Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.6.13

Stokou kerkie op ons perseel in Doornfontein

Neffens die nuutste koerantgebou in die land en skuins oorkant een van die bedrywigste kroeë (Vegkop – Red.) in Johannesburg, staan die ou kerkie. Dié hout-en-sinkgeboutjie is vir Perskor se strome werkers wat hulle daagliks daar verbyhaas nie eens 'n tweede kyk werd nie, berig Perskorhaan in Februarie 1977.

Dié einste ou kerkie maak Perskor 'n unieke koerantmaatskappy. Ons is die enigste persgroep ter wêreld wat met 'n eie kerk op ons eie perseel spog.

Die kerkie gaan nou heeltemal gerestoureer word. 'n Pretoriase argitek, mnr Johan de Ridder, het reeds opdrag gekry om voort te gaan met hierdie planne.


Die kerkie in 1894
Die kerkie is boonop een van die oudste geboue in Johannesburg en dié oudste kerkgebou in die Goudstad. Dit staan reeds meer as 80 jaar.

PREDIKANT

Die oorspronklike Kerk van St Agustinus is in Heightstraat, Doornfontein gebou, waar die grys Perskorreus nou daaroor troon.

In 1894 is die gemeente se eerste predikant, eerwaarde M Baumgartner, daar aangestel. Vier jaar later is hy deur die fors domheer Harrison Thompson opgevolg.

STOUT JARE

Die Anglikaanse kerkie, toevlug van soveel gelowiges dat dit later deur 'n groter kerk vervang moes word, is, ironies genoeg, gestig in die vrolike dae van die "stout negentigerjare" van Johannesburg.

Die kerkie in 1977.  Dis toe nooit gerestoureer nie.
Die ruimhartigheid van twee manne, eerwaarde PW Tracey en mnr John Dowell Ellis, het dit moontlik gemaak om die kerkie klaar te betaal. Toe dit te klein word, is 'n nuwe gebou aan die voet van die Harrowweg-snelweg gebou.

OOSTERS

Die kerkie is in 1906 aan 'n sendingorganisasie verkoop. Doornfontein was in daardie tyd, volgens geskrifte van 1918, die Oosterse deel van Johannesburg.

Volgens 'n berig in The Star van 10 Augustus 1946 was die kerk van destyds nie net 'n plek waar 'n mens gedoop, getroud of begrawe is nie.

BASAARS

Dit was die toneel van sowel aanbidding as sosiale gebeure soos basaars en opvoerings. Jongmense is uitgery na plekke soos Witpoortjie (nou 'n groot voorstad van Roodepoort) en Krugersdorp vir pieknieks.

Die perseel vandag waar die kerkie was.
Die Perskor-gebou is links onder. Vegkop is regs.
Van die oorspronklike dakpanele van die ou kerkie pryk vandag nog in die Kerk van St Augustinus, Orange Grove en 'n huis langs die ou Pretoriapad.

STEUNPILARE

Baie van die steunpilare van ou Johannesburg was in een of ander stadium koorknape in die gemeente. Die ou rekords toon die name wat deel is van die geskiedenis van die ontwikkeling van Johannesburg -- Tracey, Ellis, Brayshaw, Lipp, Steed, Pullinger, Webb, Goldsbury, Stayt, Greathead en Tatlow.

Die ou kerkie het in die besit van Perskor gekom toe ons huidige perseel in Doornfontein jare gelede aangekoop is.

'n Paar joernaliste het vergeefs geprobeer om die gebou in die hande te kry vir die eksklusiefste persklub ter wêreld.
(Die kerkie is intussen gesloop.K'rant is naarstig op soek na ou Hanekraaie en Perskorhane om stories soos dié te laat herleef.  Die tabel onder toon wat reeds in ons besit is.  Dit sal mettertyd aan 'n instansie vir veilige bewaring geskenk word. – Red.)