Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.7.19

John du Toit oorlede op 94

John du Toit in
sy koerantdae.
JOHN DU TOIT, voormalige sportredakteur van Die Transvaler, is Maandagaand (8 Julie 2019) in die ouderdom van 94 jaar oorlede, het Gerhard Burger laat weet. Hy het longonsteking gehad.

John se begrafnis is Vrydagoggend (12 Julie 2019) om 11:00 by die Misty River-oord in Eikenhof.  Dis sowat 20km suid van Johannesburg.

'n Artikel oor John, geskryf deur Herman le Roux, gewese sport- redakteur van Die Volksblad en Beeld het ses jaar gelede in K'rant verskyn. Daarin skryf hy dat dié voormalige Transvaalse en Noord-Transvaalse agtsteman ’n minsame kêrel met ’n sagte hart was. Lees dit HIER.

21.6.19

Twee kollegas groet

PIET EBERSÖHN het laat weet dat Johan Kloppers wat in die jare sewentig by Die Transvaler gewerk het, onlangs oorlede is. Hy was 72 jaar oud. Sy gedenkdiens is op 30 Mei gehou.
Jan Botha

Dan het Jan Botha, destyds die fabrieksbestuurder in Pretoria-Wes, einde April vanjaar aan kanker gesterf. Hy was 80 jaar oud.

Jan was ‘n legende in amateurboks en het verskeie SA kampioene by die Phoenix-boksklub afgerig. Sy seun Francois was die IBF en die WBF swaargewigkampioen.

6.5.19

Hillbrow aan ons voete – dekades gelede!

KARIN PRETORIUS skryf: My kollegas Maureen Swart -- met haar puik navorsing oor Hillbrow -- en Gert Van Rooyen se herinneringe aan "die plek van die duiwel", het my met nostalgie vervul en my geheue het teruggebons vanaf Kaapstad oor die Karoovlaktes, tot binne my piepklein woonstelletjie in Smitstraat 32 in Hillbrow.

Dit was my blyplek toe ek in Januarie 1970 by Die Transvaler aangesluit het, met ‘n fris opdraande stappie na die koerant in Braamfontein, huurgeld van R29 en salaris R180 per maand!

1.3.19

'n Nagmerrie-vlug

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: In sy storie, Pretoria se Viole Galm in Kimberley, verwys Piet Ebersöhn na die SAL.

Frans du Toit
Dit het my laat dink aan die dag toe ek en 'n fotograaf na die Lughawe Jan Smuts (soos dit nog in die vroeë sewentigs bekend gestaan het) moes uitpiekel vir 'n foto van 'n groep nuwe SAL-waardinne, wat dié dag hul vlerkies sou ontvang.

Frans du Toit het die foto één fronsende kyk gegee en gesê: "Hulle sal van vlieg 'n nagmerrie maak."

18.2.19

Joviale Phil, die ‘ou’ wat in "HD" kon skryf

 JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Die oorlye van Phil Zaayman het ‘n paar gawe herinneringe laat opdoem van hierdie goed-gepekelde sportskrywer wat nou nie meer met ons is nie.

Die man wie se ‘byline’ boaan sportberigte so deel was van rugby, boks en ander sportsoorte, soos die spelers sélf.

Min skryfvaardiges kon ‘n Springbok-sege of Curriebekereindstryd so passievol en kleurvol met woorde skilder soos Phil Zaayman. Sy superhelder manier om met woorde te skilder was ‘n soort vroeë voorloper van die ‘HD’-televisie.

16.2.19

Voorbladnuus: geen krag vir 35 minute

Voorblad van Die Transvaler, Oktober 1947.
Bron: HIER.

12.2.19

Sportredakteur Phil Zaayman oorlede

PHIL ZAAYMAN, ʼn voormalige sportredakteur van Rapport, is Maandagoggend vroeg op Hermanus oorlede. Hy was 78 jaar oud.

As rugby- en boksskrywer was Phil een van die bekendste sportjoernaliste in Suid-Afrika. Hy was die afgelope maande siek en is in ʼn sorgeenheid naby hul huis oorlede. Hy laat sy vrou, Louise, en twee kinders, Phil Jr en Liezel, na. Die foto’s hieronder van Phil het ons op Facebook raakgeloop wat Wessel Oosthuizen geplaas het. Hy het menige keer Phil op sportbyeenkomste as fotograaf vergesel.

Fotograaf Dougie Lee oorlede

DOUGIE LEE, die bekende fotograaf wat destyds onder meer by The Citizen en  Rapport gewerk het, is Sondag in Bela-Bela (Warmbad) oorlede. Hy het saam met sy vrou, Rona, daar gewoon. Ons het nog geen nadere besonderhede nie.

11.2.19

Verrassing die bloedbroer van skok

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: 'n K'rantstorie wat my baie lekker laat lag het, was "Philip voorspel die sterre". As hy steeds Die Sterre Voorspel geskryf het en as dié "Sterre" dálk nou die dag vir my 'n gróót verrassing "voorspel" het en ek dálk een van die diereriem‐bygelowiges was, sou ek dadelik katvoet beweeg het. Want sowaar as vet, 'n verrassing is partykeer niks anders as die bloedbroer van skok nie. Maar in dié geval? Wel, laat ek maar sê dat ek nou met 'n meer optimistiese oog na verrassings kyk.

Want nog skaars het ek Piet Ebersöhn se gesprek met Hermie Hendriks (1/3) weer gelees ‐‐ waarin Hermie onder meer oor Piet Meiring gesels ‐‐ of een van die laasgenoemde se boeke het asof met die klap van 'n vinger in my hande beland! Dit het só gebeur:

6.2.19

Reünie, 24 Maart 2019

LOUISE BLAKE skryf: Dis weer tyd vir ons jaarlikse saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Dit word deur Dagbreektrust geborg.

Die komitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Margaret Lombard en Louise Blake, het besluit om die funksie weer by dieselfde restourant as die afgelope paar jaar te hou. Die restourant het van naam verander. Dit was die Keg & Eagle en is nou die Irish Rock.

2.2.19

Christo Lemmer was ‘n Suidwester

SANTIE LEMMER het ons 'n bietjie van Christo se agtergrond vertel. Christo was 65 jaar oud toe hy verlede Saterdag oorlede is. Hy is gebore in Grootfontein, Namibië en het in 1970 aan Hoërskool Otjiwarongo gematrikuleer.

In Windhoek het hy by Die Suidwester, Die Suidwes-Afrikaner en die Windhoek Advertiser gewerk.

Hy het in Mei 1976 by Die Transvaler ingeval tot Februare 1983 toe die koerant toegemaak het. Christo het van Maart 1983 by Die Vaderland tot sy sluiting in Maart 1993 gewerk.

Ná dit was hy vir ‘n paar jaar by MultiChoice en daarna by Beeld van Januarie 1998 tot September 2003. Christo het in Februarie 2010 by The Citizen afgetree.

Hy het net een suster van sy familie wat nog leef. Christo word oorleef deur sy vrou Santie, een seun, een dogter en een kleinseun. ‘n Kleindogter is op pad.

31.1.19

Christo Lemmer na lang siekbed oorlede

CHRISTO LEMMER, bekende sportskrywer by Die Transvaler asook Die Vaderland is Saterdagoggend na ‘n lang siekbed oorlede, het Gerhard Burger laat weet.

Hy het in November verlede jaar ‘n hartaanval gehad en is Saterdag dood aan ‘n longinfeksie.

Sy vrou Santie het laat weet dat ‘n diens Vrydag om 10:00 in die NG Kerk Krugersdorp-Oos gehou sal word. Santie kan per SMS bereik word by 082 211 5250.

11.12.18

Om 'n komkommer te skil

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf:  Dis reeds weer daardie tyd van die jaar wat die komkommers volop is en die nuus skraps.

By K’rant is dit na al die jare se ywerige bydraes nou eintlik heeltyds komkommertyd. Die stories wat ons kon onthou is geskryf en die wat nog nie geskryf is nie, kan ons nie meer onthou nie?

K’rant se redaksie sal vroeg in die nuwe jaar weer gereed staan om enige storie wat by ons aanland die nodige aandag te gee. Voor dan kan ons lesers steeds stories instuur en wie weet, dalk beland die storie op die voorblad voor 2019 sy kop uitsteek!

Ons wens al ons lesers ‘n vreugdevolle Kerstyd toe en hoop almal kom veilig by hul vakansiebestemmings aan en weer tuis. Voorspoed en goeie gesondheid vir 2019 wens ons almal toe.

21.11.18

Annette Stork oorlede

Annette Stork
Gert Basson het laat weet dat die kunstenares Annette Stork -- sy was hoof van Voortrekker-uitgewers en Perskor-uitgewers se kunsafdelings -- op 17 November 2018 ná ‘n beroerte oorlede is.

Annette het verskeie suksesvolle uitstallings as kunstenaar gehad. Talle van haar omslagontwerpe het op vele gewilde skrywers se boeke gepryk.

Nadere besonderhede kan verkry word by haar seun Ira Greiff: iragreiff@gmail.com.


14.11.18

Boertjies staan tou

JOHAN ESTERHUIZEN (Essie) voorheen van Hoofstad, Die Transvaler, The Citizen, Beeld en Rapport skryf: In 1982 het ek vir Die Transvaler die eerste keer verslag oor die Wimbledonse tennistoernooi gaan doen.

Dit was my en my goeie vriend, Tobie Mostert van Die Vaderland, se eerste besoek aan Londen.

Ons het erens in 'n klein hotelletjie -- die Tivoli -- gebly, maar ek kan nie onthou waar dit was nie.

7.11.18

Neem die slange se tande af!

WELMA ODENDAAL, wat ‘n jaar lank by Hoofstad gewerk het en toe later by The Star, Cape Times en Die Suid-Afrikaan joernalis was, skryf: Onlangs is ek doenig op die internet en kom ek af op K’rant, die webwerf vir werknemers uit die ou Perskorstal.

Perskor-Uitgewery het my eerste boek ‘Getuie vir die naaktes’ in 1974 uitgegee, en op grond daarvan het die redakteur van Hoofstad (dit was Sam Lake, dink ek) my die geleentheid gegee om as leerlingjoernalis by die koerant in Pretoria te begin. Dit was kortstondig, en ek is skaars ‘n jaar later vort SAUK Radionuus toe (ook kortstondig, maar ‘n ander storie).

15.10.18

Geheimsinnig in die skeihof

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Hofstories darem! Wyle Johann Britz se vertelling van sy ervaring in die Paleis van Justisie tydens die Vontsteen‐moordverhoor, het my laat terugdink aan sommige van die dinge wat in my hofverslaggewersdae met my gebeur het. Vat nou maar die keer toe 'n geheimsinnige joernalis se pad in die Johannesburgse hooggeregshof met myne gekruis het. In die skeihof, om presies te wees.

Die jaar was 1971, en in die Johannesburgse hooggeregshof het skeisake destyds op Woensdae voorgekom. Die Vaderland het 'n bladsy daaraan afgestaan. Die hooggeregshof‐verslaggewer was Jan Hoeksema (ook al aan die ander kant) en my turf was die landdroshof. Maar dié Woensdag moes Jan 'n ander hofsaak bywoon en ek moes vir hom in die skeihof instaan. Dit sou my vuurdoop in die hooggeregshof wees.

5.10.18

Oom Hermie nog perdfris en gesond

MARGARET LOMBARD (Hans se weduwee) skryf: Frans Wessels (wyle Bienkie se seun) en ek het verlede Vrydagoggend by Hermie Hendriks in Huis Hoëveld (hene, vier hoofletter H's in 'n ry!) in Johannesburg 'n draai gaan maak.

Ons kry hom waar hy ewe gemaklik in die tuin rondloop. Sonder 'n bril en sonder 'n kierie "want netnou val ek oor die ding". Hy sê dit gaan op 93 nog goed, dis net die gehoor en die geheue wat hom in die steek laat.

Frans het sy tabletrekenaar saamgeneem en vir Hermie 'n paar K'rant-foto's gewys. Hy onthou vir Wessel Oosthuizen baie goed en vra uit oor 'n paar ander.

17.9.18

Selfsugtige minister wou in vrede vakansie hou

THIJS NEL, voormalige kunsredakteur van Die Vaderland, skryf: Die gewoel deesdae om toerisme binnelands en vanuit die buiteland te stimuleer, het iewers in die paar grys selle wat ek nog oor het, ‘n onthou-lêer nadergetrek.

Ek was gelukkig om in 1968 vir die eerste keer ‘n oorsese reis te onderneem. Ek was toe nog by Die Vaderland, maar het op die een of ander manier vir drie maande gaan vakansie hou. Eintlik om te ondersoek of ek nie dalk met ‘n sangloopbaan ‘n ander heenkome kon vind nie. Gehoorprobleme as gevolg van outo-schlerose, het egter my droom van ‘n sangloopbaan gekelder met die gevolg dat ander talente, hoofsaaklik skilder, beeldhou, pottebakkery en skryfwerk oorgeneem het.

14.9.18

Des Erasmus oorlede

Een van die groot strydrosse van die joernalistiek in Namibië is gisteroggend (Donderdag) in Swakopmund oorlede nadat hy die stryd teen kanker verloor het.

Des was ‘n legende in Namibië waar hy tot byna die laaste nog gereeld bydraes gelewer het vir Republikein waar hy dekades lank liters ink uitgeskryf het. Uit sy hand het ook ‘n aantal boeke verskyn.

Des was 81. Hy het in 1959 met sy loopbaan in die joernalistiek begin.