Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.6.13

Landsake g’n ligtelike kwessie

JOE VAN BUUREN skryf: Ek is in die vroeë tagtigerjare saam met ‘n groot groep mediamense op ‘n besoek aan die sogenaamde aangewese gebiede.

Soos Piet Ebersöhn verduidelik, was die aangewese gebiede ‘n strook al met die noordgrens langs waar die destydse regering om veiligheidsredes die ontvolking wou teenwerk met die instelling van
allerhande hulpmaatreëls.

Die besoek is deur die Transvaalse Lanbou-unie gereël, maar Piet, wat toe skakelman by die Suid-Afrikaanse Landbou-unie was, is gevra om gedurende die besoek na die media om te sien.

Die affêre het oor drie of vier dae gestrek en ons het in busse vanaf Messina in die ooste tot by Ellisras in die weste al met die grens langs gery en by plase, dorpe, skole ens aangedoen.

Oral waar ons aangeland het, is ons gul onthaal.

Op reis in die aangewese gebiede: wyle Etienne Kriel,
‘n onbekende gas, Piet Ebersöhn en Joe van Buuren.
Ek onthou nou nog ‘n ontbyt wat ons een oggend op ‘n plaas geniet het. Die tafels het behoorlik gekreun van die kos wat vir ons voorgesit is.

Dis veral die vleis wat my opgeval het. Vleis van alle beskrywings – bees, eland, koedoe, vlakvark, lewers, niertjies, wors, kaas en eiers op al die moontlike maniere voorberei, spek, vragte brood en rolletjies en nageregte wat in elke smaak val. Daar was ook nie ‘n tekort aan vars vrugte nie.

Nou verstaan ek hoekom ons boere so groot is. Dit lyk my daai ouens eet drie keer per dag rooivleis.

Later op ons reis het ons by die grens met Botswana stilgehou.

Ons het nog ewe rustig na Botswana gesit en kyk toe daar skielik ‘n pragtige luiperd helder oordag aan die ander kant van die grensdraad tussen die bome verskyn en doodluiters langs ons busse verbystap.

Dit het so vinnig gebeur ek glo nie enigeen het die tyd gehad om foto’s te neem van dié besonderse gebeurtenis nie.

Piet onthou Oom Fergie (Hannes Ferguson – op Afrikaans uitgespreek, gewis nie op Engels nie), wat die reis namens The Star meegemaak het.

Ons het ‘n skool met net 13 kinders besoek en oom Fergie besluit hy wil die leerlinge by die skoolbus afneem.

Toe die skoolhoof hom inlig dat die bus weg is om brandstof te laat ingooi, wou Oom Fergie weet: ”Is dit al bus wat julle het?”

Dan was daar die boer wat vertel het van die bobbejane wat die lande verniel, maar geen mens weet waar hulle vandaan kom nie.

Oom Fergie: “nou waar kóm hulle vandaan?”

By ‘n ander geleentheid het ons oornag in die Bosveldhotel, waar die gelyknamige TV-reeks destyds verfilm is.

Die hotel het gespog met ‘n warmwaterswembad en ná aandete het ek, Piet, Tok Grobler, Etienne Kriel, wat
ook reeds ter siele is, Jean Oosthuizen en ‘n paar ander ouens in die swembad onder die prop gegaan onderwyl ons oor landsake besin het.

So teen middernag se kant besluit ek ek het nou genoeg geswem en ek het gaan slaap.

Op pad na die eetsaal die volgende oggend stap ek verby die swembad en daar staan Piet en Kie, steeds in die water, steeds elk met ‘n glas in die hand.

Piet vertel graag ook van die Rand Daily Mail se man wat by die hotel agter gelaat moes word (hy het met sy eie motor saamgery) toe niemand hom kon wakker kry nadat hy die plaaslike boere raakgedrink het nie.