Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.11.13

Carl leer die vanselfsprekende waardeer

CARL NÖFFKE, destyds hoofredakteur van Die Transvaler, was een van diegene wat in 1971 aan Rooi Rose se Kerstafel ‘n storie vertel het wat hy nooit sal vergeet nie. Hy skryf in daardie jaar se Kersuitgawe van dié vrouetydskrif: Die skraal Australiër het skielik bewoë geraak en na die sitkamer se venster gestap. Buite het Parys wit van die sneeu gelê. Dit was Kersdag 1964. Toe
het hy hom omgedraai en tot my vrou gewend: “Ek kan dit nie in woorde uitdruk hoe bly ek is dat ek vandag ‘n paar uur by julle kan deurbring nie; die laaste keer dat ek ‘n Kersdag gesellig tuis deurgebring het, was twintig jaar gelede – ‘n maand voordat ek van my ouerhuis in Australië weggeloop het.”

Ernie, die Australiër het na my driejarige dogtertjie gestap waar sy aan die speel was met haar Kersgeskenk, ‘n tamaai pop. “Besef julle gesinsmense hoeveel ‘n eensame mens ontbeer,” het hy gesê-vra – maar ek het besef ‘n antwoord is nie nodig nie.

Dit is nou reeds byna agt jaar gelede dat ons as gesin in Parys, Frankryk, gewoon het. Parys was aanvanklik vreemd en moeilik, en die afstand van 10 000 kilometer wat ons van Suid-Afrika geskei het ‘n feit waarmee ek en my vrou en ons twee dogtertjies rekening moes hou, veral wanneer die oudste dogter haar skoolwerk moes doen!

Ernie, die Australiër, het vir die Franse Nuusagentskap gewerk en aanvanklik, toe my Frans tot ”merci” en “non” beperk was, ook soms as nie-amptelike tolk opgetree. Hy was ‘n gespanne en eensame persoon met min goeie vriende.

Kersdag 1964 het ons besluit om hom uit te nooi om die dag saam met ons deur te bring. Vir ons as Suid-Afrikaners was die insluiting van ‘n vreemdeling ‘n alledaagse gebeurtenis. Maar in Europa gebeur dit nie so maklik nie. ‘n Vreemdeling bly dikwels ‘n vreemdeling, en dit is heel selde, veral in ‘n land soos Frankryk, dat ‘n vreemdeling toegang verkry tot die private lewe van mense. Mense sal mekaar oor en weer in restaurante onthaal en met mekaar gesels en skerts, maar dit is werklik die uitsondering wanneer die private voordeur vir ‘n vreemdeling oopgemaak word.

Dié ervaring het die Australiese kollega nie maklik vergeet nie. Hy was weer ná twintig jaar deel van ‘n gesin, al was dit maar enkele kortsondige ure. Hy het dikwels daarna van dié oomblikke gepraat en ‘n mens het besef dat die samesyn van ‘n gesin en die gewyde stemming waarmee ons Kersfees bejeën, en wat ons as vanselfsprekend aanneem, eintlik maar die voorreg van min sterflinge is.

Dit is iets wat ons altyd gerus in ag kan neem. Ons leef in ‘n gelukkige land en die naderende Kersfees, met al die genot, aangename weersiens, welwillendheid en wellewendheid word ook as vanselfsprekend aangeneem. Maar dink tog ‘n oomblik na oor hoeveel mense ter wêreld dié voorregte nie beskore is nie. Vir hulle is Kersfees maar nog ‘n eensame dag, sonder verrukking, sonder die genot om gesellig saam met jou gesin en jou familie en vriende te verkeer.

Die laaste keer toe ek van Ernie gehoor het, het hy op ‘n Griekse eiland van tuberkulose herstel. Ná daardie Kersdag het hy dikwels met ons oor son en saffier gesels want moontlik het ons gesinnetjie hom ná maande van winter-verbleiking in Parys nog steeds aan die suidelike halfrond herinner.

Twintig jaar tevore het hy een nag sy ouerwoning verlaat. Hy het my nooit meegedeel hoekom nie en ek het hom nooit gevra nie. Al wat hy my in Parys meegedeel het, is dat hy ‘n paar maande tevore vir die eerste keer sedert daardie nag aan sy gryse vader geskryf het net om te verneem dat sy moeder intussen oorlede is. Die verwydering wat twintig jaar gelede op ‘n uitbarsting en vervreemding uitgeloop het, sou nooit volkome herstel kon word nie.

Tog het Ernie ‘n heimlike begeerte gehad om te presteer. Hy wou, so veronderstel ek, tog eendag na Australië as ‘n vermoënde man, as iemand wat gepresteer het, terugkeer. Hoewel hy elke oomblik na Australië – en sy huisgenote – verlang het, was hy nie bereid om aan sy vader te erken dat hy ‘n sukkelbestaan voer en ‘n eensame man in die wêreldstad Parys is nie. Die vonkeling van dié stad het hom nie omgewe nie.

Toe het hy begin skryf. Enstig begin skryf. Aan ‘n treffer. Hy het ‘n elektriese tikmasjien gehad wat ‘n kollegadie hele pad van Engeland af agter op ‘n bromponie aangekarwei het, sy spaargeldjies getel en uit sy werk bedank.

Hy het dag en nag gewerk. Ons het hom dikwels weke lank nie gesien nie. Net by koerantkollegas gehoor hy tik en werskaf van vroegdag tot laatnag.

Toe ek ‘n tyd daarna na Londen verhuis, was die “boek” nog nie gereed nie. Ek het Ernie gaan groet en hy het groot vergesigte gehad. Die boek sou ‘n groot treffer wees en hy sou MGM persoonlik oor die rolprentverwerking adviseer.

Ernie het daarna net een keer van hom laat hoor. Hy het in Griekeland broodsgebrek gely. Die son en saffier van die suidelike halfrond het hom uiteindelik na ‘n Griekse eiland gelok. Die “boek” was nie die sukses wat hy beoog het nie en hy moes van vooraf begin. Toe het hy tuberkulose opgedoen en die geld het opgeraak. Maar hy het nie ‘n adres verstrek nie. Ek het navraag gedoen want ek het gedink dat ‘n paar rand hom moontlik te pas sou kom, maar kon hom nie opspoor nie.

My gesonde oordeel wil vir my sê dat Ernie nie meer saam met ons is nie: maar tog hoop ek dat ek eendag verras sal word deur ‘n aankondiging oor sy groot “treffer”. Afgesien van alles het Ernie my geleer om die vanselfsprekende te waardeer en dankbaar te wees vir die voorregte wat ons so maklik vir regte aansien.