Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.6.13

Intervarsity – van Vegkop tot die Elgro

PIET EBERSöHN skryf: Op ’n weeksaand in Augustus 1977 het ’n klompie oud-Pukke in Vegkop gesit en lamenteer oor die Pukke se powere kans om die Kovsies se Shimlas daardie Saterdag in die jaarlikse intervarsity tussen die twee spanne te klop.

Twaalf lede van die Shimlaspan het daardie jaar vir die Vrystaat gespeel (ses van hulle was Springbokke), die sterkste Shimlaspan in die
geskiedenis, is gesê. Die Blikore was die heersende Curriebeker-kampioen en goed op pad na hul derde agtereenvolgende Curriebeker-eindstryd.

Al was daar sewe Pukke in die Wes-Transvaalse span, was dié nou nie juis ’n krag in Suid-Afrikaanse rugby nie.

Net die vorige jaar nog het die Bloemfonteiners die Pukke met 17 - 7 geklop. Die vooruitsigte vir 1977 was alles behalwe goed.

Toe merk Jan van Vuuren, wie se taak dit was om vir Die Transvaler oor die aanloop tot en die wedstryd as sodanig te berig, selfverseker op: “Hou my dop. Ek gaan die Pukke tot oorwinning skryf.”

Die opskrif van Jan se berig het gelui: “Pukke weer lam? Kovsie-gif is dodelik.”

Hy het geskryf: “’n Goeie grote het nog altyd met ‘n goeie kleintjie afgereken” en “Die Kovsies is sommer ‘n baie goeie grote. Soos dit hom betaam, behoort hy dan ook te wen. Met sy sterbelaaide span kan hy nouliks verloor.”

Die Pukke is darem nie afgeskryf nie. “Maar ‘n intervarsity is ‘n ander ding. Name tel nie. Nog minder reputasies en Springbokkleure. ‘n Gewone speler speel sy hart vir sy universiteit uit. Dit is sulke spelers wat wedstryde dan wen.”

Sy slotsom oor die Pukke: “Net ‘n spanpoging kan hulle van vernedering red. Maar dit sal ‘n bielie van ‘n spanpoging moet wees.”

Lou Henning
Daar was natuurlik oud-Kovsies ook in die redaksie en namate die wedstryd nadergekom het, het die geesdrif hoër geloop. Daar is besluit dat ‘n klompie van ons die wedstryd gaan bywoon.

Aangevuur deur ‘n oormaat valse bravade het ek selfs twee weddenskappe aangegaan dat die Puk sal wen: met wyle Lou Henning vir ‘n kas bier en met wyle Grobbies Grobler dat hy saam met my kan Potchefstroom toe ry, maar as die Kovsies verloor, stap hy terug Johannesburg toe. Nie een het gehuiwer om die weddenskap te aanvaar nie.

Dié glorieryke Wes-Transvaalse Saterdag het die afgeskrewe Pukke die magtige Shimlas met 30 – 27 geklop in wat deur sommige steeds beskou word as die heel beste intervarsity tussen dié twee spanne.

Later die aand sit ons in ‘n feestelike Elgro-hotel die oorwinning en vier (‘n bedeesde Grobbies inkluis) toe die gewese Puk-slot Lou van Wyk op ons afstap. “Toe,” wil hy weet, “waar is Jan van Vuuren nou. Ons wil met hom gesels!”

Gelukkig vir ‘n baie ingenome Jan, was hy nog by die amptelike geselligheid op Olënpark.

Die afstand tussen Johannesburg en Potch is sowat 130 km.
Grobbies het toe darem nie terug Johannesburg toe gestap nie. Ons het geskik vir ‘n kas bier.

En die Maandag het DT gejuig: ‘Vrystaat’ kry streepsuiker. Pukke sorg vir ‘n skok.

Iemand het my vertel ’n knipsel van Jan se berig is gebruik om die Pukke daardie dag aan te spoor. Toe vra ek (met David Briers se hulp) die oud-Springbokstut, Ockie Oosthuizen, wat destyds vir die Pukke uitgedraf het, daarna. Hy antwoord:

Ockie Oosthuizen
“Nee, ek kan dit nie onthou nie. Die oorsprong van die motivering en besluit dat ons daardie veelgeroemde span kon klop, het eintlik ná die 1976-intervarstity in Bloemfontein ontstaan toe ons met ’n baie jong span net-net verloor, maar eintlik die wedstryd moes gewen het.

“Ons het daardie aand in ons hotel ná ’n lekker paar biere besluit dat ons alles in ons vermoë sal doen om hulle die volgende jaar op Potch te klop. Ons het so te sê ’n eed afgelê en saam besluit dat ons hulle gaan klop.

“Ons het dit letterlik ons fokus gemaak en fanaties geoefen en voorberei vir daardie wedstryd. Ons het eenvoudig in mekaar geglo, en geglo ons gaan die wedstryd wen. Daar was by ons geen twyfel dat ons sou wen nie.

“Hans van Zyl, oud-rasieleier en meesteropsweper het die Donderdagaand voor die wedstryd tydens ons ‘Groot Brag’-byeenkoms heelwaarskynlik Jan se artikel gebruik, maar die res van sy toespraak en optrede die aand, tesame met die fanatiese Puk-ondersteuners, het die grootste rol gespeel om ons optimaal te motiveer.

“Buiten dat ons geweldig gemotiveerd was, was dit ook ’n uitstekende span wat van ons onder-20-dae af saamgespeel het en bykans nooit verloor het nie. Ons het in elk geval voor daardie intervarsity-wedstryd bykans elke universteit in die land pak gegee, net nie die Maties nie, teen wie ons nie gespeel het nie.”