Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.6.13

Maer Engelse had fris Boere verleë

PIET ROODT skryf: Ek is pas by Die Transvaler aangestel toe ek gestuur word om ’n storie te gaan doen oor ’n Engelse toutrekspan wat die land kom besoek het – blykbaar die heel eerste keer.
Om die okkasie te vier, het die organiseerders wyle oom Bull Hefer gevra om ’n paar stoeiers te bring om teen die klein Engelsmannetjies te kom toutrek, sodat ons hulle kan wys ons Boere word nie sonder handskoene aangepak nie.

Bull Hefer
Die twee spanne het by die Hoërskool Helpmekaar kragte gemeet.

Daar aangekom, kon ons klompie verslaggewers nie help om te lag nie. Manne soos Tarzan Jacobs, die Wildeman van die Kalahari en ander, wie se name my ontgaan het, was in oom Bul se toutrekspan.

Die maer Engelsmanne met hulle bleek lywe en dun beentjies, het eintlik verspot gelyk teen die bruin gebrande, fris boere en ons het gesien hier is vandag ’n ding aan die kom.

Tarzan Jacobs
Ek kan nie onthou wie die stoeiers se ankerman was nie, behalwe dat hy lekker lywig was en stewig op sy voete. Om te sorg dat hulle goed geanker is, het hulle die tou so twee keer om sy maag gedraai.

Die maer mannetjies het gestewel en gespoor nader gestaan en met ’n “hup!” die tou netjies vasgevat. Toe trek hulle!

Die boere het ysterklou in die grond geslaan. Die Engelse het vasgetrap. En toe sien ons hier is wragtig vandag ’n ding aan die kom. Die Engelse weet toe al die tyd hoe om tou te trek!

As die stoeiers trek, steek die Engelse vas. En as die Boere weer probeer vasvat, trek die Engelse.

Daai dag trek hulle toe die stoeiers se ankerman se pensvelle af.

Ek het nog nooit ’n klomp groot Boere so verleë gesien soos daai dag nie.

Die Engelse het botweg geweier om aan 'n stoeiwedstryd deel te neem!