Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.6.13

Betaalstrokie laat oë water

PHILIP DEETLEFS skryf: Ai mense, my oë het sommer begin water toe ek die afskrif van die Perskor-betaalstrokie sien in Frans du Toit se vertellings (lees hier) destyds oor die tekort aan mense wat vir die koerant wil werk. R270 per maand wat na aftrekkings R188,20 geword het. Eisj …

Voor ek in Januarie/Februarie 1973 by Die Transvaler begin werk het,
het ek drie maande lank in ‘n gietery op Vereeniging skofte gewerk tot ek “’n regte
werk” sou kry. My werksure was van 7 in die oggend tot 5 in die middag, maar ons het die keuse gehad om elke dag twee uur oortyd te werk tot 7 in die aand. Saterdae en Sondae kon ons vrywillig dieselfde ure werk.

Ek het in daardie drie maande op betaaldag nie een maand minder as R2 000 in my sak gesteek nie. Dit was ‘n reuse-salaris in enigiemand se boeke en ek wonder of mnr Carel Nöffke, toe redakteur van Die Transvaler, toe veel meer verdien het?

Nietemin, 'n mens kan ook nie net vir geld werk nie en ek was oorstelp van vreugde en trots toe ek hoor ek het suksesvol aansoek gedoen om werk by Die Transvaler. (Na ek vandag die storie van Frans du Toit gelees het, dink ek nie meer ek was so oulik om die werk te gekry het nie.)

Die groot verskil tussen die Vereeniging-werk en die Perskor-werk was dat ek nie meer sommer net lekker gemaklik in ‘n oorpak kon gaan werk nie en dan ook die salaris. My aanvangsalaris by Perskor was R180 per maand wat ná aftrekkings verminder het tot bietjie minder as R140 per maand.

Ek en (DT fotograaf) Mac van der Walt het in ‘n stadium ‘n geenslaapkamer-woonstel in Braamfontein gedeel. Die maandelikse huur was R19 en die water-en-ligterekening was altyd minder as R1. Die maand wat dit iets soos R1.02 was, onthou ek, het ek en Mac hard met mekaar gepraat om nie water en krag onnodig te mors nie, want ons kon sulke hoë rekenings eenvoudig nie bekostig nie.

Later was die salarisse dienooreenkomstig ewe karig, maar ons het die beste van ‘n uitdagende sakie gemaak. In ‘n stadium wou ek graag ‘n groter bed gehad het, maar kon nie bekostig om een te koop nie. Het toe vier planke persent gekry en Frikkie van der Walt het my gehelp om ‘n bed te bou waarop ek tot onlangs toe nog elke nag geslaap het.

Ten slotte sal ek darem byvoeg dat ons destyds op ons karige inkomstes steeds soos wafferse konings geleef het.