'n telefoon gesoek word om die oproeper terug te skakel om nadere inligting.
Dié Pageboy se straal is sowat 45 km en dit kan 24 uur per dag gebruik word. Dit werk met batterye en moet net so elke af en toe 12 uur lank in die gewone kragnet gelaai word.
Dis dan die tyd om die ongesteurde bier te drink. Hier staan Sipke (James Bond) de Vries met sy Pageboy by 'n motor.
• JAPIE BOSCH skryf: As jy jou storie voor druktyd moes deurbel vanwaar jy ookal was, was dit meer as gereeld ‘n paniekerige soektog na ‘n telefoon. Trouens, die vooraf-identifisering van jou belplek was dikwels net so belangrik soos die storie self.
Hoeveel keer moes ons nie by ‘n kafee-eienaar pleit nie? Jy moes mooi aan Piet Griek verduidelik dat dit nie ‘n hooflynoproep is wat hom honderde rande gaan kos nie. Boonop moes jy sorg dat jy altyd geld van jou eie in jou sak het om te betaal.
Daar was ook menige keer dat ‘n klomp nuuskieriges rondom jou staan en luister wat jy praat om die nuus te hoor voordat die koerant verskyn.
Dis by kafees soos dié in Richmond, Johannesburg waar koerantmanne dikwels 'n telefoon moes "bedel". |
Intussen staan die nuuskieriges al nader en maak jou meer verbouereerd.
RAYMOND DICKER, oudfotograaf van Hoofstad en Die Transvaler skryf: As ek dink hoe maklik dit deesdae is om sommer met jou selfoon ‘n foto te neem en te mms; ons kon in ons dae net ses landlynfotos in ‘n uur ontvang.
Hieronder is ‘n baie rowwe skematiese verduideliking van hoe ‘n landlynmasjien gewerk het. Die verhoudings is nie volgens skaal nie.
Die fotograwe het elkeen ‘n week lank ‘n diensbeurt gehad om landlynfoto’s te ontvang. Sesuur soggens het ons begin en tot sewe-uur het ‘n mens die foto’s van United Press International (UPI) in Brussel, België, af ontvang.
Die landlynmasjien was uit die aard van die saak in die donkerkamer geleë, want ‘n mens moes ‘n vel fotopapier op die silinder gelaai het. Sesuur het sake begin met ‘n sein wat UPI gestuur het sodat die masjien ingestel kon word. Daarna is die foto’s per landlyn gestuur. Die sein om die masjien te stel was ‘n lang piiiieeep-sein, en dan wanneer die landlyn gestuur word het dit aanhoudend ‘n piep-piep-piep-piep-piepgeluid gemaak totdat dit klaar gestuur is. Dan moes ‘n mens die papier afhaal, ‘n nuwe vel fotopapier opsit, en die foto wat jy ontvang het ontwikkel.
• ‘n Ander foto wat in Augustus 1970 in Hanekraai, verskyn het en vroeër reeds in K’rant geplaas is, beklemtoon die gesukkel nog meer. Die byskrif was:
As die eindfluitjie van 'n rugbytoetswedstryd sommer net hier duskant die "deadline" van 'n koerant geblaas word, dan word daar diep gedink hoe om die belangrike foto's betyds by die nuusredakteur te kry -- veral as sy kantoor 'n stuk of 40 myl van die veld af is. Dit was Dagbreek en Landstem se kopseer met die eerste toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland op Loftus Versveld in Pretoria. 'n Motor sou te stadig wees deur die druk verkeer. Selfs 'n helikopter is oorweeg, maar dit sou ook nie werk nie. Toe het iemand met die blink gedagte van motorfietse gekom. Drie manne is uitgesoek en met hul kragtige ysterperde was die foto's in 'n rekordtyd in Aucklandpark. (Foto: John Lee.)
• JOE VAN BUUREN het op 27 November 2012 onder meer soos volg in K’rant geskryf:
Ek is net spyt dat die tegnologiese rewolusie my nie oorval het onderwyl ek nog in die veld verslag gedoen het nie.
Ek weet verslaggewers gebruik jare lank reeds skootrekenaars om hul stories te skryf en by hoofkantoor af te laai, maar ek sou graag 'n selfoon byderhand wou hê toe ek destyds in die veld was.
My kollegas sal die gesukkel onthou om 'n telefoon in die hande te kry wanneer jy 'n storie in 'n afgeleë plek gaan doen het. Om die storie te kry was immers nutteloos as jy nie in verbinding met hoofkantoor was nie. 'n Selfoon sou natuurlik die problem oplos.
Daarbenewens is my selfoon toegerus met 'n kamera van twaalf megapiksels wat pragtige foto's neem.
Destyds moes 'n mens wag tot jy terug was op kantoor voor jy jou foto's te siene kon kry, maar met 'n selfoon weet jy onmiddelik wat jy aangevang het. 'n Mens kan die foto's redigeer ook. Trouens, ek kan op my foon bykans alles met die foto's aanvang as die fotograwe destyds in die donkerkamer. Dan SMS jy net die voltooide produk aan hoofkantoor.
Ek sou graag net een keer met 'n selfoon op 'n storie in die gramadoelas wou gaan om te ervaar hoe dié toestelletjie 'n verslaggewer se lewe kan vergemaklik.