Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.2.19

Verrassing die bloedbroer van skok

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: 'n K'rantstorie wat my baie lekker laat lag het, was "Philip voorspel die sterre". As hy steeds Die Sterre Voorspel geskryf het en as dié "Sterre" dálk nou die dag vir my 'n gróót verrassing "voorspel" het en ek dálk een van die diereriem‐bygelowiges was, sou ek dadelik katvoet beweeg het. Want sowaar as vet, 'n verrassing is partykeer niks anders as die bloedbroer van skok nie. Maar in dié geval? Wel, laat ek maar sê dat ek nou met 'n meer optimistiese oog na verrassings kyk.

Want nog skaars het ek Piet Ebersöhn se gesprek met Hermie Hendriks (1/3) weer gelees ‐‐ waarin Hermie onder meer oor Piet Meiring gesels ‐‐ of een van die laasgenoemde se boeke het asof met die klap van 'n vinger in my hande beland! Dit het só gebeur:

Piet Meiring
My bure het die groot afskaal‐en‐weggee‐tyd voor die groot trek rusoord toe beleef en het met 'n winkelsak vol boeke by my opgedaag. Hulle het gewonder of ek die boeke dalk wou hê.

Wou hê? Liewe land, hoe kón hulle nog vrá!?

En in die sak vind ek toe dié boek, nogal 'n eerste druk (my bure is Engelssprekend, vandaar die Engelse titel): 'Kruger Park Saga' deur Piet Meiring (1907‐1996), met illustrasies deur TO Honiball (1905‐1990) en Chris Ebersohn; PMP (Piet Meiring Publikasies), 1976. (Afrikaanse weergawe: 'Die Wildtuin is hul Woning.')

Ek het Piet Meiring nooit self geken nie. Hy was vir my net 'n naam op papier, maar terwyl ek die bogenoemde boek gelees het, het hy my so beïndruk dat ek graag iets oor hom wou skryf. Soos dit maar met navorsing gaan, lei een ding mos na 'n ander en het ek sommer ook brokkies oor ander bekendes in K'rantkringe teëgekom.

Terug by die skrywer van "Kruger Park Saga": Hy was die seun van ds PGJ Meiring (1866‐1938), eertydse redakteur van Die Kerkbode. Natuurlik, toe ek dit op die Internet lees, het ek dadelik gewonder of sy (Piet Meiring) se gawe met die pen nie dalk al van ver af kom nie. Ewenwel, wat 'n interessante, opwindende lewe moes hy nie gehad het nie, te oordeel na die veelvuldige onderwerpe van sy boeke ... geskiedenis, politiek, mense, plekke!

In "Kruger Park Saga" kry 'n mens 'n kykie in sy liefde vir diere en die Krugerwildtuin, waar hy al te graag vakansie gehou het. Bedags het hy saam met die wildbewaarders veld toe gegaan, gekyk, geluister, uitgevra en bepaald inligting soos 'n spons geabsorbeer. En 'n mens sal nou dink dat hy teen sonsonder heeltemal vodde sou wees, maar watwou! Terug van die veld af, het hy steeds met wildbewaarders gesels en na hul ervaringe geluister, partykeer as 'n kuiergas in een van hulle se huis. Hy het op 'n kol selfs wildbewaarder probeer speel.
Inhoud van die "Kruger Park Saga"
Menige nag het hy saam met 'n span van die SAUK uitgegaan wanneer hulle opnames van leeus gemaak het. (Dit was nie juis moeilik om hierdie konings van die diereryk snags op te spoor nie, aangesien hulle 'n gewoonte het om onkoninklik luidrugtig te snork.)

Illustrasie van Chris Ebersohn
Gretig vir inligting en vasbeslote om dit te kry, het hy op 'n keer 1 250 km tot by die noordpunt van die wildtuin gery. Sommige van sy inligting het hy by wetenskaplikes en administrateurs van die wildtuin, asook die Parkeraad, gekry; agtergrond‐inligting wat Jan Toeris gewis nie sommer maklik self sou kon opdiep nie. Want dat Piet Meiring omtrent die hele wêreld en sy maat geken het, is nie altemit nie. Hene, "Kruger Park Saga" wemel van die name van mense wat deel van sy lewe was, hetsy as kennisse of as vriende. Hy het ook, soos ek op die stofomslag gelees het, 'n slag gehad om met mens en dier oor die weg te kom. Verder: hy het nie net een loopbaan gehad nie ‐‐ koerantman, skrywer, inligtingshoof en rolprentmaker, hy was dit alles en nog meer.

Rolprentmaker? My nuuskierigheid geprikkel, het ek op die Internet gaan kyk of ek meer oor dié nering van hom kon wys word. En ja, hierdie voormalige nuusredakteur van Die Transvaler en later Direkteur van Staatsinligting het dokumentêre films gemaak. In die proloog van een van sy vele boeke*, "Inside Information" (Timmins, 1973, bl 9), skryf hy: "This book of mine about people in high places is the fruit of nearly fifty years as a journalist, a professional propagandist and documentary film‐maker in that order." (Hoewel ek nie letterlik hierdie boek in my hande gehad nie, kon ek darem op Google die voorwoord elektronies lees.)


In die rolprentwêreld was Piet Meiring egter nie net ágter die skerms bedrewe ", die rol van 'n landdros vertolk het. Die film is op CJ Langenhoven (1873‐1932) se boek, "Donker Spore" gegrond, wat in 1926 vir die eerste keer gepubliseer is. Trouens, hy het in 1944 sy buiging as filmster gemaak toe hy in een van die vroegste Afrikaanse rolprente,"
Donker Spore nie.

Gus Cluver
Toe moes ek twee keer kyk om seker te maak dat my oë my nie bedrieg nie. Want sou ek toe nie gedoriewaar tussen die name van die akteurs in dié rolprent nóg 'n bekende naam raaksien nie?

Nie sommer enige bekende nie; toevallig juis 'n joernalis wat ook in die Piet Ebersöhn/Hermie Hendriks‐storie genoem word, die ene Gus Cluver (1910‐2001). Hy het, heel toepaslik, die rol van 'n redakteur vertolk. Boonop was hy in 1967 die skrywer en een van die komponiste van die Afrikaanse film, "In die Lente van ons Liefde".

Nie dat dit die einde van my verrassings was nie. Sien, hierdie boek is deur Koöperasiepers gedruk en gebind, en ná 'n bietjie snuffelwerk op K'rant het ek besef: My wêreld, hier is mos 'n ander K'rant‐bekende ‐‐ Schalk Swanepoel. In sy storie (27.5.14) noem hy dat hy eens 'n proefleser by Koöperasiepers was.

So het my verrassingsgeskenk toe 'n heerlike geskenk geword wat aanhou gee en verras het en my ‐‐ dikwels op kuberspore ‐‐ na die verre verlede gelei het.

* Tussen die rits boeke (nou Africana) wat Piet Mering geskryf het, was daar onder andere:

Seders van Waterkloof (1988); Brood uit die Koring ‐ Sasko se eerste halfeeu (1980) Vyftig Jaar op die Voorblad (1979); Dynamite and Daisies (1976); Ons Eerste Ses Premiers; 'n persoonlike terugblik (1972); Goud vir die Soeker (1963.)

Van die laasgenoemde is daar selfs in oorsese biblioteke kopieë ‐‐ Bayerische Staatsbibliothek, München en Zuid‐Afrikahuis, Amsterdam.

Bronne:
Wikipedia

 ("Kruger Park Saga" is ook in Afrikaans beskikbaar as "Die Wildtuin is hul Woning" -- Red.)