Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.6.13

Vertroue sleutel tot Roelf se sukses

HERMAN LE ROUX skryf: Die gerespekteerde rugbyskrywer wat die laaste paar dekades van sy joernalistieke loopbaan gesaghebbend oor renperde kon skryf.

Só onthou ek Roelf Theunissen, voormalige sportredakteur van Die Volksblad wat ’n draai by Perskor gemaak het en as wedrenredakteur van Beeld op die Vaal-renbaan gesterf het.

Roelf Theunissen
Roelf was my eerste leermeester in die sportjoernalistiek. Toe ek vroeg in 1956 in Die Volksblad se sportredaksie ingespan is, was hy die sportredakteur.

Hy het later daardie jaar saam met die Springbokke in Australasië getoer en ek is toe heel vroeg by die diepkant ingegooi. Ek moes onder meer gaan verslag doen van die Curriebeker-eindstryd tussen Noord-Transvaal en Natal in Durban.

Daar het my paadjie die eerste keer gekruis met die Perskor-manne Hoffie de Beer, Burger Botha en Fritz Ferreira.

Roelf het my geleer hoe belangrik dit is om die vertroue te wen van sportadministrateurs met wie jy vir jare moet saamwerk; mense wat jou taak makliker kan maak en jou groot scoops kan besorg.

Dit is nie meer ’n geheim nie dat die sleutel van Posbus 15, Bloemfontein -- dié van die Vrystaatse Rugbyunie -- meer in Roelf Theunisen se baadjiesak was as by die tuiste van mnr. Japie Theron, sekretaris van die rugbyunie.

Mnr. Theron was hoof van ‘n laerskool in Noordhoek en dit was vir hom nie maklik om die rugbyunie se posbus “skoon te hou nie.”

Roelf het dit met groot plesier vir hom gedoen en die kans gekry om die omsendbriewe van die SA Rugbyraad te lees nog voordat die Vrystaat se rugbybase dit onder oë gekry het.

Wanneer dit “komkommertyd” by die koerant was – ja, daardie jare het sulke stil tye opgelewer – het Roelf met ‘n vonkel in sy oog uit die kantoor gestap. Ons het dan geweet hy is op pad poskantoor toe en hy kan met ‘n groot storie terugkeer.

Maar Roelf het sy inligting met groot omsigtigheid eers met mnr. Theron bespreek voordat hy sy stories geskryf het. Op dié wyse het groot rugbystories verskeie kere hul oorsprong in die Vrystaat gehad, en die voorste rugbyskrywers van die ander provinsies kon dit nie glo dat hulle deur Die Volksblad gescoop is nie.

Roelf Theunissen en Herman le Roux
Dit was my voorreg om in 1965 saam met Roelf vir Nasionale Pers se koerant verslag te doen van die toer van Dawie de Villiers se Springbokke in Australasië.

Roelf was as joernalis baie daarop gesteld dat sy feite onberispelik korrek moet wees. In Dunedin wou hy ‘n artikel met ‘n aanhaling uit Shakespeare afskop, maar hy was nie seker of dit uit Hamlet of Macbeth kom nie. Niemand om hom het geweet nie en hy het in die middernagtelike ure die bibliotekaris van Dunedin opgespoor wat hom kon help!

Roelf, ‘n boorling van Wesselsbron in die Vrystaat, het van 1943 tot 1945 aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer. Hy het as slot vir die Universiteit en later Collegians uitgedraf.

In 1946 het hy sy joernalistieke loopbaan onder dr. H.F. Verwoerd by Die Transvaler begin, maar ná ’n paar maande het ‘n vakature by Die Volksblad ontstaan en Roelf het die kans gegryp om terug te keer Bloemfontein toe.

Hy het net voor die toer van die All Blacks in 1949 Hennie (Pote) Gerber as sportredakteur opgevolg. Tien jaar later, in 1959, het ek die sportredakteurskap van Roelf oorgeneem. Groener weivelde het hom na Johannesburg gelok, waar hy by die Sondagkoerante Dagbreek en Sondagnuus, Die Beeld en Rapport gewerk het voordat hy Beeld se wedrenredakteur geword het.

Toe Roelf op 27 Mei 1981 op 56-jarige ouderdom op die Vaal-renbaan naby Vereeniging weens bloeding op sy brein gesterf het, was dit nie vir hom beskore om te sien hoe Dry Country in die vierde wedren sy eerste oorwinning in 29 wedrenne behaal nie.

Dry Country was Roelf se laaste “vuurwarm-wenk” vir Nasionale Pers se koerante.