Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.6.13

Kerk en kroeg in bisarre scenario

Willie Buys skryf: Die berig oor die ou kerkie het 'n paar herinneringe by my losgemaak want ek het self heelwat met die eens heilige geboutjie te doen gehad. Eerstens het dit my laat dink aan die lekker ou saamsingliedjie uit my lank vergange rugbydae "die kerk en die bar is langs mekaar" wat ons uit volle meestal beskonke bors gepleeg het nadat die robuuste dinge van die dag op die velde gepleeg is.

Die kerk en die kroeg was darem nou nie presies langs mekaar nie, maar skuins oorkant mekaar. Dit was dan ook 'n ietwat van 'n bisarre scenario. Aan die een kant was die kerk waar die mense wat die smalle, Christelike weg bewandel saamgetrek het vir godsdiensbeoefening. Oorkant die straat was daar elke weeksdag 'n dronke geroesemoes waar gevloek, geskel en soms tot ten bloede toe baklei is. En, durf ek dit sê, waar die opdrifsels van die lewe saamgespoel het - ook meisies van die nag wat menige ou dronkie van sy weekloon verlos het met die belofte van intieme vleeslike kontak. En die Perskorjoernliste wat dit in hul Vegkopwatergat verander het, het verdere kleur aan dié vorige eeuse effe onimposante geboutjie verleen.

Die kerkgebou is aan die einde van sy leeftyd ingerig as een van die eerste Afrikaanse joernalisteskole in die land. Die stigtersprinsipaal was die wyd bekende oom Hermie Hendriks wat 'n 'n paar puik kadette vir die Perskorkoerante gelewer het. Ná hom was daar oom At de Beer, self op sy dag 'n bedrewe witoog van die Pers. Ek self het in dié tydperk oorhoofste toesig gehad oor die skool as deel van my pligte.

Wat ek eintlik wil sê is dat die kerkie ook heel onskuldig sy deel van omstredenheid gehad het. 'n Paar maal is probeer om dit in 'n soort van onthaalplek vir al Perskor se belangrike kliënte, gaste en direksielede (waaronder kabinetsministers) te omskep. Dit het egter elke keer ontspoor, partykeer om sinistere redes, waarop ek nie nou sal ingaan nie.

Die kerkie se uiteindelike lot was 'n platgeslane hoop sement, bakstene en hout. Saam op daardie hoop het baie mense se diverse drome en ideale beland.