as wat hy in ‘n maand verdien.
Ons vis uit wie ons weldoener is. Dis ‘n netjiese kêrel wat blykbaar besonder goed by die perdewedrenne gevaar het. Die kaarte flits oor die toonbank en groot somme geld verwissel van eienaar. Die wedder wen meer as wat hy verloor en sy stapeltjie note groei met rasse skrede. Diamond en sy makkers raak stiller. Elke nou en dan knik die man na Danie se kant toe en maak ‘n sirkelbeweging met sy hand. En die dop vloei. Danie gee die rekening aan en hy betaal uit sy hoop kontant.

As hy verloor, word die kaarte by mekaar geskraap en die volgende rondte begin. Dit lyk of hy nie omgee om groot bedrae te verloor nie.
Maar hy wen meer bondels note as wat hy verloor. Sy hoop note word al groter en Diamond en sy vriende begin twisgierig raak. Die kêrel bly gemoedelik en ontlont elke probleem deur toe te gee sodat die volgende ronde kan begin. Hoe kwater die verloorders raak en oor onbenullighede stry, hoe meer skaar ‘n paar fris Perskormanne hulle aan die wenner se kant.
Dit het al voorheen gebeur dat iemand wat gewen het, buite Vegkop aangerand en van sy wengeld beroof is. Ons was seker dat die vreemdeling nie met sy wengeld gaan wegkom nie. Hy bly egter onverstoord en dun die dobbelkringetjie stelselmatig uit. Diamond haal naderhand geld uit sy kasregister om voort te gaan en begin met ‘n kiets-of-dubbel-storie. En verloor. Intussen beduie die kêrel steeds na Danie met ‘n sirkelbeweging en die doppe vloei voort.

Diamond het halfhartig probeer keer, maar is deur die geregsdienaars aangesê om die kroeg te sluit en te gaan slaap. Die kêrel en sy taakmag is daar uit en is nooit weer gesien nie.