Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.9.24

My dwaling met Wonder Woman

PIETER ROOTMAN skryf: IN die bietjie meer as twee jaar wat ek by die middagkoerant, Hoofstad, gewerk het, het dit letterlik krioel van die skrywers daar. En nie sommerso skrywers nie. Bekroonde skrywers en liedjieskrywers wie se name voortleef in die volksmond. PG du Plessis is redakteur. Adriaan (Attie) Snyman werk deeltyds as taal- en bladversorger (sub) van die sportblad, Koos du Plessis werk vir ʼn wyle as taal-en bladversorger van die nuusblaaie en Jeanne Goosen is die baas van die vroueblad.

19.9.24

Met ʼn pak Vaderlande op my rug – 47 jaar gelede

HEINRICH SCHULZE skryf: BELOFTES maak skuld. Karin Pretorius het my reeds knap ná die Covid-19-pandemie aangepor/aangespreek om iets oor my dae as “Perskorwerknemer” vir K’rant te skryf.

Vandag poog ek om my skuld te vereffen.

Ek was in 1977 ʼn Perskorwerknemer. Alhoewel nie een van julle my geken het nie, het ek julle en die Perskorkoerante goed geken.

14.9.24

Oudredakteur van Tempo oorlede

JOE VAN BUUREN skryf: ALWYN STRYDOM, destyds lid van Die Transvaler se redaksie, is Woensdag 11 September, op Willowmore in die Oos-Kaap dood. Hy was 72.

Wyn sal veral onthou word vir sy gemoedelikheid en voorliefde vir ʼn lekker partytjie, waar hy en André Pienaar, ook reeds saliger, hulle kollegas met hul uitbundige ghitaarspel vermaak het.

9.9.24

Die Transvaler gedigitaliseer

11 November 1974
Is jy ‘n voormalige verslaggewer van Die Transvaler wat al gewens het jy kan weer jou berigte van destyds lees. Dis nou moontlik.

Klik op https://gpa.eastview.com/dtsa/. Sleutel jou naam of enige ander woord tussen aanhalingstekens in en siedaar, daar’s almal.

Op hierdie webwerf is al Die Transvalers van 1938 tot 1987 volledig gedigitaliseer.  Volgens die webwerf is daar altesame 14 988 eksemplare van die koerant, bestaande uit 310 135 bladsye.

As voorbeeld kan genoem word dat 477 berigte onder die naam Gerhard Burger gevind is.

13.8.24

Essie: "Daar was nooit nukke of buie of ego nie"

PEET VAN STADEN skryf: LAG was maklik … of Essie Esterhuizen in die kantoor, die persbank of op die hoë stoeltjie langsaan in Vegkop was.

Maar dis nou moeilik om oor hom skryf, want Essie was ʼn merkwaardige mens, ingewikkeld in sy oënskynlike eenvoud. Daar was nooit nukke of buie of ego nie. As sportskrywer was hy geen grap nie. Hy was in werklikheid een van die spesiale sportskrywers – en ménse onder hulle – in wat toenemend lyk na die laaste betekenisvolle halfeeu van Afrikaanse sportskrywers.

 Johan Esterhuizen is Dinsdag, 6 Augustus op Ballito dood ná ‘n kort siekbed, soos syverwant Emile Smith in K’rant geskryf het. Hy het die vorige dag 76 geword. Eers washy tennisskrywer by Hoofstad en Die Transvaler, en het daarna veral as krieketskrywer by The Citizen en Rapport naam gemaak. Hy was sportredakteur van The Citizen, en het ook uitvoerig oor boks en rugby geskryf.

7.8.24

Vermaarde krieketskrywer oorlede

PHILIP DEETLEFS laat weet dat Johan (Essie) Esterhuizen, vermaarde krieketskrywer van Hoofstad, Die Transvaler, The Citizen en Rapport, vanoggend oorlede is.

Essie
Hy was eweneens ʼn gerekende rugby- en boksskrywer.

EMILE SMITH EN FAMILIE skryf: Oom Johan (Essie) is Sondag, 28 Julie 2024, in Netcare Balitto opgeneem met ʼn bloeiende maagseer wat gebars het. Hy is daarna vir ʼn noodoperasie teater toe gevat. Hulle het toe hulle skoonmaak bevestig dat hy maagkanker het. Hy is uit die teater na die waakeenheid oorgeplaas, waar hy op ʼn ventilator was. Oom Johan het gister, Sondag 5 Augustus, verjaar en is dus die volgende dag op 76 oorlede. Sy organe het baie swaar getrek en sy hart het vanoggend gaan staan. 

Sy suster Joey se dogter Rika en háár dogter was by hom en hy was nie alleen nie. Die res van die familie moes terugkeer Vrystaat toe omdat hulle Maandag weer moes werk. 

  • Emile is ʼn kleinseun van Rika. -- Red.

2.8.24

GPS kelder langpad-sending

KARIN PRETORIUS skryf: DIS nou ‘n verrassing om te hoor dat my bywoning uit die Kaap van die Perskor-reünie op 19 Mei 2024 in Johannesburg die verste is wat nog vir die byeenkoms gereis is, behalwe vir Joe Venter van Bloemfontein af.

Met my vlug na Johannesburg was ek op ‘n ernstige sending, want daar was twee dinge wat ek graag aan redakteur Harald Pakendorf wou sê: ons het mekaar in 1981 – 43 jaar gelede – laas gesien en dit was met die ‘wêreldscoop’wat ek aan Die Vaderland besorg het met ‘n groot storie uit die Rhodesiese bosoorlog van daardie jare.

12.7.24

Uitweg uit Unisa-doodloopstraat

KARIN PRETORIUS skryf: EK skryf met betrekking tot Andries Burger se navraag op K’rant en die redakteur se opmerking.

Ek het die voorreg gehad om As Burger in 1972 te ontmoet toe hy by ons op die plaas naby Swartruggens kom kuier het. Dit was tydens die Vonsteen-verhoor en my man, Kas van den Bergh, was besig om ʼn boek daaroor te skryf. Hy het adv. Burger oorgenooi om gedagtes met hom oor die verhoor te wissel. 

3.7.24

Hulp met berigte oor adv. As Burger gevra

ANDRIES BURGER, seun van advokaat As Burger skryf: my pa is dié week oorlede.  Hy sou volgende maand 85 gewees het. Ek probeer ou koerantberigte oor hom kry en vra hulp.

Ek weet daar was destyds berigte oor van die hofsake waarin hy opgetree het, soos die Frans Vonsteen-verhoor in 1972.  Daar was ook berigte/artikels oor die moderne vyfkamp waarin hy 'n Springbok was.  

Ek sukkel om iets te vind, veral omdat ek in Melbourne, Australia woon. Het u dalk toegang tot argiewe of hulp hiermee? Hierby is 'n skets van Len Lindeque wat na an my pa se hart was.  Dit het op 16 Maart 1969 in Dagbreek verskyn.

27.6.24

Rapport maak wéér (vir oulaas) opslae

‘n Aankondiging is vroeër vandeesmaand met groot verbasing bekend gemaak dat onder meer Rapport gaan sluit.  Net so was dit  in 1970  ‘n groot verrassing toe aankondig is  dat die destydse Dagbreek en Die Beeld  (nie Beeld nie) gaan amalgameer om Rapport te word.

JOHAN VOSLOO, tóé nog sportverslaggewer by Dagbreek het in Hanekraai, personeelblad van die Afrikaanse Pers Beperk (APB), vertel van sy ervarings toe hy en sy kollegas op 29 Oktober 1970 gehoor het van dié samesmelting.  Dit is later in K’rant opgeneem.  Klik HIER om sy storie te lees.

7.5.24

Leefbaarder wêreld: net met ʼn glimlag, Pappie!

PEET VAN STADEN skryf: Vir my was hy die een wat altyd geglimlag het. Nooit nukkerig nie, nooit dikmond nie. Gegewe my herinneringe aan die klimaat in Perskor se koerantkantore diep in die jare sewentig was Dirk Benadé se temperament merkwaardig, eintlik uniek. 

Perdewedrenskrywers, soos rugbyskrywers, was altyd maar ʼn eie klomp. Hulle was deel van sportredaksies, selfs oudsportredakteurs soos Wolfie Wolfaardt en Roelf Theunissen. Ons ander het dikwels bespiegel oor hoeveel van die sport daar sou oorbly as weddenskappe by perdebyeenkomste weggevat word. Maar soos met verdedigingsobligasies destyds het fiskale oorwegings die moreles getroef. 

Die renskrywers self het oor die debat getree. By die jaarvergadering van die Randse Sportskrywersvereniging het een van hulle kort-kort ʼn perd as een van die Sportsterre van die Jaar benoem. Francois Wolfaardt het selfs een keer sy voorstel – dalk nog vir Principal Boy – met ʼn troefkaart afgesluit: “Boonop, Meneer die Voorsitter, is hierdie perd ʼn dêm goeie Nasionalis!” 

6.5.24

Groot Dirk was enig in sy soort

JAN VAN VUUREN skryf: Dirk Benadé, perderedakteur van Die Transvaler in die 1970's en 1980's, is Vrydagaand, 3 Mei 2024, oorlede. Hy was 77 jaar oud. Dirk was in die Garden City-kliniek, Johannesburg om vergroeisels te laat verwyder. Komplikasies het ingetree en het tot sy dood gelei.

Dirk was 'n uiters begaafde sportman wat van jongs af groot potensiaal in rugby en atletiek getoon het. Hy was in standerd 9 toe hy in 1964 vir Die Fakkel Hoërskool, Johannesburg in die Administrateursbeker-eindstryd op Potchefstroom teen Lichtenburg gespeel het. Ongelukkig vir hom, het Die Fakkel met 11-16 verloor.

22.4.24

REÜNIE, 2024: GEBORG DEUR DAGBREEKTRUST

Dis weer tyd vir lekker kuier by ons volgende reünie van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers  (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Die reëlingskomitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om vanjaar weer ‘n funksie by dieselfde restourant – die Irish Rock -  te hou. 

Die saamtrek vind op Sondag 19 Mei 2024 plaas. Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11:30 af en kuier eers lekker saam. Daar is ‘n kontantkroeg.

21.4.24

Koerantman Frikke leer TV ‘n ding of twee

PEET VAN STADEN skryf: FRIKKIE VAN DER WALT, eens onder meer nagredakteur van Die Transvaler, is Maandag, 8 April ná ʼn tweede ernstige siekbed op 80 oorlede. Hy het sy lang en kleurryke loopbaan by Perskor opgevolg met ʼn nog langer en ewe merkwaardige skof by die TV-nuusredaksie van die SAUK.  Hy laat sy vrou, Susan, en twee kinders agter.

Hy het laat in die jare 1960 by Die Vaderland begin waar hy hom as misdaadverslaggewer onderskei het en lewenslank geesdriftig vertel het van die karakters en ervarings wat hy in daardie wêreld beleef het.  Daarna het hy na Die Transvaler se redaksie verskuif waar hy later nagredakteur was tydens die groot tweestryd met Beeld.

18.4.24

Elise herstel na ernstige terugslag

PEET VAN STADEN skryf: ELISE VAN STADEN herstel tuis in Randburg ná ‘n ernstige terugslag. Die voormalige vroueredaktrise van Die Vaderland en later akademikus het in Desember uit die bloute ernstige longontsteking gekry waarna sy drie weke in ʼn koma en altesaam vyf weke in die waakeenheid was. 

Dr Elise van Staden

Sy was teen die derde week van Januarie 2024 terug by die huis. Al was sy baie verswak, het sy geen blywende skade opgedoen nie. Haar herstel vorder so goed dat sy sonder hulp stap en baie van haar vorige pligte uitvoer. 

Elise het in Desember 1969 by die vroueredaksie van Die Vaderland begin, gesub en algemene verslaggewing gedoen. Sy het ook by Hoofstad gewerk en vroueredaktrise by Die Vaderland geword voordat sy Sarie toe is. Sy het tussenin kinders grootgemaak, skoolgehou en uiteindelik by die Randse Afrikaanse Universiteit gedoseer.

11.4.24

Koos Doep se kronkelpad* koerante toe

PEET VAN STADEN SKRYF:  DIE joernalistiek skep maar met ’n growwe sif uit die ervarings wat hy aanbied: altyd laat hy gedenkwaardige geleenthede deur weens werk, oordeel, selfs luiheid. By my hope kostelikes is ek armer omdat ek nooit in die Concorde gevlieg of Frank Sinatra by Sun City gesien of die toetsuur beleef het met Graeme Pollock en Barry Richards se vennootskap teen Australië nie.

Of een van Koos du Plessis se sangaande nie. Die ergste is ek het nooit rerig daarvan geweet nie totdat Leendert Pieterse jare later vertel en ek nou die dag terloops toe ek Wim van der Berg se K’rantvertelling daaroor raakgelees het.

En tog ken ons mekaar -- meer bepaald ken ek hóm -- lank voordat enige van ons twee joernaliste geword het. Wat my laat dink dat ek miskien my bietjie moet vertel van hoe hy in die koerantwese beland het.

22.2.24

Waar is Tom se rubriek?

Tom Buys
Arica van der Westhuizen skryf: Ek is besig met navorsing oor my oorlede pa, Tom Buys.

Hy en Len Lindeque het destyds ‘n "rubriek" saam hanteer, genaamd “Só is Hulle".  Ek is nie seker of dit in Die Vaderland of Perskorhaan gepubliseer was nie.  Ek is opsoek na daardie material --  my pa se artikels en Len se sketse.

 Weet iemand dalk waar ek dit kan kry, veral die artikels wat my pa geskryf het.

(Tom was hoofsub en nuusredakteur van Die Vaderland in die vroeë  sewentigs. Is daar iemand wat weet of daar 'n argief is waar ou eksemplare van Die Vaderland, Die Transvaler en ander Perskorpublikasies geberg word?  K'rant het al heelwat navrae hieroor gehad.--Red.)

10.2.24

Lucia (Van den Bergh) Prinsloo oorlede

LUCIA (VAN DEN BERGH) PRINSLOO, voormalige verslaggewer by Hoofstad is Dinsdag, 6 Februarie 2024,  in die St George's-hospitaal, Port Elizabeth oorlede.

Sy was 67. Sy ek haar tandartsman, Dappie, het in Jeffreysbaai gewoon.

Lucia het meer as jaar terug 'n nieroorplanting gehad.  Haar broer, Van Rooy van den Bergh, was die skenker. 

'n Vorige berig oor Lucia is HIER

11.1.24

‘Afrikaanse Alistair MacLean’ oorlede

PAUL C. VENTER skryf: DIE skrywer Calvyn van Niekerk is op 8 Januarie 2024 aan nierversaking oorlede. Ons innige simpatie met sy weduwee en familie. 

In sy laaste jare het Calvyn stil in Durban gewoon, die stad waar hy in die sewentigs as tydskrifjoernalis sowel as skrywer van stringe avontuurboeke en ʼn horde fotoboekies vir Republikeinse Pers gewerk het. Toe was hy die man na wie jonges soos ek geluister het.  

19.12.23

Die Joodse Kersboom

HANLIE VORNBERG skryf:  Nou, terwyl ek die storie skryf, besef ek eers hoe besonder aktueel die tema op die oomblik is met al die probleme daar is Israel. 

Soos bekend, was daar 'n tyd hier in Europa waar mense van Joodse afkoms harde bene gekou het. Trouens, deur 'n Semitiese familielid êrens in die geslagregister te hê, kon die doodvonnis beteken.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die Jode wat hier oorgebly het, óf Israel toe geëmigreer, of hulle bes gedoen om so gou soos moontlik by die res van die bevolking in te skakel. Talle was selfs bereid om hulle geloof prys te gee en hulle as Katolieke of Protestante te laat doop