Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.6.13

Evert was anders

PIET ROOS skryf nav Willie Buys se storie oor Evert van Niekerk (lees hier): Ja, Evert was anders. So half nonchalant, geloop met 'n swaai in die heupe soos ek ook aangeleer het in die dae dat ek in die staalfabrieke gewerk het.

Evert het sy eie glashokkantoor neffens die nuustafel gehad. En dit was deurmekaar van papiere en foto's en knipsels.

Een middag kom hy by my staan.

"Kom saam vanaand. Ons gaan Carlton toe"

En daar is ek en Evert in die Carlton-Hotel. Dit was lekker. Eet- en drinkgoed in die ryk, rooierige onthaalsaal. En ek hoef niks te doen nie. Evert het geluister en gepraat. Ek het net geëet en geproe.

Toe kom die meisie van B&O, (Bang en Olufsen) die klankmanne met boks aan en ek kry ook 'n goue Cross-pen met klein rooi B&O naampie op. Ek het dit nou nog.

'n Ander middag kom Evert weer by my staan.

"Hier, jy kry niks hier nie. Gaan vat 'n spin en bring hom more heel terug."

Dit was 'n bloedrooi Cortina Big Six, perfek "getune" en so warm soos 'n kat op 'n stoofplaat.

Lig 'n glasie, Evert. Dit was baie lekker en ek kan dit nooit vergeet nie!